Deuteronomium 6

6
Die Israeliete moet lief wees vir die Here
1Moses het toe gesê: “Hier is die wette van julle God die Here. Hy het gesê ek moet dit vir julle leer, sodat julle sal doen wat die wette sê in die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat. 2Dit beteken julle en julle kinders en kleinkinders moet julle God die Here dien en julle moet alles doen wat die wette sê wat ek vir julle gee. Julle moet dit doen so lank soos julle lewe. As julle luister na die wette wat ek vir julle gee, dan sal julle lank lewe. 3Israeliete, julle moet luister en julle moet doen wat die wette sê, sodat dit goed sal gaan met julle en sodat julle 'n groot volk sal word. Die Here, die God van julle voorvaders het dit vir julle belowe, julle sal dit alles kry in 'n land waar daar baie melk en heuning is.
4“Israeliete, julle moet luister, ons God die Here is een Here. Daar is nie nog so 'n Here nie. 5En julle moet lief wees vir die Here, julle moet lief wees vir Hom met julle hele hart, met al julle krag. 6Julle moet die dinge onthou wat ek vandag vir julle sê 7en julle moet dit vir julle kinders leer. Julle moet oor hierdie dinge praat wanneer julle in julle huis sit en wanneer julle op die pad loop, wanneer julle lê en wanneer julle staan. 8Julle moet dink aan hierdie dinge wanneer julle iets met julle hande doen en wanneer julle na iets kyk 9en wanneer julle uitgaan en ingaan by die deure van julle huise en julle poorte.
10“Julle God die Here sal julle bring na die land wat Hy belowe het vir julle voorvaders, Hy het dit belowe vir Abraham, Isak en Jakob. Hy sal vir julle groot en mooi stede gee wat julle nie gebou het nie. 11Hy sal vir julle ook huise vol goed gee wat julle nie bymekaargemaak het nie, watergate wat julle nie self uit die klip gekap het nie, wingerde en olyfbome wat julle nie geplant het nie. Wanneer julle genoeg het van alles, 12dan moet julle versigtig wees dat julle nie die Here vergeet nie. Julle was slawe in die land Egipte, maar die Here het julle uit Egipte gebring. 13Julle moet julle God die Here eer en dien, en wanneer julle iets belowe, dan moet julle net sý Naam noem, Hy moet die getuie wees. 14Julle moenie ander gode dien nie, julle moenie die gode van ander volke rondom julle dien nie. 15Want julle God die Here is by julle, Hy wil hê julle moet net vir Hom dien. As julle ook aan ander gode wil behoort, dan sal die Here kwaad word vir julle en Hy sal julle laat verdwyn van die aarde. 16Julle moenie julle God die Here toets en Hom kwaad maak nie, julle het dit gedoen by Massa. 17Julle moet doen wat die wette van julle God die Here sê, 18julle moet die dinge doen wat reg en goed is, die dinge waarvan die Here hou. Dan sal dit goed gaan met julle en julle sal die goeie land gaan vat wat die Here vir julle voorvaders belowe het. 19Julle sal julle vyande wegjaag, die Here het dit gesê.
20“Julle kinders sal later vir julle vra: ‘Hoekom het ons God die Here die wette vir julle gegee?’
21“Dan moet julle vir julle kinders sê: ‘Ons was die farao se slawe in Egipte, maar die Here het ons uit Egipte gebring met sy groot krag. 22Ons het gesien dat Hy groot tekens en wonderwerke in Egipte gedoen het en dat Hy dit sleg laat gaan het met die farao en sy huisgesin. 23Maar die Here het vir ons uitgebring uit Egipte en Hy het ons hiernatoe laat kom om vir ons die land te gee wat Hy vir ons voorvaders belowe het. 24Hy het toe gesê ons moet doen wat al hierdie wette sê, ons moet ons God die Here dien, sodat dit altyd goed sal gaan met ons en sodat ons kan aanhou lewe, soos vandag. 25As ons versigtig is en alles doen wat die wette van ons God die Here sê, dan doen ons reg, soos Hy wil hê.’ ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid