Jesaja 6

6
Hier is ek, stuur my
1Ek, Jesaja, het die Here gesien. Dit was in die jaar toe koning Ussia gesterf het. Die Here het op 'n baie hoë troon gesit en die onderkant van sy klere het die tempel volgemaak. 2Bokant Hom het serafs gestaan. Elke seraf het ses vlerke gehad. Met twee vlerke het hy sy gesig toegemaak, met twee vlerke het hy sy voete toegemaak, en met twee vlerke het hy gevlieg. 3Die serafs het hard vir mekaar gesê: “ Heilig, heilig, heilig is die Here wat oor alles regeer. Hy is oral op die aarde.”
4Die serafs het baie hard gepraat, die deure het gebewe, en die tempel het vol rook geword. 5Ek het gesê: “Dit sal sleg gaan met my! Alles wat ek sê, is onrein, en alles wat my mense sê, is ook onrein. En nou het ek die Koning gesien, die Here wat oor alles regeer.”
6Een van die serafs het na my toe gevlieg. In sy hand was 'n warm vuur-kool, hy het dit met 'n tang gevat van die altaar. 7Hy het aan my mond geraak met die kool en hy het gesê: “Kyk, die kool het aan jou lippe geraak, nou is jou sonde weg, God het jou gereinig.”
8Toe hoor ek die Here praat. Hy het gevra:
“Vir wie sal Ek stuur?
Wie sal vir Ons 'n boodskap bring
na die mense van Juda toe?”
Ek het gesê: “Hier is ek, stuur my.”
9Die Here het gesê:
“Gaan sê vir hierdie volk:
‘Julle sal hoor en hoor wat Ek sê,
maar julle sal nie verstaan nie.
Julle sal kyk en kyk,
maar julle sal nie weet wat julle sien nie.’
10Jy moet hierdie volk dom maak,
jy moet hulle ore laat toegaan.
Jy moet hulle oë toemaak,
sodat hulle nie kan sien en hoor
en verstaan en verander
en lewe soos Ek wil hê nie,
en sodat Ek hulle nie sal gesond maak nie.”
11Ek het gevra:
“Here, tot wanneer
moet ek dit doen?”
En Hy het gesê:
“Totdat daar nie meer mense oorbly
in die stede nie,
totdat daar nie meer mense woon
in die huise nie,
totdat daar nie meer koring en vrugte is nie,
12en totdat Ek die mense weggevat het
na 'n ver land.
Daar sal niks oorbly in die land nie.
13Die vyande sal alles afbrand
wat oorbly in die land,
ook as daar net een tiende oor is.
Maar wanneer 'n mens 'n eikeboom
of 'n terpentynboom afkap,
dan bly staan daar 'n stuk van die boom
se stam in die grond.
So sal die gewyde volk ook oorbly.”

Tans Gekies:

Jesaja 6: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid