Jesaja 10

10
1Dit sal sleg gaan met julle wat verkeerde wette maak,
wette wat party mense verkeerd laat doen
en ander mense swaar laat kry.
2Julle doen nie reg aan die arm mense nie,
julle doen nie reg aan die mense
wat hulleself nie kan help nie,
julle vat die weduwees en die weeskinders se goed.
3Wat sal julle doen wanneer die Here julle straf
en dit sleg laat gaan met julle?
Na wie toe sal julle hardloop om julle te help?
Waar sal julle al julle goed wegsteek?
4Die vyande sal julle vang
en julle sal voor hulle moet buig,
of julle sal sterf in die oorlog.
Maar dit was nie genoeg vir die Here nie.
Hy het kwaad gebly en Hy het aangehou om hulle te straf.
Dit sal sleg gaan met die Assiriërs
5Dit sal sleg gaan met die Assiriërs.
Hulle was vir My 'n kierie en 'n stok.
Ek slaan my volk met die kierie,
want Ek is kwaad vir hulle.
6Ek stuur die Assiriërs na hierdie slegte volk toe,
na die mense vir wie Ek kwaad is.
Die Assiriërs moet my volk se goed vat
en op hulle trap soos 'n mens trap
op modder in die strate.
7Maar dit is nie genoeg vir die Assiriërs nie,
hulle wil mense doodmaak,
hulle wil baie volke doodmaak.
8Die koning van Assirië sê:
“My amptenare is konings van ander volke.
9Ek het baie stede oorwin:
Kalno, Karkemis, Hamat, Arpad, Samaria en Damaskus.
10Ek het die afgode se stede oorwin,
en daar is meer beelde in die ander stede
as in Jerusalem en Samaria.
11Ek sal met Jerusalem en die beelde van sy afgode doen
soos ek gedoen het met Samaria en sy afgode.”
12Die Here sal die werk klaarmaak wat Hy wil doen
op Sionsberg en in Jerusalem,
en dan sal Hy die koning van Assirië straf,
die koning wat so hoogmoedig is.
13Want die koning van Assirië het gesê:
“Ek is sterk en ek is slim,
ek het ander mense se lande en goed gevat.
Daardie mense is nou my slawe.
14Ek het alles vir myself gevat
wat aan die ander volke behoort,
en al hulle lande het my lande geword.
Dit was soos wanneer iemand eiers uit 'n nes vat
maar die voël klap nie sy vlerke nie,
en hy maak nie sy bek oop en skree nie.”
15'n Byl kan nie spog
teen die man wat met die byl kap nie,
'n saag kan hom nie verbeel
hy is beter as die man wat met hom saag nie,
'n kierie kan nie die man swaai
wat die kierie optel nie,
'n stok kan nie die man optel
wat die stok vashou nie.
16Daarom sal die Here die Assiriërs straf.
Die Here wat oor alles regeer,
sal die vet Assiriërs maer laat word
en Hy sal al hulle mooi goed verbrand.
17Die Lig van Israel, die Heilige God van Israel,
sal 'n vuur word wat op een dag
die dorings en bossies sal verbrand.
18Hy sal ook die mooi bosse en bome verbrand.
Dit is al die Assiriërs, almal wat asemhaal en lewe.
Hulle sal verdwyn soos iets wat niks beteken nie.
19Assirië is die bos, en daar sal min bome oorbly,
'n kind sal die bome kan tel.
'n Paar mense sal terugkom
20Daardie dag sal die Israeliete wat oorgebly het, die nageslag van Jakob wat nog lewe, ophou dink dat Assirië hulle kan help. Dit was Assirië wat slegte dinge gedoen het aan hulle. Hulle sal weet die Here kan hulle help, die Heilige God van Israel. 21Die mense wat oorgebly het, sal terugkom, die mense van die nageslag van Jakob wat oorgebly het. Hulle sal terugkom na die God wat oorlog kan maak. 22Israeliete, julle was so baie soos die sand by die see, maar min van julle sal oorbly en terugkom. Die Here het besluit baie van julle moet sterf, julle straf kom soos 'n watervloed wat oor alles stroom. 23Die Here wat oor alles regeer, het dit klaar besluit, en Hy sal nie sy plan verander nie. Hy sal al die mense van die land straf.
Julle moenie bang wees vir die Assiriërs nie
24Maar die Here wat oor alles regeer, sê: “My volk wat in Sion woon, julle moenie bang wees vir die Assiriërs nie. Hulle doen slegte dinge aan julle soos die Egiptenaars aan julle voorvaders gedoen het, 25maar dit sal nie lank aanhou nie. Dan sal Ek nie meer kwaad wees vir julle nie. Ek sal kwaad wees vir die Assiriërs en Ek sal hulle almal doodmaak. 26Ek, die Here wat oor alles regeer, sal hulle slaan met 'n sweep soos Ek die Midianiete by die Oreb-rots geslaan het. Ek sal my kierie oor die water uitsteek soos toe Ek die Egiptenaars laat sterf het. 27Wanneer Ek dit gedoen het, dan sal die Assiriërs julle nie meer laat swaarkry nie. Ek sal hulle juk wegvat van julle nek, dan sal julle nie meer hulle slawe wees nie.”
Die Assiriërs kom
28Die Assiriërs kom om oorlog te maak. Hulle kom by die stad Aja, hulle gaan by Migron verby, hulle bêre hulle goed in Mikmas. 29Hulle gaan oor die berge om in Geba te slaap. Die mense van die stad Rama bewe, die mense vlug uit Gibea, die stad van Saul. 30Die mense van Gallim moet skree, die mense van Lajesa moet luister. Die mense van Anatot kan hulleself nie help nie. 31Die mense van Madmena vlug, die mense wat in Gebim woon, probeer wegkruip. 32Môre sal die Assiriërs in die stad Nob wees. Hulle sal met hulle vingers wys na die berg waar Jerusalem is, waar die tempel staan.
33Ja, die Here, die Here wat oor alles regeer, sal die takke afkap. Hy is sterk, Hy sal die groot, hoë bome afkap, dit is die mense wat dink hulle is belangrik. 34Die Sterk God sal die plante in die bos afkap met 'n byl. Hy sal die bome van die Libanon-bos laat omval.

Tans Gekies:

Jesaja 10: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid