1 Kronieke 10

10
Saul se dood
(1 Sam 31)
1 Intussen het die Filistyne teen Israel geveg en die manne van Israel het voor die Filistyne uit gevlug; die gesneuweldes het op die berg van Gilboa gelê. 2Die Filistyne het op Saul en sy seuns se hakke gebly, en die Filistyne het Jonatan, Abinadab en Malkisua, Saul se seuns, neergevel. 3Die geveg het verhewig teen Saul, en die boogskutters het op hom afgekom. Hy het gebewe van angs vir die boogskutters. 4Saul sê toe vir sy wapendraer: “Trek jou swaard en deurboor my daarmee, anders kom hierdie onbesnedenes en martel my.” Maar sy wapendraer wou nie, want hy was angsbevange. Toe vat Saul sy swaard en val daarin. 5Toe sy wapendraer sien dat Saul dood is, val ook hy in sy swaard en sterf. 6So het Saul en sy drie seuns gesterf. Sy hele gesin het saam gesterf.
7Toe al die manne van Israel wat in die vallei was, sien dat hulle gevlug het, en dat Saul en sy seuns dood is, het hulle hulle dorpe verlaat en gevlug. Die Filistyne het toe gekom en daar gaan woon.
8Die volgende dag, toe die Filistyne kom om die gesneuweldes te plunder, kry hulle Saul en sy drie seuns waar hulle op die berg van Gilboa lê. 9Hulle het hom kaalgestroop en sy kop en sy wapens gevat. Hulle het boodskappers in die land van die Filistyne rondgestuur om die goeie nuus aan hulle afgode en die volk te bring. 10Daarna het hulle sy wapens in die tempel van hulle god neergesit, en sy kopbeen het hulle in die tempel van Dagon vasgeslaan.
11Toe almal by Jabes in Gilead alles hoor wat die Filistyne Saul aangedoen het, 12het al die bekwame manne gereedgemaak en Saul en sy seuns se lyke opgetel en hulle na Jabes geneem. Hulle het hulle beendere onder die terebintboom by Jabes begrawe en sewe dae lank gevas.
13 Saul het gesterf vanweë sy troubreuk wat hy teen die Here gepleeg het, aangesien hy die woord van die Here nie nagekom het nie, en omdat hy boonop by die gees van 'n dooie navraag gedoen en dié geraadpleeg het. 14Hy het nie die Here geraadpleeg nie, en Hy het hom laat sterf. Hy het die koningskap laat oorgaan na Dawid, seun van Isai.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid