Jeremia 20

20
1Die priester Pasgur was die hoof-opsigter van die tempel, en hy het gehoor wat Jeremia sê. 2Pasgur het die profeet Jeremia geslaan en hy het Jeremia in die blok gesit wat in die tempelpoort, die Boonste Benjamin-poort, was. 3Toe hy Jeremia die volgende oggend uit die blok haal, het Jeremia vir hom gesê: “Die Here sê jou naam is nie meer Pasgur nie, jou naam is nou Skrik-van-al-die-kante. 4Ja, die Here sê: Ek sal jou laat skrik vir jouself, en jou hele familie sal skrik. Jy sal sien hoe hulle vyande hulle doodmaak. Ek gee al die mense in die land Juda vir die koning van Babel. Hy sal hulle oorwin en hy sal party mense doodmaak en party wegvat na die land Babel. 5En Ek gee al die goed van hierdie stad vir die vyande, al die mooi goed wat die mense en die konings van Juda het. Die vyande sal alles vat wat hulle wil hê en hulle sal dit wegvat na Babel. 6En, Pasgur, jy en almal in jou huis sal gevangenes word in Babel. Jy het gelieg toe jy gesê het dat die Here jou gestuur het. Julle sal daar in Babel sterf en die mense sal jou daar begrawe.”
Hoekom is ek gebore?
7Here, U het my bedrieg,
en ek het geglo wat U gesê het,
U was te sterk vir my, U het gewen.
Die mense lag die hele dag vir my,
almal spot my,
8want elke maal wanneer ek moet praat,
dan moet ek skree en sê
hoe ander mense hulle sal seermaak
en sal laat swaarkry.
Die mense spot my en hulle lag vir my
omdat ek sê wat U vir my sê.
9En wanneer ek dink ek sal U vergeet
en ek sal nie u profeet wees nie,
dan brand dit soos 'n vuur binne-in my.
Ek probeer stilbly, maar ek is moeg,
ek kan nie meer nie.
10Want ek hoor hoe sê die mense
saggies vir mekaar:
“Hy het gesê daar kom skrik van al die kante.
Kom ons sê vir almal wat Jeremia sê,
kom ons beskuldig hom.”
Almal wat my vriende was,
wag ook dat dit sleg moet gaan met my.
Hulle sê: “Miskien kan ons vir Jeremia
iets laat doen wat verkeerd is,
dan kan ons hom vang en hom straf
oor die dinge wat hy doen.”
11Maar, Here, U is die Sterk Soldaat
wat my beskerm.
Daarom sal my vyande val,
hulle sal nie wen nie.
Hulle sal verloor,
hulle sal nie regkry wat hulle wil doen nie,
almal sal aanhou om hulle te spot.
12Here, U wat oor alles regeer,
U wat weet wat mense dink,
U moet vir my wys hoe U my vyande straf,
want ek het vir U gesê wat hulle doen.
13Julle moet vir die Here sing, julle moet Hom prys,
want Hy red mense wat hulleself nie kan red nie,
Hy red hulle van slegte mense.
14Ek wens ek was nooit gebore nie,
ek wens die dag toe my ma my gekry het,
het nooit gekom nie.
15Ek wens die man sterf wat vir my pa
kom sê het dat my pa 'n seun gekry het.
My pa was daardie dag baie bly.
16Ek wens daardie man word
soos die stede wat die Here verwoes het.
Niemand moet jammer wees vir daardie man nie,
hy moet elke dag hoor hoe skree die mense
en hoe vra hulle dat iemand hulle moet help.
Hy moet hoor hoe blaas hulle die ramshoring
in die middel van die dag.
17Dit moet so sleg gaan met daardie man
omdat hy my nie doodgemaak het
toe ek gebore is nie.
Dan was my ma my graf,
dan was sy vir altyd swanger.
18Hoekom is ek gebore?
Hoekom kry ek net seer en swaar?
Hoekom misluk alles wat ek doen?

Tans Gekies:

Jeremia 20: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid