Numeri 19

19
Die water wat mense rein kan laat word
1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“Daar is iets wat Ek wil hê julle moet altyd doen: Jy moet vir die Israeliete sê hulle moet vir jou 'n gesonde rooi koei gee. Daar moenie 'n merk of 'n seerplek aan haar wees nie en sy moet nog nooit 'n juk gedra het nie. 3Julle moet die koei vir die priester Eleasar gee. Eleasar moet haar na buite die kamp bring en hulle moet haar slag, Eleasar moet ook daar wees. 4Dan moet hy van die koei se bloed op sy vinger neem en hy moet dit sewe maal spat teen die ingang van die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn. 5Daarna moet hulle die koei verbrand, Eleasar moet ook daar wees. Hulle moet die vel en die vleis en die bloed verbrand saam met die pensmis. 6Die priester moet 'n stukkie sederhout, 'n hisop-takkie en rooi tou neem en hy moet dit in die vuur gooi waar hulle die koei verbrand. 7Daarna moet hy sy klere was en hy moet bad. Dan mag hy in die kamp kom, maar hy sal tot die aand onrein wees. 8Die persoon wat die koei verbrand het, moet ook sy klere was en hy moet bad. Hy sal ook tot die aand onrein wees. 9Iemand wat rein is, moet die koei se as bymekaarmaak en hy moet dit buite die kamp op 'n rein plek sit. Die volksvergadering van Israel moet die as gebruik wanneer hulle water wil gereedmaak wat mense rein kan laat word. Die koei is 'n sonde-offer. 10Die persoon wat die koei se as bymekaargemaak het, moet sy klere was en hy sal tot die aand onrein wees.
“Die Israeliete en die vreemdelinge wat by hulle woon, moet altyd dit doen.
11“Wanneer iemand aan 'n mens se dooie liggaam raak, dan sal daardie persoon sewe dae lank onrein wees. 12Hy moet homself reinig op die derde dag en op die sewende dag, dan sal hy rein wees. Maar as hy homself nie op die derde dag en op die sewende dag reinig nie, sal hy nie rein word nie. 13Wanneer iemand aan 'n mens se dooie liggaam raak en hy reinig homself nie, dan sal hy die Here se tempel-tent onrein laat word, en dan moet julle hom afsny van Israel. Niemand het die water oor hom gespat wat hom rein kan laat word nie, daarom bly hy onrein.
14“Dit is wat julle moet doen wanneer iemand in 'n tent sterf: Elkeen wat in die tent kom en alles wat in die tent is, sal sewe dae lank onrein wees. 15Elke oop pot of kruik wat nie 'n deksel op het wat iemand daar vasgebind het nie, sal onrein wees.
16“Wanneer enige persoon buite in die veld aan die dooie liggaam raak van iemand wat in 'n oorlog gesterf het of hy raak aan iemand anders wat dood is of aan 'n dooie mens se bene of aan 'n graf, dan sal hy sewe dae lank onrein wees. 17Wanneer iemand so onrein geword het, dan moet hulle van die as neem van die koei wat hulle verbrand het om 'n sonde-offer te wees en hulle moet water uit 'n fontein in 'n kruik gooi saam met die as. 18Daarna moet iemand wat rein is, 'n hisop-takkie neem en hy moet dit in die water druk. Dan moet hy die water spat op die tent en op al die goed in die tent en op elkeen wat geraak het aan 'n dooie mens se bene of aan die dooie liggaam van iemand wat in oorlog gesterf het, of wat geraak het aan die dooie liggaam van iemand anders of aan 'n graf. 19Die persoon wat rein is, moet van hierdie water spat op die onrein persoon op die derde dag en op die sewende dag. Dan moet die onrein persoon sy klere was en hy moet bad. Hy sal rein wees wanneer die dag verby is.
20“Wanneer iemand onrein geword het en hy reinig homself nie, dan moet hulle hom afsny van die volksvergadering, want hy het die tempel-tent van die Here onrein laat word. Hy is onrein, want iemand het nie van die water op hom gespat wat hom rein kan laat word nie. 21Hulle moet altyd dit doen. Die persoon wat die water gespat het wat iemand rein laat word het, moet sy klere was. En iemand wat aan daardie water raak, sal tot die aand onrein wees. 22Elke ding waaraan 'n onrein persoon raak, word ook onrein, en die persoon wat aan so 'n ding raak, is onrein tot die aand.”

Tans Gekies:

Numeri 19: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid