MIGA 7:11-20
MIGA 7:11-20 Bybel vir almal (ABA)
Jerusalem, die dag is naby wanneer hulle weer jou mure sal bou. Hulle sal dan nog meer huise in jou bou. Daardie dag sal jou mense na jou toe terugkom uit Assirië en uit Egipte, van die Eufraat-rivier en van oral in die wêreld. Maar in die ander lande sal daar nie mense woon nie, want hulle mense het baie sonde gedoen. Die Here sê: “Jy moet jou volk oppas. Jy moet die skape en bokke wat aan jou behoort, laat wei. Hulle is nou alleen in die bos op Karmel-berg. Hulle moet weer in die lande Basan en Gilead wei, soos lank gelede.” Die Here sê: “Ek sal die volk help. Hulle sal weer wonderwerke sien, soos lank gelede toe julle uit Egipte gekom het.” Die volke sal dit sien en hulle sal nie weet wat om te doen nie. Hulle sal niks kan doen nie, hulle sal hulle monde en hulle ore toedruk met hulle hande. Hulle sal stof lek soos slange wat op die grond seil. Hulle sal bewe en uit hulle wegkruip-plekke kom na ons God die Here toe. Hulle sal skrik, hulle sal bang wees vir Hom. Daar is nie nog 'n God soos U nie, Here. U vergewe ons sonde. Ons is die mense van u volk, die mense wat nog lewe. U bly nie altyd kwaad nie, U wil graag lief wees vir ons. U sal weer goed wees vir ons, U sal ons sonde stukkend trap en dit in die see gooi. U sal die Israeliete nie los nie. U sal altyd lief wees vir die nageslag van Abraham. U het dit belowe aan ons voorvaders, lank gelede.
MIGA 7:11-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daar kom 'n dag om jou mure te herbou! In dié dag sal die gebied ruim wees. Dit is 'n dag dat hulle na jou sal kom van Assur en die stede van Egipte, en van Egipte tot by die Eufraat, en van see tot see, en van berg tot berg. Maar die aarde sal 'n wildernis word vanweë sy inwoners, as gevolg van hulle handelinge. Wei u volk met u staf, die kudde wat u erfdeel is, wat afgesonderd woon in 'n bosveld op Karmel; laat hulle wei in Basan en Gílead soos in die ou dae. Soos in die dae van jou uittog uit Egipteland sal Ek hom wonders laat sien. Die nasies sal dit sien en skaam wees ondanks al hulle krag: hulle sal die hand op die mond lê, hulle ore sal doof word. Hulle sal stof lek soos die slang, hulle sal soos grondkruipers bewende uit hulle vestings te voorskyn kom, hulle sal sidderende kom na die HERE onse God, en hulle sal vir U vrees. Wie is 'n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het 'n welbehae in goedertierenheid. Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp. U sal trou bewys aan Jakob, goedertierenheid aan Abraham, wat U aan ons vaders met 'n eed beloof het sedert die dae van die voortyd.
MIGA 7:11-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die dag wanneer jou mure herbou word, dié dag sal jy nie onder die vyand se wet staan nie. Dié dag sal hulle na jou toe kom van Assirië af tot by die vestingstede, van die vestingstad af tot by die Eufraat, van die een see af tot by die ander en van die een berg af tot by die ander. Die aarde sal verwoes wees oor sy inwoners, oor alles wat hulle gedoen het. Pas jou volk op met jou kierie, die kleinvee wat aan jou behoort, wat alleen wei in die Karmelbos. Hulle sal in Basan en Gilead wei soos lank gelede. Ek sal jou wonders laat sien soos in die tyd toe jy uit Egipte getrek het. Die nasies sal dit sien en teleurgestel staan, al was hulle ook hoe sterk. Hulle sal stilbly, hulle sal hulle doof hou. Hulle sal stof eet soos die slange wat op die grond seil, hulle sal bewe en uit hulle wegkruipplekke uitkom na die Here ons God toe. Hulle sal skrik en vir U bang wees. Wie is 'n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. U sal getrou wees teenoor Jakob, liefde betoon aan Abraham, soos U in die voortyd aan ons voorvaders met 'n eed beloof het.
MIGA 7:11-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is tyd om jou verdedigingsmure te herbou, dit is 'n tyd daardie wanneer jou grense uitgebrei sal word. Dit is die tyd wanneer hulle tot by jou sal kom, van Assur en die stede van Egipte, ja, van Egipte tot by die Rivier, van see tot see en berg tot berg. Die aarde sal 'n verlate wildernis word oor sy inwoners, oor die vrug van hulle dade. Pas u volk op met u staf, die kleinvee wat u eiendom is, wat eensaam woon in 'n bos in die middel van 'n vrugbare gebied. Laat hulle in Basan en Gilead wei, soos in die ou tyd. “Soos in die dae toe jy uit Egipteland getrek het, sal Ek hom weer wonderwerke laat beleef.” Die nasies sal dit sien en beskaamd staan, sonder al hulle heldhaftigheid. Hulle sal die hand op die mond lê, hulle ore sal doof word. Hulle sal stof lek soos 'n slang, soos dié wat op die grond seil. Hulle sal sidderend uit hulle kerkers kom; na die HERE ons God sal hulle bewend gaan, ja, hulle sal vir U bang wees. Wie is 'n God soos U? U is 'n God wat skuld vergewe, wat by die oortreding verbygaan tot voordeel van die oorblyfsel van sy eiendom, wat nie vir altyd vasklem aan sy toorn nie, maar wat vreugde vind in troue liefde, wat ons weer genadig sal wees, ons skuld sal vertrap. U sal al ons sondes in die dieptes van die see gooi. U sal aan Jakob trou bewys, aan Abraham die troue liefde wat U aan ons voorouers met 'n eed beloof het in die voortyd.
MIGA 7:11-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Op die dag dat jou mure gebou moet word, in dié dag sal die besluit ver verwyder word. In dié dag sal hy ook na jou toe kom van Assirië en van die versterkte stede en van die vesting tot by die rivier, en van see tot see en van berg tot berg. Maar die land sal 'n wildernis wees vanweë die wat daarin woon, vanweë die vrug van hulle handelinge. Laat u volk wei met u staf, die kudde van u erfdeel wat alleen in die bos woon, in die middel van Karmel; laat hulle wei in Basan en Gílead soos in die dae van ouds. Volgens die dae van jou uittog uit Egipteland sal Ek aan hom wonders laat sien. Die nasies sal dit sien en beskaamd staan van al hulle mag; hulle sal hul hand op hul mond lê, hul ore sal doof wees. Hulle sal die stof lek soos 'n slang, hulle sal uit hul gate beweeg soos wurms van die aarde; hulle sal bang wees vir die HERE onse God en vir U vrees. Wie is 'n God soos U, wat ongeregtigheid vergewe en die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou sy toorn nie vir ewig vas nie, want Hy het 'n welbehae in goedertierenheid. Hy sal weer omdraai, Hy sal Hom oor ons ontferm; Hy sal ons ongeregtighede onderwerp; en U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp. U sal die waarheid aan Jakob bewys en aan Abraham die goedertierenheid wat U aan ons vaders met 'n eed beloof het van die dae af.
MIGA 7:11-20 Die Boodskap (DB)
“Daar gaan ’n tyd vir Israel kom om hulle stede weer reg te maak nadat die vyande dit verniel het. Hulle gaan dan ook hulle grense uitskuif en so meer grond kry. Wanneer hierdie tyd aanbreek wat Israel verwag, sal mense van oral na hulle toe kom. Hulle sal van Assirië, Egipte en die gebied by die Eufraat af kom. Verder sal hulle ook van die verste see en die verste berge af kom. Die lande van die vyande sal wild en leeg word. Mense sal nie daar wil bly nie. Hoekom gebeur dit? Omdat die mense wat daar bly, slegte dinge gedoen het.” “Israel vra die Here om hulle te versorg en te beskerm soos ’n herder met sy skape maak. Hulle bly nou baie eenkant en alleen soos mense in ’n bos. Rondom hulle is die grond baie vrugbaar. Hulle wens dat die Here hulle sal toelaat om weer hierdie grond te gebruik waar alles so goed groei en groen is. Jare terug het hulle dit gedoen. Hulle vra dat die Here hulle weer op sulke wonderlike maniere sal help soos Hy in Egipte vir hulle gedoen het. Toe het Hy gesorg dat hulle nie langer slawe sou wees nie. Die volke van die wêreld sal stom van verbasing wees oor wat die Here vir sy mense doen. Hulle sal skaam wees omdat hulle eie krag skielik na niks lyk nie as hulle kyk na wat die Here doen. Hulle sal hulle monde en ore toedruk van skok. Hulle sal dan weet dat hulle nie veel werd is nie. Hulle sal wees soos slange wat laag op die grond seil. Hulle sal bang en bewerig uit hulle lêplekke kom omdat hulle weet die Here is daar. “Daar is nie nog ’n God soos die Here nie. Hy vergewe die mense van Israel wat oor is vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. Hy bly nie vir altyd kwaad nie. Hy wys vir sy mense dat Hy vir hulle lief is. Hy sal ons weer jammer kry. Al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, sal Hy onder sy voete vertrap. Hy sal nog meer as dit doen, Hy sal dit baie diep in die see gooi. Dit sal so goed wees of hierdie verkeerde dinge nooit eers gedoen is nie. Lank terug in die verlede het die Here aan Abraham en sy nageslag beloof dat Hy altyd vir hulle sal sorg. Hulle sal ook altyd weet dat Hy vir hulle lief is.”
MIGA 7:11-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Israel, daar sal ’n tyd aanbreek wanneer julle julle stede sal herbou en julle grense sal uitbrei. In dié tyd sal mense van verskillende lande kom om eer aan julle te bring. Hulle sal van Assirië af kom tot by Matsor in Egipte, van Matsor af tot by die Eufraat, van see tot see en van berg tot berg. Maar die aarde sal leeg en verlate wees as gevolg van wat die inwoners gedoen het. HERE Kom lei u volk soos ’n herder, die kudde wat aan U behoort! Hulle wei alleen in ’n bos in Karmel. Laat hulle weer soos vroeër wei tot in Basan en Gilead. “Ek sal hulle weer wonders laat sien soos toe Ek hulle uit Egipte uitgelei het.” Die nasies van die wêreld sal verbaas staan oor wat die HERE vir julle sal doen. Hulle sal skaam kry oor hulle kragteloosheid. Hulle sal stomverbaas staan, hulle ore sal doof word. Die volke sal dan besef dat hulle nikswerd is. Hulle sal soos slange oor die grond seil, soos kruipende gediertes op die aarde. Hulle sal bewend uit hulle skuilings na die HERE ons God toe kom, bevrees en bang vir sy teenwoordigheid. Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde en straf nie die sonde of die oortredings van hulle wat oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, maar is liefdevol en getrou. U sal weer medelye hê met ons. U sal ons sonde onder u voete vertrap, dit weggooi in die diepte van die see! Reeds lank gelede het U aan ons voorvaders, Jakob en Abraham, u trou en liefde met ’n eed belowe. Betoon dit nou ook aan ons.