Deuteronomium 14

14
Die Israeliete is die Here se eie volk
1Moses het gesê: “Julle is kinders van julle God die Here. Julle mag nie julleself stukkend sny of julle voorkop kaal skeer omdat julle hartseer is omdat iemand gesterf het nie, 2want julle is die gewyde volk van julle God die Here. Die Here het vir júlle gekies uit al die ander volke op die aarde om aan Hom te behoort en om sy eie volk te wees.”
Rein en onrein vleis
3“Julle mag nie iets eet wat die Here haat nie. 4Julle mag net hierdie diere se vleis eet: beeste, skape, bokke, 5rooi takbokke, gaselle, vaal takbokke, klipbokke, oer-osse, bergbokke. 6Julle mag die vleis eet van enige dier wat gesplete hoewe het en wat sy kos herkou. 7Maar julle mag nie die vleis eet van diere wat herkou maar wat nie gesplete hoewe het nie, ook nie die vleis van diere wat gesplete hoewe het maar wat nie herkou nie. Kamele en hase en dassies herkou maar hulle het nie gesplete hoewe nie. Hulle is onrein vir julle. 8Varke het gesplete hoewe, maar hulle herkou nie. Hulle is onrein vir julle. Julle mag nie hierdie diere se vleis eet nie en julle mag nie aan hulle dooie liggame raak nie. 9Julle mag al die diere in die water eet wat vinne en skubbe het, 10maar julle mag niks eet wat nie vinne en skubbe het nie, dit is onrein vir julle. 11Julle mag die vleis van enige rein voël eet. 12-18Die voëls wat julle nie mag eet nie, is: arende, aasvoëls, vis-arende, valke, kraaie, volstruise, seemeeue, uile, pelikane, visvangers, duikers, ooievaars, reiers, hoep-hoepe, en ook vlermuise. 19Al die insekte wat vlerke het, is onrein vir julle, julle mag dit nie eet nie. 20Julle mag net rein voëls eet.
21“Julle mag nie die vleis eet van enige dier wat self gevrek het nie, julle mag dit vir die vreemdelinge gee wat by julle woon sodat hulle dit kan eet. Of julle mag daardie vleis verkoop aan mense wat nie Israeliete is nie. Hoekom? Want julle is die gewyde volk van julle God die Here.
“Julle mag nie 'n bok-lam kook in sy ma se melk nie.”
Tiendes
22“Julle moet elke jaar een tiende van alles wat julle geplant het en wat julle uit die grond kry, apart hou. 23Dan moet julle dit eet op die plek wat julle God die Here sal kies om self daar te woon, daar waar Hy is. Julle moet die tiende van julle koring en julle wyn en julle olyf-olie daar eet, en ook die vleis van die eerste kalwers en lammers, sodat julle kan leer om julle God die Here altyd te eer. 24Maar miskien is daardie plek te ver van julle, die plek wat julle God die Here sal kies om daar te woon, en miskien kan julle nie die tiendes daarnatoe dra nie, die tiendes van die dinge waarmee julle God die Here julle geseën het. 25Dan mag julle die tiendes verkoop en die geld saamneem na die plek wat julle God die Here sal kies. 26Daar mag julle dan alles koop wat julle wil hê: beeste, skape, bokke, wyn, bier, enige iets wat julle wil hê. En dan moet julle eet en feesvier daar waar julle God die Here dit kan sien, julle en julle huisgesinne. 27En julle moenie vergeet om die Leviete wat by julle woon ook te nooi om saam met julle fees te vier nie, want hulle het nie grond gekry saam met julle nie.
28“Elke drie jaar moet julle die hele tiende van alles wat julle in daardie jaar kry, in julle woonplekke bêre. 29Die Leviete het nie hulle eie grond saam met julle gekry nie, en hulle mag dan kom en hulle mag eet totdat hulle genoeg het. Die vreemdelinge en die weeskinders en die weduwees wat by julle woon, mag ook kom eet. Dan sal julle God die Here dit goed laat gaan met alles wat julle doen.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid