Miga 5:6-14
Miga 5:6-14 ABA
Die Israeliete wat nog lewe, sal wees soos dou wat van die Here kom na baie volke toe. Hulle sal wees soos goeie reën wat die gras groen laat word. Die Israeliete wat nog lewe, sal tussen al die volke wees soos leeus wat tussen wilde diere loop, of soos leeus wat tussen 'n klomp skape loop en hulle doodbyt. Niemand kan die diere uit die leeus se bekke ruk nie. Die Israeliete sal hulle vyande almal doodmaak.” Maar die Here sê: “Ek sal daardie dag julle perde doodmaak en julle oorlogkarre verwoes. Ek sal die stede in julle land verwoes, Ek sal hulle sterk mure afbreek. Ek sal die goed waarmee julle toor, uit julle hand ruk. Daar sal nie meer mense by julle wees wat dink hulle weet wat ander mense nie kan weet nie. Ek sal julle beelde en julle klip-pale verwoes. Julle sal nie meer buig voor afgode wat julle self gemaak het nie. Ek sal julle gewyde pale uitruk en julle stede verwoes. Ek sal die volke swaar straf wat nie geluister het na My nie.”




