Eksodus 3:1-15

Eksodus 3:1-15 ABA

Moses het sy skoonpa Jetro se skape en bokke opgepas. Sy skoonpa was die priester van Midian. Eendag het Moses die skape en bokke diep in die woestyn in geneem. Hy het by Sinai-berg gekom, die berg van God. Daar was 'n vuur in 'n doringbos. Die Engel van die Here was in die vuur en Hy het aan Moses verskyn. Moses het gesien die doringbos brand en dit hou nie op om te brand nie. Moses het gedink: Hier gebeur iets wat ek nog nooit gesien het nie. Ek wil nader gaan en gaan kyk hoekom die bos aanhou brand. Toe die Here sien Moses kom nader om te kyk, het Hy uit die doringbos vir Moses geroep: “Moses! Moses!” En Moses het gesê: “Hier is ek!” Die Here sê toe: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale uit, want die plek waar jy staan, is gewyde grond. Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Moses het sy gesig toegemaak, want hy was bang om na God te kyk. Toe sê die Here: “Ek het gesien my volk kry baie swaar in Egipte. Ek het gehoor hulle roep en vra dat Ek hulle moet help teen die mense wat hulle soos slawe laat werk. Ek is baie jammer vir hulle. Ek wil hulle gaan help teen die Egiptenaars. Ek wil hulle uit hierdie land laat uitgaan na 'n goeie en groot land, 'n land waar daar baie melk en heuning is. Dit is die land waar die Kanaäniete nou woon, en ook die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete. Ek het gehoor hoe die Israeliete bid en vir My vra om hulle te help. Ek het gesien dat die Egiptenaars slegte dinge aan hulle doen. Ek wil jou na die farao toe stuur om my volk, die Israeliete, uit Egipte te bring.” Moses het vir God gesê: “Ek is nie 'n belangrike man nie. Ek kan nie na die farao toe gaan en die Israeliete uit Egipte bring nie.” Maar God het gesê: “Ek sal by jou wees en Ek sal vir jou 'n teken gee om te bewys dat Ek jou gestuur het: Wanneer jy die volk uit Egipte gebring het, dan sal julle My op hierdie berg kom dien.” Toe sê Moses vir God: “Ek sal by die Israeliete kom en ek sal vir hulle sê: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur.’ Maar hulle sal vir my vra: ‘Wat is sy Naam?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?” Toe sê God vir Moses: “My Naam is: ‘Ek is wat Ek is.’ Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek Is’ het my na julle toe gestuur.” God het ook vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Die Here het my na julle toe gestuur. Hy is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ My Naam sal altyd ‘die Here’ wees. Hulle moet My altyd so noem, ook die mense wat later gebore sal word.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid