Psalms 77:3-10
Psalms 77:3-10 ABA
Dit gaan sleg met my, ek wil hê die Here moet by my wees. Ek steek my hand uit en ek bid, ek hou die hele nag aan, maar niks verander vir my nie. Wanneer ek aan God dink, dan sug en kla ek, wanneer ek begin dink, dan word ek moedeloos. Sela U laat my wakker bly, ek is bekommerd, ek kan nie praat nie. Wanneer ek dink aan die tyd wat verby is, aan die jare lank gelede, wanneer ek in die nag op my lier speel, dan dink ek diep in my hart en ek vra vir myself: Wil die Here ons vir altyd los, wil Hy nooit weer goed wees vir ons nie? Het Hy heeltemal vergeet wat Hy vir ons belowe het? Sal Hy nooit weer met ons praat nie? Wil God nie meer genadig wees nie? Of is Hy so kwaad dat Hy nie weer jammer kan wees vir ons nie? Sela




