Habakuk 2

2
Miskien sien ek wat die Here vir my wil sê
1Ek sal bo-op die muur gaan staan
sodat ek ver kan sien.
Miskien sien ek wat die Here
vir my wil sê.
Miskien antwoord Hy my vrae.
2Die Here het geantwoord. Hy het vir Habakuk gesê:
“Ek sal vir jou iets wys,
en jy moet dit groot skryf
op plat klippe,
sodat almal wat daar verby hardloop,
dit kan lees.
3Ek sal vir jou iets wys.
Dit sal kom op die regte tyd.
Dit sal gebeur, dit is seker.
As dit nie gou gebeur nie,
dan moet jy wag,
want dit sál gebeur.
4Hoogmoedige mense sal nie kry
wat hulle wil hê nie,
maar mense wat reg lewe,
sal aanhou lewe
omdat hulle gehoorsaam is aan My.”
Dit sal sleg gaan met die Galdeërs
5Wanneer mense te veel wyn drink,
dan is hulle nooit tevrede nie.
Hulle dink hulle kan doen
wat hulle wil.
Die Galdeërs is ook so.
Hulle is soos die doderyk.
Hulle maak mense dood,
maar hulle is nooit tevrede nie,
hulle hou aan om mense
dood te maak.
Hulle maak al die volke
vir hulleself bymekaar
soos die dood dooie mense
bymekaarmaak.
6Maar die volke sal eendag
spot met die Galdeërs.
Die volke sal vir mekaar sê:
“Dit sal sleg gaan met mense
wat hulleself ryk maak
en wat goed vat
wat aan ander mense behoort.”
Dit sal nie meer lank wees nie,
7dan sal julle Galdeërs se vyande
skielik kom.
Die mense vir wie julle bang is,
sal julle goed kom vat.
8Julle het baie volke se goed gevat.
Nou sal die volke wat oorgebly het,
julle goed kom vat.
Julle het baie mense vermoor,
julle het oorlog gemaak
teen al die mense
wat in stede gewoon het.
9Dit sal sleg gaan met mense
wat ander mense se goed vat
en hulleself ryk maak,
mense wat vir hulleself huise bou
teen hoë berge
sodat hulle veilig daar kan woon.
10Julle het planne gemaak
om ander mense te laat sterf,
baie mense.
Nou sal julle ook sterf.
11Want die klippe en die hout
in julle huise het gesien
wat julle gedoen het,
hulle sal skree en vertel
wat hulle gesien het.
12Dit sal sleg gaan met mense
wat stede wil bou vir hulleself.
Wanneer hulle dit gedoen het,
dan vermoor hulle mense,
hulle doen slegte dinge aan mense.
13Die Here regeer oor alles.
Hy laat volke hard werk.
Hulle werk en hulle kry baie goed,
maar die Here laat dit verbrand.
Hy laat volke werk totdat hulle
moeg is, maar hulle kry niks.
14Die see is vol water.
So sal die aarde
vol mense wees
wat die Here ken.
Hulle sal weet dat Hy God is
en dat Hy oor alles regeer.
15Dit sal sleg gaan met mense
wat vir ander mense drank gee
om te drink
en wat die drank so sterk maak
dat die mense dronk word
en kaal gaan lê.
16Nou sal al die mense
vir julle ook spot.
Niemand sal julle respekteer nie,
want julle sal ook drink
en kaal gaan lê.
Die Here sal sy beker
van swaarkry vir julle gee,
en julle sal daaruit moet drink.
Niemand sal julle respekteer nie.
17Julle het die bosse
op die Libanon-berg afgekap,
julle het die diere doodgemaak.
Nou sal ander mense
julle ook doodmaak,
want julle het oorlog gemaak
en julle het mense doodgemaak in elke stad.
'n Beeld van 'n afgod beteken niks
18'n Beeld van 'n afgod
beteken niks.
Iemand het die beeld gemaak,
en die beeld laat mense lieg.
Die mens wat die beeld gemaak het,
dink die beeld sal hom help,
maar die beeld kan nie praat
of iets doen nie.
19Dit sal sleg gaan met iemand
wat vir 'n stuk hout of 'n klip sê:
“Jy moet wakker word,
jy moet opstaan!”
Die beeld kan nie vir hom
iets leer nie.
Hy het die beeld oorgetrek
met goud of silwer,
maar die beeld lewe nie.
20Die Here is in
sy gewyde tempel.
Almal op die aarde moet stil wees
voor Hom.

Tans Gekies:

Habakuk 2: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid