Sagaria 7

7
Ek sal 'n stormwind stuur
1Die Here het weer met Sagaria gepraat. Dit was in die vierde jaar nadat Darius koning geword het, op die vierde dag van die negende maand, die maand Kislef. 2Die mense van die stad Bet-El het vir Sar-Eser en Regem-Melek en sy manne gestuur om vir die Here 'n offer te bring 3in die tempel van die Here wat oor alles regeer. Hulle moes dan vir die priesters en die profete vra: “Moet ons nog in die vyfde maand huil en vas, soos ons altyd gedoen het?”
4Die Here het toe vir my gesê: 5“Sê vir al die mense in die land en vir die priesters: Julle het 70 jaar lank in die vyfde en in die sewende maand gevas en getreur. Maar hoekom het julle dit gedoen? Het julle gevas en getreur om My te eer? Nee. 6En wanneer julle nie vas nie, maar eet en drink, hoekom doen julle dit? Julle eet en drink omdat julle honger en dors is. 7Kan julle onthou wat Ek gesê het toe Ek voorheen die profete na julle toe gestuur het? Dit was toe daar nog mense in Jerusalem gewoon het, en in die stede rondom Jerusalem, en in die Suid-land en die Laeveld.”
8Die Here het vir Sagaria gesê: 9“Ek, die Here wat oor alles regeer, het daardie tyd gesê: Julle moet reg doen aan mekaar, julle moet lief wees vir mekaar en julle moet goed wees vir mekaar. 10Julle moenie weduwees en weeskinders verdruk nie, ook nie vreemdelinge en mense wat hulleself nie kan help nie. En julle moenie planne maak om slegte dinge aan mekaar te doen nie.
11“Maar die mense wou nie luister nie. Hulle was hardkoppig, hulle het hulle ore toegedruk, want hulle wou nie hoor wat Ek sê nie. 12Hulle harte was so hard soos klippe. Hulle wou nie luister na die wette van die Here nie. Hulle was ongehoorsaam aan die boodskap wat my Gees vir hulle gebring het. Dit is die boodskap wat die profete van daardie tyd vir hulle gebring het. Daarom het Ek, die Here wat oor alles regeer, kwaad geword.
“Ek het gesê: 13Ek het hulle geroep, maar hulle het nie geluister nie. Nou sal Ek nie luister wanneer hulle roep nie. 14Ek sal 'n stormwind stuur, en die wind sal hulle jaag na ander volke toe, volke wat hulle nie geken het nie. Die vyande sal die land verwoes en niemand sal deur die land gaan nie. Dit was 'n baie mooi land, maar my volk het dit verwoes.”

Tans Gekies:

Sagaria 7: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid