Nehemia 11

11
Die mense wat in Jerusalem gewoon het
(Kyk ook 1 Kron 9:3-13)
1Die leiers van die mense het in Jerusalem gewoon. Die ander mense het lootjies getrek om te sien wie in Jerusalem moet woon. Een uit elke tien mense moes in Jerusalem woon, die ander mense het in die ander stede gewoon. 2Die mense het almal geprys wat self besluit het om in Jerusalem te woon. 3Hier is die name van die hoofde van die provinsie Juda wat in Jerusalem gewoon het. In die ander stede van Juda het elkeen op sy eie plek gewoon: die Israeliete, die priesters, die Leviete, die tempel-slawe en die nageslag van die slawe van Salomo. 4Party mense van die stamme Juda en Benjamin het in Jerusalem gewoon. Van die Juda-stam was daar Ataja seun van Ussia seun van Sagaria seun van Amarja seun van Sefatja seun van Mahalalel. Hulle was van die nageslag van Peres. 5Van die nageslag van Sela was daar Maäseja seun van Baruk seun van Kol-Gose seun van Gasaja seun van Adaja seun van Jojarib seun van Sagaria. 6Die manne van die nageslag van Peres wat in Jerusalem gewoon het, was almal saam 468. Hulle was mense wat hulle eie grond gehad het. 7Van die Benjamin-stam was daar die familie van Sallu seun van Mesullam seun van Joëd seun van Pedaja seun van Kolaja seun van Maäseja seun van Itiël seun van Jesaja. 8Sallu se broers was Gabbai en Sallai. Daar was 928 mense van die Benjamin-stam. 9Hulle hoof was Joël seun van Sikri. Juda seun van Senua het regeer oor die Tweede Stad.
Priesters en Leviete in Jerusalem
(Kyk ook 1 Kron 11:10-34)
10Van die priesters was daar Jedaja seun van Jojarib, Jakin en 11Seraja seun van Gilkija seun van Mesullam seun van Sadok seun van Merajot seun van Agitub. Agitub was die hoof-opsigter van die tempel. 12Daar was 822 priesters wat by die tempel gewerk het. Daar was ook Adaja seun van Jerogam seun van Pelalja seun van Amsai seun van Sagaria seun van Pasgur seun van Malkija 13en die ander priesters saam met hom. Hulle was 242 familiehoofde. Daar was ook Amassai seun van Asarel seun van Agsai seun van Mesillemot seun van Immer 14en die ander priesters saam met hom. Hulle was almal saam 128 en hulle was belangrike manne. Hulle hoof was Sabdiël seun van Gedolim. 15Van die Leviete was daar Semaja seun van Gassub seun van Asrikam seun van Gasabja seun van Bunni, 16en ook Sabbetai en Josabad, hoofde van die Leviete wat die werk buite die tempel gedoen het, 17en Mattanja, die leier van die koor wat die Here geprys het en vir Hom dankie gesê het. Mattanja was die seun van Miga seun van Sabdi seun van Asaf. Daar was ook Bakbukja, die tweede broer van Mattanja, en Abda seun van Sammua seun van Galal seun van Jedutun. 18Die Leviete in die gewyde stad was almal saam 284.
19Die poortwagte Akkub, Talmon en die ander Leviete wat die poorte opgepas het, was almal saam 172.
20Die ander Israeliete, en die ander priesters en Leviete was in die stede van Juda. Elkeen het op sy eie grond gewoon.
21Die tempel-slawe het op die Ofel gewoon. Hulle hoofde was Siga en Gisma.
22Die hoof van die Leviete in Jerusalem was Ussi seun van Bani seun van Gasabja seun van Mattanja seun van Miga. Hy was van die nageslag van Asaf. Asaf se nageslag was die mense wat moes sing terwyl die priesters die werk by die tempel gedoen het. 23Die koning van Persië het besluit dat hulle elke dag moet sing. 24Petagja was die koning van Persië se raadgewer oor dinge van die Israeliete. Petagja was die seun van Mesesabel van die nageslag van Serag seun van Juda.
Die woonplekke buite Jerusalem
25Party Judeërs het gewoon in plekke naby hulle grond. Hulle het gewoon in die stad Kirjat-Arba en die dorpe daar naby, in die stad Dibon en die dorpe daar naby, in die stad Kabseël en die woonplekke daar naby, 26in die stede Jesua, Molada, Bet-Pelet, 27en Gasar-Sual, in die stad Berseba en die dorpe daar naby, 28in die stad Siklag, die stad Mekona en die dorpe daar naby, 29in die stede En-Rimmon, Sora, Jarmut, 30Sanoag, Adullam en die woonplekke daar naby, in die stad Lakis en in die veld daar naby, in die stad Aseka en die dorpe daar naby. Hulle het gewoon van Berseba tot by die Hinnom-vallei.
31Die mense van die Benjamin-stam het gewoon in die stad Geba en verder, in die stede Mikmas en Aja, in die stad Bet-El en die dorpe daar naby, 32in die stede Anatot, Nob, Ananeja, 33Gasor, Rama, Gittajim, 34Gadid, Seboïm, Neballat, 35Lod en Ono, en in Ambagsman-vallei.
36Party groepe van die Leviete in die land Juda het gaan woon in die land Benjamin.

Tans Gekies:

Nehemia 11: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid