Levitikus 22

22
Die priesters moet versigtig wees met die gewyde presente van die Israeliete
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Jy moet vir Aäron en sy seuns sê hulle moet versigtig wees met die gewyde presente wat die Israeliete aan My wy, die priesters moenie my heilige Naam ontwy nie. Ek is die Here. 3Jy moet vir hulle sê: Wanneer iemand van julle nageslag onrein is, en hy kom naby die gewyde presente wat die Israeliete aan die Here gewy het, dan moet julle hom afsny van my tempel. Ek is die Here. 4Wanneer 'n man van die nageslag van Aäron melaats is of daar kom iets nat uit hom, dan moet hy eers rein word, en daarna mag hy eet van die gewyde presente.
“'n Man word onrein as daar saad uit hom gekom het, of as hy aan 'n lyk geraak het. 5Hy word ook onrein wanneer hy raak aan 'n man wat onrein geword het van enige een van die klein diertjies, of aan 'n mens wat onrein is. 6Wanneer hy aan enige een van hierdie dinge of persone geraak het, dan sal hy onrein wees tot die aand. Hy moet eers bad voordat hy van die gewyde presente mag eet. 7Hy sal rein wees nadat die son ondergegaan het, daarna mag hy van die gewyde presente eet, want dit is sy kos.
8“Wanneer 'n dier self gevrek het of wanneer 'n wilde dier dit gevang het, dan mag 'n priester nie die vleis eet nie, want die priester sal dan onrein word. Ek is die Here. 9Die priesters moet aanhou om te doen wat Ek wil hê, sodat hulle nie skuldig word en sterf omdat hulle die tempel ontwy het nie. Ek is die Here, Ek het hulle gewy. 10Iemand wat nie 'n priester is nie, mag nie van die gewyde presente eet nie. 'n Priester se bywoner of sy dagloner mag nie van die gewyde presente eet nie. 11As die priester 'n slaaf gekoop het of as 'n slaaf in sy huis gebore is, dan mag die slaaf van die priester se kos eet. 12'n Priester se dogter wat getroud is met 'n man wat nie 'n priester is nie, mag nie eet van die offers wat gewyde presente is nie. 13As 'n priester se dogter 'n weduwee geword het of as sy geskei het van haar man en sy het nie kinders nie en sy gaan woon weer in haar pa se huis soos toe sy jonk was, dan mag sy van haar pa se kos eet. Iemand wat nie 'n priester is nie, mag nie van die kos eet nie. 14As 'n persoon van die gewyde kos eet maar hy het nie geweet dat dit gewyde kos is nie, dan moet hy vir die priester 'n gewyde present gee en hy moet nog een vyfde van die kos daarby sit. 15Die priesters mag nie die gewyde presente ontwy wat die Israeliete vir die Here offer nie. 16As hulle dit doen wanneer hulle van die gewyde kos eet, dan sal hulle skuldig wees, en dan moet hulle 'n skuld-offer bring. Ek is die Here, Ek het hulle gewy.”
'n Offer moet so wees dat die Here dit wil aanvaar
17Die Here het vir Moses gesê: 18“Jy moet vir Aäron en sy seuns en al die Israeliete sê: 'n Israeliet of 'n vreemdeling wil miskien 'n gelofte-offer bring, of hy het 'n offer wat hy graag self wil gee om 'n brand-offer vir die Here te wees. 19Dan moet dit 'n gesonde bul of ram wees. Die Here sal dit aanvaar. 20Maar as die dier nie gesond is nie, dan moet julle dit nie offer nie, want die Here sal dit nie aanvaar nie.
21“En wanneer 'n persoon vir die Here ete-offers bring om 'n gelofte te betaal, of as hy graag 'n offer wil gee, dan moet hy 'n bees of 'n skaap of 'n bok offer wat gesond is. Die Here sal dit aanvaar, maar die dier moet heeltemal gesond wees. 22Julle mag nie vir die Here 'n dier offer wat blind is of wat seergekry het of wat vratte op sy vel het of wat 'n velsiekte het nie. Julle mag nie so 'n dier op die altaar bring om 'n vuur-offer te wees nie. 23Wanneer julle graag self 'n offer wil gee, dan mag julle 'n bees of 'n skaap gee wat gebreklik is, maar dit mag nie 'n gelofte-offer wees nie, die Here sal dit nie aanvaar nie. 24Wanneer 'n dier se geslagsorgane stukkend gedruk is of geskeur is of gesny is, dan mag julle dit nie vir die Here offer nie. Julle mag dit nie doen in julle land nie. 25Julle mag ook nie so 'n dier neem van iemand wat nie 'n Israeliet is nie en julle mag dit nie offer om kos te wees vir julle God nie, want die dier is gebreklik, hy is nie gesond nie. Ek sal dit nie aanvaar nie.”
26Die Here het vir Moses gesê: 27“Wanneer 'n kalf of 'n lam gebore is, dan moet hy sewe dae lank by sy ma bly. Van die agste dag af sal ek dit aanvaar om 'n vuur-offer vir My te wees. 28Maar julle mag nie 'n bul en sy kalf of 'n ram en sy lam op dieselfde dag slag nie. 29Wanneer julle vir My 'n dank-offer bring, dan moet julle dit só doen dat Ek dit aanvaar. 30Julle moet die vleis dieselfde dag op-eet, julle mag nie daarvan laat oorbly tot die volgende oggend nie. Ek is die Here. 31Julle moet aanhou om te doen wat my gebooie sê. Ek is die Here. 32Julle mag nie my heilige Naam ontwy nie, julle moet vir die Israeliete wys dat Ek heilig is. Ek is die Here, Ek het julle gewy. 33Ek het julle uit die land Egipte gebring sodat Ek julle God kan wees. Ek is die Here.”

Tans Gekies:

Levitikus 22: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid