Matteus 23:13-39

Matteus 23:13-39 ABA

“Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle wat skynheilige mense is. Dit sal sleg gaan met julle, want julle keer mense sodat hulle nie kan ingaan na God nie, God die Koning wat in die hemel is. Julle gaan self nie in nie en julle laat nie die mense ingaan wat wil ingaan nie. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Julle gaan oral oor die see en in al die lande om een mens te leer om God te aanbid soos julle dit doen. En wanneer iemand soos julle geword het, dan maak julle hom twee maal slegter as julleself en dan gaan hy hel toe. “Dit sal sleg gaan met julle, julle is soos blinde mense wat vir ander blindes wil wys waar hulle moet loop. Julle sê: ‘As iemand iets belowe en hy sê die tempel is die getuie, dan maak dit nie saak as hy nie doen wat hy belowe het nie. Maar as iemand iets belowe en hy sê die goud van die tempel is die getuie, dan moet hy doen wat hy belowe het.’ Julle is blind en dwaas. Wat is die belangrikste: die goud of die tempel? Want die tempel maak die goud gewyd. En julle sê: ‘As iemand iets belowe en hy sê die altaar is die getuie, dan maak dit nie saak as hy nie doen wat hy belowe het nie. Maar as iemand iets belowe en hy sê die offer aan God op die altaar is die getuie, dan moet hy doen wat hy belowe het.’ Julle is blind! Wat is die belangrikste: die offer of die altaar wat die offer gewyd maak? Iemand wat iets belowe en sê die altaar is sy getuie, belowe dit en sê die altaar en alles daarop is sy getuie. En iemand wat iets belowe en sê die tempel is sy getuie, belowe dit en sê die tempel en God wat in die tempel woon, is sy getuie. En iemand wat iets belowe en sê die hemel is sy getuie, belowe dit en sê die troon van God en God wat op die troon sit, is sy getuie. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Want julle gee tiendes, ook van kruisement, anys en koljander, maar julle doen nie die belangrikste dinge wat die wette van God vra nie. Die belangrikste dinge is: Julle moet reg doen aan mense, julle moet goed wees vir mense en julle moet doen wat julle belowe het. Hierdie dinge moet julle doen en julle moenie ophou om tiendes te gee nie. Julle is blindes wat vir ander blindes wil wys waar hulle moet loop. Julle is soos mense wat water deur 'n doek gooi sodat hulle nie 'n klein muggie sal insluk nie, maar hulle sluk 'n kameel in. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle wat skynheilige mense is. Julle maak die buitekant van julle bekers en borde skoon, maar julle het alles gevat wat in die bekers en op die borde is, julle het dit van ander mense gevat omdat julle net vir julleself wil sorg. Fariseër, jy wat blind is, jy moet eers die binnekant van die beker skoonmaak, dan sal die buitekant ook skoon wees. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Julle is soos grafte wanneer mense dit wit geverf het. Die buitekant lyk mooi, maar binne-in is dit vol bene van dooie mense en ander dinge wat onrein is. Julle is ook so: Wanneer mense na julle kyk, dan lyk julle soos mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, maar in julle harte is julle skynheilig en doen julle nie wat God se wette sê nie. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Julle bou grafkamers vir die profete en julle maak die monumente mooi vir die mense wat gehoorsaam was aan die wette van die Here. “Julle sê: ‘As ons gelewe het in die tyd toe ons voorouers gelewe het, dan sou ons nie vir hulle gehelp het om die profete te vermoor nie.’ So sê julle self dat julle die nageslag is van die mense wat die profete vermoor het. Julle moet klaarmaak wat julle voorouers begin het! Julle is soos slange, soos 'n klomp adders! Wie het vir julle gesê julle kan vlug sodat God julle nie sal straf in die hel nie? Daarom, Ek sal nou profete en wyse mense en skrifgeleerdes na julle toe stuur. Julle sal party van hulle doodmaak en kruisig. Julle sal party van hulle met swepe slaan in julle sinagoges, en julle sal hulle jaag en in elke stad laat swaarkry. Ek stuur hulle sodat God vir julle kan straf omdat julle baie onskuldige mense op die aarde vermoor het. Julle het begin by die onskuldige Abel, julle het hom vermoor en julle het aangehou om onskuldige mense te vermoor totdat julle ook vir Sagaria seun van Berekja vermoor het. Julle het hom vermoor tussen die tempel en die altaar. Ek sê vir julle, en dit is seker: God sal julle straf oor alles, julle wat nou lewe.” Jesus het ook gesê: “Mense van Jerusalem, julle maak die profete dood, julle gooi die boodskappers wat God na julle toe gestuur het, dood met klippe. Mense van Jerusalem, Ek wou julle baie maal bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie kom nie. Julle moet nou goed luister: Daar sal niemand in Jerusalem oorbly wat lewe nie. Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af nie weer sien nie tot daardie dag wanneer julle sal sê: ‘ Prys die Man wat kom! Die Here het Hom gestuur om sy werk te kom doen.’ ”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid