Lukas 17

17
Jesus praat oor verskillende dinge
(Ook Matt 18:6-7,15,21-22; 17:19-21; Mark 9:42,28-29)
1Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Daar sal altyd iemand wees wat probeer om gelowiges te laat ophou glo. Maar dit sal sleg gaan met die mens wat gelowiges wil laat ophou glo. 2As hy iemand laat ophou glo, iemand wat nie sterk glo nie, dan sal dit baie sleg gaan met hom. Dit sal vir hom beter wees as hulle 'n baie groot klip om sy nek vasmaak en hom in die see gooi. 3Julle moet mekaar goed oppas. As 'n ander gelowige sonde doen, dan moet jy met hom praat, en as hy sê hy is jammer, dan moet jy hom vergewe. 4En as hy sewe maal op 'n dag sonde doen teen jou en sewe maal na jou toe kom en sê: ‘Ek is jammer,’ dan moet jy hom vergewe.”
5Die apostels het vir die Here gesê: “Help ons asseblief om sterker te glo.”
6Toe het die Here gesê: “As julle 'n bietjie geloof het, so klein soos 'n mosterd-saadjie, dan sal julle vir hierdie moerbeiboom kan sê: ‘Trek jouself uit die grond en plant jouself in die see.’ Dan sal die boom doen wat julle sê. 7As een van julle 'n slaaf het wat ploeg of skape oppas, en hy kom in die aand van die veld af by die huis, wat sal jy vir hom sê? Sal jy vir hom sê: ‘Kom eet jy eerste’? 8Nee, jy sal vir hom sê: ‘Maak vir my aand-ete en bedien my, soos 'n goeie slaaf dit moet doen, totdat ek klaar geëet en gedrink het. Daarna kan jy eet.’ 9Jy sê nie vir die slaaf dankie nie, want hy het gedoen wat hy móét doen.”
10Jesus sê toe vir sy dissipels: “Julle is ook soos slawe. Wanneer julle doen wat Ek vir julle gesê het om te doen, dan moet julle sê: ‘Ons het gedoen wat ons móét doen, ons dink nie dat die Here ons daarvoor moet beloon nie.’ ”
Jesus maak tien melaatse mans gesond
11Jesus was nog op pad na Jerusalem. Hy was op die grens tussen Samaria en Galilea. 12Toe Hy by 'n dorpie wou ingaan, kom daar tien melaatse mans na Hom toe. Hulle het gaan staan voordat hulle naby Hom was 13en hulle het hard geroep: “Jesus, Meneer, U moet asseblief jammer wees vir ons en U moet ons help.”
14Jesus het hulle gesien en Hy het vir hulle gesê: “Gaan wys julleself vir die priesters.”
Toe hulle weggaan, het hulle gesond geword. God het hulle rein gemaak. 15Hulle het gesien hulle is gesond, maar net een van hulle het omgedraai en God geprys, so hard dat baie mense dit kon hoor. 16Hy het by die voete van Jesus gekniel met sy gesig teen die grond en hy het vir Jesus dankie gesê. Hy was 'n Samaritaan. 17Jesus was verbaas en Hy sê toe: “God het tien melaatse mans gesond gemaak. Waar is die ander nege? 18Het hulle nie ook dankbaar gevoel en teruggekom om God te prys nie? Hierdie man is nie 'n Jood nie, maar hy alleen het dankbaar gevoel.”
19Jesus het vir die Samaritaanse man gesê: “Staan op en gaan huis toe. Jy het geglo, en daarom het God jou gered.”
Hoe sal dit wees wanneer die Seun van die mens weer kom?
(Ook Matt 24:23,26-27,37-39,17-18; 10:39; 24:40-41,28; Mark 13:19,21,15-16)
20Die Fariseërs het vir Jesus gevra: “Wanneer sal almal weet dat God Koning is?” Jesus het vir hulle gesê: “'n Mens kan nie voor die tyd uitvind wanneer dit sal gebeur nie. 21Mense sal nie kan sê: ‘Kom kyk hier,’ of ‘Gaan kyk daar, dan sal julle sien God is Koning’ nie. Nee, julle kan nou sien God is Koning, want Ek is by julle en Ek doen die werk van God.”
22Toe praat Jesus met die dissipels en Hy sê: “Daar sal 'n tyd kom wanneer julle sal wens dat julle net een maal kan sien die Seun van die mens is Koning, maar julle sal dit nie sien nie. 23Ja, die mense sal vir julle sê: ‘Gaan kyk daar’ of ‘Kom kyk hier.’ Maar julle moenie gaan nie, julle moenie saam met hulle gaan nie. 24Wanneer die Seun van die mens kom, dan sal dit wees soos wanneer 'n weerligstraal alles lig maak, van die een kant van die lug tot by die ander kant. 25Maar Ek, die Seun van die mens, moet eers baie swaar kry, en die mense wat nou lewe, moet eers weier om My te aanvaar. 26Wanneer die Seun van die mens kom, dan sal dit wees soos in die tyd toe Noag gelewe het. 27 In daardie tyd het die mense aangehou om te eet en te drink en te trou en hulle kinders te laat trou tot die dag toe Noag in die ark ingegaan het. Toe het die watervloed gekom en alles verwoes. 28In die tyd toe Lot gelewe het, was dit ook so. Die mense het geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant en gebou. 29 Maar die dag toe Lot uit Sodom weggegaan het, het daar vuur en swael uit die hemel gereën en dit het alles verwoes. 30So sal dit ook wees die dag wanneer God vir die mense sal wys wie is die Seun van die mens. 31As iemand daardie dag op sy huis se dak sit, dan moet hy nie afkom om sy goed in die huis te red nie. So ook, as daar iemand in die koringland is, dan moet hy nie omdraai nie. 32Julle moet onthou wat met Lot se vrou gebeur het. 33Elkeen wat daardie dag sy eie lewe probeer red, sal dit verloor, maar elkeen wat daardie dag sy lewe verloor, sal dit red. 34Ek sê vir julle, daardie nag sal twee mense op een bed slaap, en God sal die een mens kies en nie die ander een nie. 35Daar sal twee vroue wees wat op dieselfde plek koring maal, en God sal een vrou kies maar nie die ander een nie.” 36
37Die dissipels vra toe vir Jesus: “Here, waar sal dit alles gebeur?”
Jesus het vir hulle gesê: “Mense sal dit weet, soos hulle weet 'n dooie liggaam is daar waar aasvoëls bymekaarkom.”

Tans Gekies:

Lukas 17: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid