Miga 7:11-20

Miga 7:11-20 ABA

Jerusalem, die dag is naby wanneer hulle weer jou mure sal bou. Hulle sal dan nog meer huise in jou bou. Daardie dag sal jou mense na jou toe terugkom uit Assirië en uit Egipte, van die Eufraat-rivier en van oral in die wêreld. Maar in die ander lande sal daar nie mense woon nie, want hulle mense het baie sonde gedoen. Die Here sê: “Jy moet jou volk oppas. Jy moet die skape en bokke wat aan jou behoort, laat wei. Hulle is nou alleen in die bos op Karmel-berg. Hulle moet weer in die lande Basan en Gilead wei, soos lank gelede.” Die Here sê: “Ek sal die volk help. Hulle sal weer wonderwerke sien, soos lank gelede toe julle uit Egipte gekom het.” Die volke sal dit sien en hulle sal nie weet wat om te doen nie. Hulle sal niks kan doen nie, hulle sal hulle monde en hulle ore toedruk met hulle hande. Hulle sal stof lek soos slange wat op die grond seil. Hulle sal bewe en uit hulle wegkruip-plekke kom na ons God die Here toe. Hulle sal skrik, hulle sal bang wees vir Hom. Daar is nie nog 'n God soos U nie, Here. U vergewe ons sonde. Ons is die mense van u volk, die mense wat nog lewe. U bly nie altyd kwaad nie, U wil graag lief wees vir ons. U sal weer goed wees vir ons, U sal ons sonde stukkend trap en dit in die see gooi. U sal die Israeliete nie los nie. U sal altyd lief wees vir die nageslag van Abraham. U het dit belowe aan ons voorvaders, lank gelede.