Jesaja 28

28
Dit sal sleg gaan met die stad Samaria
1Dit sal sleg gaan
met die stad Samaria.
Die mense van Efraim
wat altyd dronk is,
is trots op Samaria.
Die stad is op 'n berg
bokant 'n vrugbare vallei,
en dit is 'n mooi stad.
Maar dit sal word soos
'n blom wat droog word en afval.
2Die Here sal nou iemand stuur
wat sterk is en wat kan doen
wat hy wil.
Hy sal kom soos 'n hael-storm,
'n stormwind wat
alles verwoes.
Hy is soos 'n groot reën-storm
en hy sal die stad verwoes.
3Die dronk mense van Efraim is nou trots
op hulle stad,
maar ander mense sal met hulle voete
trap op die stad.
4Hierdie stad wat op 'n berg is
bokant 'n vrugbare vallei,
hierdie mooi stad sal word soos
'n blom wat droog word en afval.
Die stad sal word soos
die eerste vy wat ryp word:
Iemand sien die vy
en hy pluk dit
en sluk dit in.
5Die mense wat oorgebly het
van die volk van die Here,
sal daardie dag trots wees op Hom,
hulle sal trots wees op die Here
wat oor alles regeer.
6Hy sal vir hulle leer om in die poort
reg te besluit oor mense.
Hy sal die mense sterk maak
wat die vyande moet keer
wat in die stad wil inkom.
Die Here sal nou praat met hierdie volk
7Die priesters en die profete is ook dronk.
Hulle het wyn en bier gedrink
en hulle loop val-val.
Hulle weet nie wat hulle doen nie,
hulle weet nie waar hulle is nie.
Die Here wys vir hulle
wat sal gebeur,
maar hulle loop val-val.
Hulle moet sê wat is reg,
maar hulle kan nie regop staan nie.
8Hulle word naar en gooi op
en mors op al die tafels in die tempel.
9Hulle sê:
“Ons is nie klein kindertjies nie,
hoekom wil Jesaja vir ons leer?
Hoekom wil hy vir ons vertel
wat die Here vir hom gesê het?
10Ja, hy praat aanmekaar,
hy hou aan om vir ons te sê
wat ons moet doen.”
11Ja, hulle spot,
maar nou sal die Here
ook met húlle spot,
Hy sal op 'n ander manier
met hierdie volk praat.
12Hy het voorheen vir sy volk gesê:
“Hier is die plek waar julle kan rus,
hier moet julle die mense
wat moeg is, laat rus,
hier kan julle veilig woon.”
Maar hulle wou nie luister nie.
13Nou sal die Here weer
met hulle praat.
Hy sal aanhou om vir hulle te sê
wat hulle moet doen.
Hy sal dit doen totdat hulle
agteroor val en seerkry,
totdat die vyande hulle vang
en hulle wegvat.
Die watervloed sal kom
14Daarom, julle wat so spot,
julle wat oor hierdie volk regeer
wat in Jerusalem is,
julle moet nou luister
wat sê die Here.
15Julle moet luister,
want julle sê julle het
'n ooreenkoms gemaak
met die dood,
en wanneer die watervloed kom,
dan sal dit nie by julle kom nie.
Julle dink julle leuens
sal julle beskerm.
16Daarom sê die Here nou:
“Kyk, Ek sit 'n klip neer in Jerusalem.
Dit is 'n klip wat die mense sal toets,
dit is 'n harde hoek-klip waarop iemand
'n muur kan bou.
Die mense wat in My glo,
sal veilig wees.
Hulle sal nie vinnig moet vlug nie.
17Ek sal die mense toets
en Ek sal kyk of hulle reg gedoen het
en reg gelewe het.
Julle dink julle leuens sal julle beskerm,
maar wanneer die vyande
soos 'n hael-storm kom,
dan sal julle sterf, daar sal niks oorbly van julle nie.
Julle leuens sal julle nie beskerm nie.
18Julle ooreenkoms met die dood
sal niks help nie.
Wanneer die watervloed kom,
dan sal dit oor julle stroom.
19Die watervloed sal elke dag kom,
dit sal oor julle stroom
en dit sal julle elke maal wegspoel.
Dit sal kom in die dag en in die nag.
Almal sal skrik en bewe
wanneer hulle hoor dit kom.
20Niemand sal kan slaap nie.
Dit sal wees
soos wanneer jy wil slaap
maar die bed is te kort,
jy kan nie reguit daarop lê nie,
en die kombers is te klein,
jy kan jouself nie daarmee
toemaak nie.”
21Want die Here sal baie kwaad word
en Hy sal kom.
Hy sal kom soos Hy by Perasim-berg
gekom het
of soos Hy gekom het
in die Gibeon-vallei.
Hy sal kom om te doen
wat Hy wil doen,
en dit sal iets wees
waarvan julle nie weet nie.
22Daarom, julle moenie vir mekaar
sê dit sal nie gebeur nie,
want dan sal dit nog baie slegter gaan
met julle.
Ek het gehoor wat sê die Here,
die Here wat oor alles regeer.
Hy het klaar besluit,
Hy wil die hele land verwoes.
Die Here leer vir mense wat om te doen
23Julle moet luister,
julle moet hoor wat ek sê:
24'n Boer hou nie aan
om die grond te ploeg
wanneer hy iets wil saai nie.
Hy hou nie aan om
die harde grond stukkend te maak
en die grond gelyk te maak nie.
25Nee, wanneer hy die grond
gelyk gemaak het,
dan saai hy die saad.
Hy saai swartkomyn en komyn
en koring en sorghum
en gars en spelt.
Hy saai elke soort saad
waar dit moet kom.
26Die boer weet wat om te doen,
want sy God leer vir hom.
27Die boer trek nie 'n dors-slee of 'n dors-wa
oor swartkomyn en komyn
om die saadkorrels uit te kry nie.
Nee, hy slaan die saadkorrels uit
met 'n stok.
28En wanneer hy die koring trap
met 'n wa en met perde
om die koringkorrels uit te haal,
dan hou hy nie aan totdat
die koringkorrels stukkend is nie.
Nee, hy maal die koringkorrels
wanneer hy brood wil bak.
29Dit is wonderlik dat die boer
dit alles weet,
maar die Here het ook dit vir hom geleer,
die Here wat oor alles regeer.
Die Here leer vir mense wat om te doen.

Tans Gekies:

Jesaja 28: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid