1 Kronieke 21

21
Opname van die weerbare manne
1 Satan het teen Israel opgestaan en Dawid opgesteek om Israel te tel. 2 Dawid sê toe vir Joab en die •aanvoerders van die manskappe: “Gaan tel die Israeliete van Berseba tot by Dan, en bring vir my die uitslag, sodat ek kan weet wat hulle getal is.”
3 Maar Joab het geantwoord: “Mag die Here by sy manskappe nog 'n honderd maal soveel byvoeg as wat hulle is! My heer die koning, is hulle nie almal my heer se onderdane nie? Waarom versoek my heer dit? Waarom moet dit vir Israel 'n skuldlas word?”
4Die koning se woord het egter meer gewig gedra as dié van Joab, en Joab het uitgegaan, deur die hele Israel getrek en weer in Jerusalem aangekom. 5 Joab het die getal van die manskappe waarvan 'n opname gemaak is, aan Dawid gegee. Die hele Israel was eenmiljoen eenhonderdduisend man, gewapen met swaarde, en Juda was vierhonderd-en-sewentigduisend man, gewapen met swaarde. 6 Van Levi en Benjamin het hy nie 'n opname gemaak saam met hulle nie, want die koning se opdrag het by Joab weersin gewek.
7 Hierdie saak was verkeerd in die oë van God, en Hy het Israel getref. 8 Toe sê Dawid vir God: “Ek het ernstig gesondig met hierdie daad wat ek gedoen het. Skeld nou asseblief die sondeskuld van u dienskneg kwyt, want ek het baie dwaas opgetree.”
9 Die Here het vir Gad, die siener van Dawid, gesê: 10“Gaan sê vir Dawid, ‘So sê die Here: “Drie moontlikhede lê Ek aan jou voor; kies vir jou een daarvan, sodat Ek dit aan jou kan doen.” ’ ”
11Toe Gad by Dawid kom, het hy vir hom gesê: “So sê die Here: ‘Kies vir jou: 12 óf drie jaar lank hongersnood, óf drie maande lank weggevoer deur jou teenstanders terwyl die swaard van jou vyande jou inhaal, óf drie dae lank die swaard van die Here en pessiekte in die land, terwyl die •engel van die Here deur die hele gebied van Israel verwoesting saai.’ Kyk dan nou watter antwoord ek moet terugneem na Hom wat my gestuur het.”
13 Toe sê Dawid vir Gad: “Ek is baie benoud. Mag ek tog in die hand van die Here val, want groot is sy ontferming. Maar mag ek nie in die hande van mense val nie.”
14 Die Here het toe 'n pessiekte in Israel beskik, en sewentigduisend man uit Israel het geval. 15 God het 'n engel na Jerusalem gestuur om dit te verwoes, maar toe hy besig was om verwoesting te saai, het die Here dit gesien, en Hy was jammer oor die ramp. Hy sê toe vir die engel, wat besig was om verwoesting te saai: “Dit is nou genoeg, trek jou hand terug!” Die engel van die Here het toe by die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, gestaan.
16 Dawid het opgekyk en die engel van die Here tussen die aarde en die hemel sien staan met sy ontblote swaard in sy hand, uitgestrek oor Jerusalem. Dawid en die oudstes het toe, bedek met rouklere, neergeval met hulle gesigte teen die grond. 17 Dawid het vir God gesê: “Is dit nie ek wat 'n telling onder die manskappe gelas het nie? Ek is die een wat gesondig het en heeltemal verkeerd opgetree het. Maar hierdie kleinvee, wat het hulle gedoen? Here my God, laat u hand asseblief teen my en my familie wees, maar nie teen u volk gerig as 'n plaag nie.”
18 Die engel van die Here het toe vir Gad gesê om vir Dawid te sê dat hy, Dawid, moet opgaan om vir die Here 'n altaar op te rig op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet. 19Dawid het toe, op grond van die woord van Gad wat hy in die Naam van die Here gespreek het, opgegaan.
20Toe Ornan omdraai, sien hy die engel. Sy vier seuns wat by hom was, het weggekruip, maar Ornan het aangehou koring dors. 21Dawid het tot by Ornan gekom, en toe Ornan goed kyk, sien hy dit is Dawid. Hy het van die dorsvloer afgekom en voor Dawid diep neergebuig met sy gesig teen die grond.
22Daarop sê Dawid vir Ornan: “Gee asseblief vir my die plek met die dorsvloer; ek wil 'n altaar vir die Here daarop bou. Teen die volle bedrag geld moet jy dit vir my gee, sodat die plaag van die manskappe afgewend kan word.” 23Ornan het Dawid geantwoord: “Neem dit vir u. My heer die koning kan daarmee doen wat goed is in u oë. Kyk, ek gee die beeste vir die •brandoffers, die dorssleë vir die hout en die koring vir die •graanoffer. Dit alles gee ek.” 24Maar koning Dawid het Ornan geantwoord: “Nee! Want ek gaan dit beslis by jou koop teen die volle bedrag geld. Ek kan immers nie iets wat aan jou behoort, vir die Here neem nie, of 'n brandoffer bring sonder uitgawes nie.”
25Dawid het Ornan seshonderd sikkel goud gegee vir die plek. 26 Toe het Dawid daar 'n altaar vir die Here gebou, en brandoffers en •maaltydoffers gebring. Hy het die Here aangeroep, en die Here het hom geantwoord met vuur uit die hemel op die brandofferaltaar. 27 Die Here het die engel opdrag gegee, en hy het sy swaard weer in sy skede teruggesit.
Voorbereidings vir die bou van die tempel
28In daardie tyd, toe Dawid sien dat die Here hom antwoord op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, het hy daar geoffer. 29 Die •tabernakel van die Here wat Moses in die woestyn gemaak het en die brandofferaltaar was in dié tyd op die •offerhoogte by Gibeon, 30 maar Dawid kon nie voor daardie altaar verskyn om God te raadpleeg nie, want vrees vir die swaard van die engel van die Here het hom oorval.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid