PSALMS 77:3-10 - Compare All Versions

PSALMS 77:3-10 AFR83 (Afrikaans 1983)

In my nood soek ek hulp by die Here; ook in die nag bly my hande in gebed uitgestrek sonder om moeg te word; maar ek vind geen troos nie. Ek dink aan God en ek sug, ek dink na en ek is verslae. Sela U laat my wakker lê, ontsteld en sprakeloos. Ek dink aan vroeër dae, aan jare lank gelede. As ek so in die nag lê en terugdink en peins, vra ek my af: “Sal die Here vir altyd verstoot en nooit weer genade betoon nie? Het daar vir altyd 'n einde gekom aan sy trou? Geld sy beloftes dan glad nie meer nie? Het God vergeet om medelye te hê? Het Hy in sy toorn sy ontferming onttrek?” Sela

PSALMS 77:3-10 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Op die dag van my benoudheid soek ek die HERE; snags bly my hand uitgestrek sonder om moeg te word; my siel weier om getroos te word. As ek aan God dink, moet ek steun; peins ek, dan versmag my gees. Sela. U hou my ooglede oop; ek is onrustig en kan nie spreek nie. Ek dink oor die dae van die voortyd, oor die ou, ou jare. Ek wil dink aan my snarespel in die nag, wil peins met my hart, en my gees deurvors: Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie? Hou sy goedertierenheid vir altyd op? Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag? Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit? Sela.

PSALMS 77:3-10 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

In my nood soek ek die Here. Ook in die nag strek ek onvermoeid my hande uit in gebed. Tog het ek geen troos gekry nie. Ek dink aan God, en ek sug, ek peins daaroor en is moedeloos. Sela U verhinder dat ek slaap; van ontsteltenis kan ek nie praat nie! Ek dink aan die dae van vroeër, aan jare van lank gelede, toe ek gesing het in die nag, nagedink het oor sake. Dan vra ek my af in my binneste: Het die Here my vir altyd verwerp? Sal Hy ooit weer sy genade bewys? Het sy troue liefde vir altyd verdwyn? Het sy beloftes tot ’n einde gekom? Het God sy medelye vergeet? Het Hy in toorn sy simpatie onttrek? Sela

PSALMS 77:3-10 DB (Die Boodskap)

In my nood soek ek hulp by die Here. Ek word nie moeg om te bid nie. Snags maak ek nie ’n oog toe nie. Maar ek vind geen troos nie. Wanneer ek aan God dink, roep ek na Hom. Ek wil hê Hy moet hoor hoe swaar ek kry. Maar dit voel vir my of God Hom nie meer aan my steur nie. Ek is moedeloos. U hou my wakker. Daar is geen rus vir my nie. Ek is baie omgekrap. Ek het nie meer woorde oor om te sê hoe omgekrap ek is nie. Daarom praat ek nie baie nie. My gedagtes gaan baie ver terug. Ek dink terug aan dinge wat jare gelede gebeur het. Ek lê in die nag wakker en dink hoe ek musiek gemaak het. Ek dink ver terug en vra my af: “Gaan die Here my altyd van Hom af wegstoot? Sal Hy ooit weer vir my goed wees? Gaan Hy sy troue liefde altyd van my af wegvat? Het sy belofte om sy kinders in hulle swaarkry te help, nou eens en vir altyd tot ’n einde gekom? Het God dan vergeet om weer goed aan ons te doen? Is hy so kwaad dat Hy Hom nooit weer oor ons gaan ontferm en ons jammer kry nie?

PSALMS 77:3-10 ABA (Bybel vir almal)

Dit gaan sleg met my, ek wil hê die Here moet by my wees. Ek steek my hand uit en ek bid, ek hou die hele nag aan, maar niks verander vir my nie. Wanneer ek aan God dink, dan sug en kla ek, wanneer ek begin dink, dan word ek moedeloos. Sela U laat my wakker bly, ek is bekommerd, ek kan nie praat nie. Wanneer ek dink aan die tyd wat verby is, aan die jare lank gelede, wanneer ek in die nag op my lier speel, dan dink ek diep in my hart en ek vra vir myself: Wil die Here ons vir altyd los, wil Hy nooit weer goed wees vir ons nie? Het Hy heeltemal vergeet wat Hy vir ons belowe het? Sal Hy nooit weer met ons praat nie? Wil God nie meer genadig wees nie? Of is Hy so kwaad dat Hy nie weer jammer kan wees vir ons nie? Sela

PSALMS 77:3-10 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

In die tyd van my nood soek ek my Heer. In die nag hou ek onvermoeid my hande uitgestrek; ek is ontroosbaar. Dink ek aan God, dan kreun ek; kla ek, dan weifel my gees. •Sela U hou my ooglede oop; ek is ontsteld en kan nie praat nie. Ek dink terug aan vervloë dae, aan vergange jare. Ek wil snags aan my harpspel dink; met my hart wil ek kla en my gees deursoek. Sal my Heer ons dan vir ewig verstoot en ons nooit weer aanvaar nie? Is dit vir altyd die einde van sy troue liefde? Het sy boodskappe van geslag tot geslag tot 'n einde gekom? Het God vergeet om genadig te wees, of het Hy in toorn sy ontferming opgehef? Sela

PSALMS 77:3-10 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Ek het aan God gedink, en ek was ontsteld: ek het gekla, en my gees was oorweldig. Sela. U hou my oë wakker: ek is so ontsteld dat ek nie kan praat nie. Ek het die dae van die ou tyd, die jare van die ou tyd, oorweeg. Ek roep tot gedagtenis aan my lied in die nag: ek praat met my hart, en my gees het ywerig gesoek. Sal die HERE vir ewig verstoot? en sal hy nie meer gunstig wees nie? Is sy goedertierenheid vir altyd skoon weg? misluk sy belofte vir ewig? Het God vergeet om genadig te wees? Het hy in toorn sy barmhartighede toegesluit? Sela. En ek het gesê: Dit is my krankheid, maar ek sal dink aan die jare van die regterhand van die Allerhoogste.