Ek hou nie van mense wat skynheilig is nie,
maar ek is lief vir wat U vir ons geleer het.
By U is ek veilig, U beskerm my,
ek weet U sal doen wat U gesê het.
Slegte mense moenie naby my kom nie,
sodat ek kan doen wat die gebooie
van my God sê.
U moet my regop hou, soos U belowe het,
dan sal ek aanhou lewe,
U moet my help, sodat ek kan aanhou hoop.
Wanneer U my regop hou, dan is ek veilig
en dan kyk ek altyd wat u wette sê.
U hou nie van mense wat ongehoorsaam is
aan u wette nie,
want hulle is vals, hulle wil mense bedrieg.
U los al die mense
wat verkeerd doen, hulle is soos skuim
wat niks beteken nie.
Daarom is ek lief vir wat U sê.
Ek is bang vir U, ek bewe,
ek is bang vir wat U besluit.
Ek het reg gedoen aan mense
en ek het gelewe soos U wil hê.
U moenie vir my los sodat mense my verdruk nie.
U moet vir my, u dienaar, belowe
dat U dit goed sal laat gaan met my.
U moenie dat hoogmoedige mense my verdruk nie.
My oë is moeg, want ek hou aan om te kyk
wanneer U my sal red.
Ek hou aan om te luister na wat U sê,
want wat U sê, is reg.
U moet vir my, u dienaar, doen wat U belowe het,
U moet vir my leer wat u wette sê.
Ek is u dienaar, U moet my verstandig maak
sodat ek kan verstaan wat U sê.
Here, U moet nou iets doen aan die mense
wat nie doen wat U vir ons geleer het nie.
Waarlik, ek is meer lief vir u gebooie
as vir goud, ja, goeie goud.
Waarlik, ek probeer altyd om alles te doen wat U beveel,
ek hou nie van iets wat vals is nie.
Wat U sê, is wonderlik,
daarom doen ek wat U sê.
Wanneer mense verstaan wat U gesê het,
dan is dit vir hulle soos 'n lig,
dit wys vir jongmense wat hulle moet doen.
Ek is honger vir u gebooie,
so honger soos 'n dier wat sy bek wyd oopmaak
omdat hy honger is.
U moet luister en genadig wees vir my,
soos U altyd doen vir die mense
wat lief is vir u Naam.
U moet my help, sodat ek kan aanhou
om te lewe soos U sê.
U moenie dat sonde oor my regeer nie,
nie een sonde nie.
U moet keer, mense moenie vir my verdruk nie,
dan sal ek kan doen wat U beveel.
U moet naby my wees,
naby my, u dienaar,
en U moet vir my leer wat u wette sê.
My trane loop soos strome water
omdat mense nie doen wat U vir ons geleer het nie.
Here, U doen reg, U besluit reg.
Alles wat U gesê het, is reg,
mense kan dit altyd glo.
Ek word baie kwaad wanneer my vyande
vergeet wat U gesê het.
Die dinge wat U sê, is baie waar.
Ek, u dienaar, is lief vir wat U sê.
Ek is klein en onbelangrik
maar ek het nie vergeet wat U beveel het nie.
U doen reg en U sal altyd reg doen,
die dinge wat U vir ons geleer het,
bly dieselfde.
Toe ek swaargekry het
en toe dit sleg gegaan het met my,
was dit vir my lekker om u gebooie te hou.
Wat U sê, is altyd reg,
U moet my help om dit te verstaan,
sodat ek kan aanhou lewe.
Here, ek roep en ek vra
dat U my moet help,
ek vra dit met my hele hart.
U moet my antwoord,
ek wil doen wat u wette sê.
Ek roep en ek vra
dat U my moet red,
sodat ek kan doen wat U sê.
Ek staan op voordat die son opkom
en ek vra dat U my moet help,
ek weet U sal doen wat U gesê het.
Ek bly die hele nag wakker,
sodat ek kan dink aan wat U belowe het.
Here, U doen wat U belowe het
en wat U besluit het.
U moet luister na wat ek vra,
U moet my laat aanhou lewe.
Die mense is naby wat my volg en jaag
om my seer te maak,
maar hulle is ver van wat U vir ons geleer het.
Here, U is naby en u gebooie verander nie.
Ek weet van die begin af wat U gesê het,
want u woorde bly altyd waar.
U moet kyk hoe sleg dit met my gaan
en U moet my red,
want ek het nie vergeet wat U vir ons geleer het nie.
U moet my help wanneer mense my beskuldig,
U moet my vrymaak, soos U belowe het,
U moet my laat aanhou lewe.
U sal nie die mense red wat verkeerd lewe nie,
want hulle probeer nie om te doen wat u wette sê nie.
Here, U is baie genadig, U het so besluit,
U moet my laat aanhou lewe.
Daar is baie vyande wat my volg en jaag,
maar ek hou aan om te doen wat U sê.
Wanneer ek sien hoe ontrou mense is,
dan wil ek naar word.
Hulle is mense wat nie doen wat U sê nie.
Here, U moet kyk
hoe lief is ek vir wat U beveel,
U moet my laat aanhou lewe,
soos U belowe het.
Alles wat U gesê het, bly dieselfde,
alles wat U besluit, is altyd reg.
Ek het niks verkeerd gedoen nie,
maar belangrike mense volg my en jaag my.
Ek is nie bang vir hulle nie,
ek is bang vir wat U gesê het.
Ek is so bly oor wat U belowe het,
so bly soos wanneer ek baie goed kry
wat ek vir my kan vat.
Ek haat dit wanneer mense vals is,
ek hou niks daarvan nie.
Ek is lief vir wat U vir ons geleer het.
Ek prys U sewe maal elke dag
omdat alles wat U besluit, reg is.
Dit gaan baie goed met mense
wat lief is vir wat U vir ons geleer het.
Daar gebeur niks wat sleg is met hulle nie.
Here, ek weet U sal my red
en ek doen wat u gebooie sê.
Ek hou aan om te doen wat U sê,
ek is baie lief daarvoor.
Ek hou aan om te doen wat U beveel
en wat U sê,
want U sien altyd hoe ek lewe.
Here, U moet hoor wat ek bid,
U moet my help om te verstaan wat U sê.
U moet luister wanneer ek tot U bid,
U moet my red, soos U belowe het.
Ek sal aanhou om U te prys,
want U leer vir my u wette.
Ek sal sing oor wat U belowe het,
want al u gebooie is reg.
U moet my help,
want ek het gekies om te doen wat U beveel het.
Here, ek verlang daarna dat U my moet red,
ek geniet wat U vir ons geleer het.
U moet my laat aanhou lewe,
sodat ek U kan prys.
Die dinge wat U besluit het, moet my help.
Ek het verdwaal soos 'n skaap wat weggeraak het,
U moet my soek, vir my, u dienaar,
want ek het nie u gebooie vergeet nie.