Sagaria 13

13
Daar sal nie vals profete wees nie
1Daardie dag sal daar 'n fontein wees waar die nageslag van Dawid en die mense van Jerusalem hulle sonde en onreinheid kan afwas. 2Die Here wat oor alles regeer, sê: “Daardie dag sal Ek die name van die afgode laat verdwyn. Niemand in die land sal weer aan die afgode dink nie. Ek sal ook die profete en almal wat onrein is, wegvat uit die land. 3As daar nog iemand is wat 'n profeet wil wees, dan sal sy eie ouers, sy pa en sy ma, vir hom sê: ‘Jy mag nie lewe nie, want jy vertel leuens en dan sê jy die Here het jou gestuur.’
“Sy eie ouers, sy pa en sy ma, sal hom doodsteek omdat hy 'n profeet wil wees.
4“Elke profeet sal daardie dag skaam wees omdat hy gesê het die Here het vir hom gewys wat sal gebeur. Hy sal ophou om klere aan te trek wat mense laat dink hy is 'n profeet. Hy sal nie 'n rok aantrek van bokhaar-materiaal nie. 5Hy sal sê: ‘Ek is nie 'n profeet nie, ek is 'n boer. Ja, ek werk in my eie grond vandat ek jonk was.’ 6En as iemand vir hom vra: ‘Hoekom het jy stukkende plekke op jou bors?’ dan sal hy sê: ‘Iemand het my so geslaan toe ek by vriende gekuier het.’ ”
Ek sal sê: Hulle is my volk
7Die Here wat oor alles regeer, sê: “Swaard, jy moet kom, jy moet die skaapwagter doodsteek wat naby My is. Jy moet die skaapwagter doodsteek, dan sal die skape weghardloop van mekaar. Dan sal Ek die lammers ook doodmaak. 8Die skape is my volk. Twee derdes van die mense in die hele land sal sterf, maar een derde van hulle sal oorbly. 9En Ek sal hierdie een derde wat oorbly, skoonmaak soos 'n mens silwer en goud in vuur smelt en skoonmaak. Dan sal my volk tot My bid, en Ek sal luister na hulle gebed. Ek sal sê: ‘Hulle is my volk,’ en hulle sal sê: ‘Die Here is ons God.’ ”

Tans Gekies:

Sagaria 13: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid