Lukas 24

24
Jesus lewe weer
(Ook Matt 28:1,3-8; Mark 16:2,4-8; Joh 20:1-3,5,10)
1Baie vroeg die Sondag-oggend het die vroue na die graf gegaan. Hulle het lekkerruik-olie gereedgemaak en hulle het dit saamgeneem. 2By die graf het hulle gesien iemand het die klip voor die graf weggerol. 3Hulle gaan toe by die graf in, maar sien nie die liggaam van die Here Jesus daar binne nie. 4Die vroue was baie verbaas daaroor. Skielik het daar twee mans by hulle gestaan, die mans het blink klere aangehad. 5Die vroue het bang geword en hulle het laag gebuig. Toe sê die mans vir hulle: “Hoekom soek julle die Een wat lewe by die mense wat dood is? 6Jesus is nie hier nie, God het Hom weer laat lewe. Onthou julle wat Jesus vir julle vertel het toe julle nog in Galilea was? 7Hy het gesê God sal Hom, die Seun van die mens, vir sondige mense gee om dood te maak, hulle sal Hom kruisig, maar Hy sal op die derde dag weer lewe.”
8Die vroue het toe onthou dat Jesus dit gesê het. 9Daarna het die vroue teruggegaan huis toe. Hulle het alles vir die elf apostels en die ander gelowiges vertel. 10Die vroue wat hierdie dinge gesien het, was Maria Magdalena, Johanna, Maria ma van Jakobus, en die ander vroue wat by hulle was. Toe hulle hierdie dinge vir die apostels vertel, 11het die apostels gedink die vroue praat nonsens, en hulle het die vroue nie geglo nie. 12Petrus het opgestaan en hy het na die graf gehardloop. Hy het gebuk en by die graf ingekyk en gesien daar lê net lappe. Hy het teruggegaan en hy was baie verbaas oor wat gebeur het.
Die twee mans wat na Emmaus geloop het
13Dieselfde Sondag het twee van die mense wat ook altyd by Jesus se dissipels was, na die dorpie Emmaus geloop. Emmaus was 60 stadioi van Jerusalem. 14Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat gebeur het met Jesus. 15Terwyl hulle daaroor wonder en praat, het Jesus self nader gekom en saam met hulle geloop. 16Maar hulle het nie gesien dit is Jesus nie, God het hulle dit nie laat sien nie. 17Jesus het vir hulle gevra: “Waaroor loop en praat julle met mekaar?”
Die twee mans het gaan staan. Hulle was baie hartseer. 18Kleopas, een van die mans, het vir Jesus gevra: “Woon jy nie in Jerusalem nie? Weet jy nie van al die dinge wat hier gebeur het in die dae wat verby is nie?”
19Jesus het vir hulle gevra: “Watter dinge?”
Hulle sê toe vir Jesus: “Al die dinge wat gebeur het met Jesus, die man van Nasaret. Jesus was 'n profeet. Hy het wonderlike dinge gedoen en gesê. God was by Hom en al die mense het van Hom geweet. 20Maar die priesterleiers en die leiers van ons volk het niks daarvan gehou nie. Hulle het vir Jesus gaan beskuldig by Pilatus, hulle wou hê Pilatus moet sê dat Jesus moet sterf. Toe het hulle vir Jesus gekruisig. 21Ons het gehoop Jesus is die Messias wat die volk Israel kon vrymaak. Maar dit het nie gebeur nie, want Jesus het drie dae gelede gesterf. 22-23'n Paar vroue wat by ons is, het vroeg die oggend by die graf gekom en hulle het nie Jesus se liggaam daar gekry nie. Ons was verbaas daaroor. Die vroue sê ook hulle het engele gesien en die engele het gesê Jesus lewe. 24Party ander mense wat by ons is, het ook na die graf gegaan. Hulle het gesien alles is presies soos die vroue gesê het. Maar hulle het nie vir Jesus gesien nie.”
25Toe sê Jesus vir die twee mans: “Hoekom verstaan julle nie wat gebeur het nie? Hoekom wil julle nie glo wat die profete gesê het nie? 26Die profete het gesê die Christus moet eers swaarkry en dan sal Hy Koning word.”
27Toe het Jesus begin om vir hulle te verduidelik wat die boeke van Moses en die profete en die ander boeke van die Ou Testament oor Hom sê. 28Toe hulle naby die dorpie kom waarnatoe hulle geloop het, het Jesus gemaak of Hy verder wil loop. 29Maar die twee mans het vir Jesus gesê: “Nee, bly by ons, want dit is amper aand, die dag is verby.”
Jesus het toe saam met hulle by die huis ingegaan en Hy het by hulle gebly. 30Toe hulle saam begin eet, het Jesus die brood geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood gebreek en dit vir die twee mans gegee. 31Toe het God hulle laat sien dat dit Jesus is. Maar toe het Jesus skielik verdwyn, hulle kon Hom nie meer sien nie. 32Die mans het vir mekaar gesê: “Nou weet ons hoekom ons so opgewonde was toe Hy met ons op die pad gepraat het en vir ons alles uit die Bybel verduidelik het.”
33Die twee mans het dadelik opgestaan en hulle het teruggegaan na Jerusalem. Hulle het die elf apostels daar gekry en ook die ander mense by hulle. 34Die apostels en die ander mense het vir die mans vertel dat die Here regtig weer lewe en dat Hy aan Simon verskyn het. 35Toe het die twee mans vir die apostels en die ander mense vertel wat alles gebeur het. Hulle het gesê hulle het besef dit is Jesus toe Hy die brood gebreek het.
Jesus verskyn weer aan die dissipels
(Ook Matt 28:19-20; Joh 20:19-23)
36Die apostels was nog besig om oor hierdie dinge te praat, toe het Jesus tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “God sal vir julle vrede gee.”
37Hulle het groot geskrik, hulle het gedink hulle sien 'n spook. 38Maar Jesus het vir hulle gesê: “Hoekom skrik julle so? En hoekom glo julle nie wat julle sien nie? 39Kyk na my hande en my voete. Julle sal sien dit is Ek. Kom raak aan My, julle sal sien Ek het 'n liggaam, 'n spook het nie vleis en been nie.”
40Jesus het dit gesê, en Hy het sy hande en sy voete vir hulle gewys. 41Hulle was bly maar hulle kon nie glo wat hulle sien nie en hulle het nie geweet wat om te sê nie. Toe vra Jesus vir hulle: “Het julle hier iets wat Ek kan eet?”
42Hulle het vir Hom 'n stuk gaar vis gegee. 43Jesus het dit geneem en hulle het gekyk terwyl Hy dit eet. 44Daarna het Jesus vir hulle gesê: “Onthou julle wat Ek gesê het voor Ek gesterf het en weer begin lewe het? Ek het toe vir julle gesê dat alles waar moet word wat in die boeke van Moses geskryf is oor My, en ook in die boeke van die profete en in die boek Psalms.”
45Toe het Jesus vir hulle gesê hoe hulle die Bybel moet verstaan. 46Hy het vir hulle gesê: “Daar is in die Ou Testament geskryf dat die Christus sal swaarkry en dat Hy op die derde dag weer sal begin lewe. 47Daar is geskryf dat die mense wat in God glo, vir al die volke moet vertel dat God mense se sondes vergewe as hulle in Christus glo en as hulle verander en lewe soos God wil hê. Julle moet in Jerusalem begin 48en vir die mense vertel wat julle van My gesien en gehoor het. 49En onthou, Ek sal vir julle die Heilige Gees stuur wat my Vader belowe het. Maar julle moet in Jerusalem bly totdat God vir julle krag gegee het.”
Jesus gaan na die hemel
50Toe het Jesus gesê die apostels moet saam met Hom gaan. Hy het hulle geneem tot by die stad Betanië. Jesus het sy hande uitgesteek en Hy het hulle geseën. 51Hy het hulle geseën terwyl Hy weggegaan het van hulle. God het Hom na die hemel geneem. 52Die apostels het Jesus aanbid en daarna het hulle teruggegaan na Jerusalem. Hulle was baie bly. 53Hulle het elke dag na die tempel gegaan en hulle het God geprys.

Tans Gekies:

Lukas 24: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid