Psalms 78

78
God het die Juda-stam gekies
1'n Lied. Van Asaf.
My volk, julle moet luister na wat ek vir julle leer,
julle moet goed luister na wat ek vir julle sê.
2Ek wil dit doen soos wyse mense dit doen,
ek wil praat oor dinge waarvan julle nie weet nie,
dinge wat lank gelede gebeur het.
3Ons het dit gehoor en ons weet dit,
ons voorvaders het dit vir ons vertel.
4Ons wil dit nie wegsteek vir hulle nageslag nie,
ons wil aanhou om vir die volgende geslag te vertel
hoekom hulle die Here moet prys.
Ons wil vertel van die Here se krag
en van die wonderwerke wat Hy gedoen het.
5Hy het vir die nageslag van Jakob, vir Israel,
gesê wat Hy wil hê, wat hulle moet doen.
Hy het vir ons voorvaders gesê
hulle moet dit vir hulle kinders leer.
6Elke volgende geslag moet weet
wat die Here wil hê,
elke kind wat gebore sal word,
en hulle moet dit ook vir hulle kinders leer.
7Hulle moet glo dat God hulle sal help.
Hulle moenie vergeet wat Hy gedoen het nie
en hulle moet doen wat Hy gesê het.
8Hulle moenie soos hulle voorvaders wees nie,
want hulle voorvaders was hardkoppig en opstandig,
hulle het nie aangehou om in God te glo nie,
hulle was ontrou aan Hom.
9Die mense van Efraim kon met pyl en boog veg
maar hulle het gevlug toe die oorlog begin.
10Hulle het nie gedoen wat die verbond van God sê nie,
hulle wou nie lewe soos Hy wil hê nie.
11Hulle het vergeet wat God gedoen het,
hulle het die wonderwerke vergeet
wat Hy vir hulle gewys het.
12Hulle voorvaders het gesien toe God 'n wonderwerk doen
in die land Egipte, die land waar die stad Soan is.
13Hy het 'n pad deur die see gemaak
en Hy het hulle laat deurloop,
die water het soos 'n muur gestaan.
14God het sy volk in die dag gelei met 'n wolk
en elke nag het Hy hulle met die lig van 'n vuur gelei.
15God het rotse oopgebreek in die woestyn
en Hy het sy volk laat drink van die water
diep onder die aarde.
16Hy het strome water uit klip laat kom,
die water het gevloei soos riviere.
17Maar die mense van Efraim het aangehou
om sonde te doen teen God,
hulle was opstandig teen die Hoogste God
in die land waar daar nie water is nie.
18Hulle het God getoets en hulle het die kos gevra
waarvoor hulle lus was.
19Hulle het teen God gepraat, hulle het gevra:
“Kan God in die woestyn vir ons kos gee om te eet?
20Dit is waar, Hy het 'n rots geslaan,
en daar het water uitgestroom,
daar het riviere gevloei.
Maar kan God ook brood gee,
of kan hy vir sy volk vleis bring?”
21Daarom, toe die Here dit hoor,
het Hy kwaad geword.
Dit was soos 'n vuur wat gebrand het
teen die nageslag van Jakob, teen Israel.
22God was kwaad omdat hulle nie geglo het
dat Hy sal doen wat Hy belowe het nie,
hulle het nie geglo dat Hy hulle sal red nie.
23Hy het wolke van bo af gestuur
en Hy het die deure
van die hemeldak oopgemaak.
24Hy het manna op hulle laat reën
sodat hulle dit kon eet.
Hy het vir hulle brood uit die hemel gegee.
25Mense het brood van engele geëet,
God het vir hulle kos gestuur, meer as genoeg.
26Hy wat sterk is, het die wind laat waai
uit die ooste en uit die suide.
27Hy het vleis op hulle laat reën, dit was voëls,
so baie soos stof, so baie soos die sand by die see.
28Die voëls het binne-in die kamp geval,
rondom hulle tente.
29Hulle het geëet en meer as genoeg gekry,
God het vir hulle die kos gebring waarvoor hulle lus was.
30Maar hulle wou aanhou en aanhou eet.
Die kos was nog in hulle mond,
31toe het God kwaad geword vir hulle.
Hy het van hulle vetste manne begin doodmaak,
Hy het die jongmanne van Israel laat sterf.
32God het dit alles gedoen,
maar hulle het aangehou om sonde te doen,
hulle het nie geglo dat dit Hý is
wat die wonderwerke gedoen het nie.
33God het hulle laat sterf.
Hulle lewens het niks beteken nie, dit was soos wind,
hulle was elke dag bekommerd en bang.
34Elke maal wanneer God party mense laat sterf het,
dan het die ander mense na Hom toe teruggekom
en gesê dat hulle jammer is
en dat hulle wil doen wat Hy wil hê.
35Hulle het dan gesê dit is God wat hulle Rots is,
dit is die Hoogste God wat hulle kan vrymaak.
36Maar hulle wou Hom bedrieg,
hulle het dinge gesê, maar hulle was vals.
37Hulle het nie regtig in God geglo nie,
hulle het nie gedoen wat Hy gesê het
toe Hy 'n verbond met hulle gemaak het nie.
38En God?
Hy was genadig,
Hy het hulle sonde vergewe,
Hy het hulle nie almal laat sterf nie.
Hy het baie maal weer goed geword vir hulle,
Hy het nie vir hulle kwaad gebly nie.
39Hy het onthou dat hulle mense is,
hulle is soos wind wat verbywaai
en dan is dit weg.
40Hulle was baie maal opstandig teen Hom,
hulle het Hom hartseer gemaak
daar in die woestyn, die wilde plek.
41Hulle het God elke maal weer getoets,
hulle het die Heilige God van Israel
hartseer gemaak.
42Hulle wou nie onthou wat Hy gedoen het nie,
daardie tyd toe hulle swaargekry het
en toe Hy hulle gered het,
43daardie tyd toe Hy in Egipte tekens
en wonderwerke gedoen het,
daar in die land waar die stad Soan is.
44Hy het die riviere, die waterstrome, verander,
en dit het bloed geword
sodat die Egiptenaars dit nie kon drink nie.
45Hy het steekvlieë gestuur wat hulle gebyt het
en paddas wat hulle land verwoes het.
46Hy het hulle plante vir die sprinkane gegee,
die sprinkane het alles op hulle koringlande
en in hulle tuine opgevreet.
47Hy het hael gestuur
om hulle wingerde stukkend te slaan
en Hy het ryp gestuur
om hulle vyebome te laat doodgaan.
48Hy het hael en weerlig gestuur
om hulle beeste en hulle skape
en bokke dood te slaan.
49God het hulle laat voel hoe kwaad Hy is,
Hy wou hulle baie swaar laat kry,
Hy het vir hulle boodskappers gestuur
om te sê dat mense sal sterf.
50Hy was kwaad, baie kwaad,
en Hy het dit vir hulle gewys.
Hy het nie hulle lewe gespaar nie,
Hy het hulle laat sterf van pes.
51Hy het die oudste seun van elke familie van die Egiptenaars laat sterf
in Egipte, in die woonplek van die nageslag van Gam.
52Maar Hy het sy eie volk weggelei
soos 'n herder sy skape en bokke weglei.
Hy het hulle deur die woestyn gelei
53en Hy het hulle gebring
waar hulle veilig kan wees
en nie bang nie.
Maar hulle vyande het in die see verdrink.
54God het sy volk gebring na sy gewyde land,
na die berg wat Hy geneem het
om aan Hom te behoort.
55Hy het ander volke uit hulle lande weggejaag
sodat sy eie volk daar kon woon.
Hy het hulle lande vir die stamme van Israel gegee
en Hy het hulle laat woon in daardie volke se woonplek.
56Maar die Hoogste God se volk het Hom getoets,
hulle was opstandig teen Hom, hulle het nie gedoen
wat Hy vir hulle gesê het nie.
57Hulle het weggegaan van Hom,
hulle was ontrou soos hulle voorvaders.
Hulle was soos 'n boog wat skeef was
en nie reg kon skiet nie.
58Hulle het God kwaad gemaak,
want hulle het offer-plekke gebou,
hulle het Hom baie kwaad gemaak,
want hulle het beelde aanbid.
59God het geweet wat hulle doen
en Hy het baie kwaad geword,
Hy het die Israeliete heeltemal gelos.
60Hy het die tempel in Silo gelos,
die plek waar Hy tussen mense gewoon het.
61Hy het nie gekeer toe die vyande
sy verbondskis vat nie,
die kis waar Hy, die sterk Koning,
aan sy mense verskyn het.
62Hy het sy volk laat sterf in oorlog,
Hy was kwaad vir die mense van sy eie land.
63Hulle jongmanne het verbrand,
en daar was niemand met wie hulle jongmeisies
kon trou nie.
64Hulle priesters het in die oorlog gesterf,
en daar was nie tyd vir die weduwees om te rou nie.
65Maar toe het die Here wakker geword
soos iemand wakker word nadat hy geslaap het,
soos iemand wat weer reg word
nadat hy te veel wyn gedrink het.
66Hy het sy vyande hard geslaan,
Hy het hulle vir altyd verneder.
67Hy het die tempel gelos wat by die Josef-stam was,
Hy het nie weer die Efraim-stam gekies nie.
68Hy het die Juda-stam gekies,
die Sionsberg waarvoor Hy lief geword het.
69Hy het sy tempel daar gebou,
dit was hoog en vas soos die hemel en die aarde
wat Hy vir altyd vas laat staan.
70Hy het sy dienaar Dawid gekies
en hom weggeneem van die skaapkrale,
71Hy het hom van die lammer-ooie weggeneem
om die herder te wees van sy volk,
die nageslag van Jakob, Israel.
72Dawid het goed regeer oor hulle,
hy was 'n wyse koning.

Tans Gekies:

Psalms 78: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid