Amos 9

9
Die Here sal die Israeliete doodmaak
1Ek het gesien die Here staan
by die altaar.
Hy het gesê:
“Slaan stukkend die kapitele
van die pilare van die tempel,
sodat die deure se rame bewe
en die stukke van die pilare
op al die mense se koppe val.
Ek sal self die mense wat oorbly,
doodmaak met my swaard.
Niemand sal kan vlug nie,
nie een sal wegkom nie.
2Wanneer hulle 'n gat grawe
om in die doderyk
te probeer kom,
dan sal Ek hulle daar uithaal.
Wanneer hulle probeer opklim
na die hemel,
dan sal Ek hulle daar afhaal.
3Wanneer hulle bo-op
die Karmel-berg gaan wegkruip,
dan sal Ek hulle daar soek
en hulle wegvat.
Wanneer hulle vir My wil wegkruip
onder in die see,
dan sal Ek vir die slang daar sê
om hulle te pik.
4Wanneer hulle vyande hulle vang
en hulle wegvat na 'n ander land,
dan sal Ek hulle daar laat doodmaak
in 'n oorlog.
Ek sal na hulle kyk,
nie om hulle te help nie,
maar sodat dit sleg
met hulle sal gaan.”
5Die Here regeer oor alles.
Wanneer Hy aan die aarde raak,
dan smelt dit,
en almal wat op die aarde woon,
huil en treur.
Al die mense in die land
sal skrik en wegvlug
soos die water in die Nyl-rivier
wat vol word en wegloop.
6Die Here het vir Hom
'n huis gebou hoog in die hemel.
Hy het die ronde dak
oor die aarde gesit.
Hy bring die wolke uit die see
en Hy laat dit reën op die land.
Sy Naam is die Here.
Die Israeliete is dieselfde as ander volke
7Die Here het gesê:
“Israeliete, julle is vir My
soos die mense van die land Kus.
Julle is nie anders nie.
Dit is waar, Ek het die Israeliete
uit Egipte gebring,
maar Ek het ook die Filistyne
uit die eiland Kaftor gebring
en Ek het die Arameërs
uit die land Kir gebring.
8En nou sien Ek die Israeliete
is 'n volk wat baie sonde doen.
Ek sal hulle wegvee
van die aarde af!
Maar Ek sal hulle nie
almal doodmaak nie.
9Ek sal vir die volke sê
wat hulle moet doen.
Ek sal die Israeliete
tussen die volke skud
soos 'n mens koring in 'n sif skud.
Die koringkorrels sal nie
deur die sif op die grond val nie.
So sal Ek die Israeliete
skud in die sif.
10Al die sondaars van my volk
sal in die oorlog sterf.
Hulle sê nou:
‘U sal ons nie straf
en dit sleg laat gaan met ons nie.’
Maar hulle sal sterf.”
Die Here sal die nageslag van Dawid weer laat regeer
11Die Here het gesê:
“Daar sal 'n tyd kom wanneer Ek
die nageslag van koning Dawid
weer sal laat regeer.
Hulle is soos 'n huis
wat omgeval het,
'n muur wat afgebreek is.
Maar Ek sal die huis weer bou,
en hy sal weer wees
soos hy altyd was.
12My volk sal die Edomiete oorwin
wat nog oorgebly het,
en ook die ander volke
wat aan My behoort.”
Dit sê die Here. Die Here sal dit doen.
Die Here sal sy volk help sodat dit weer goed sal gaan met hulle
13Die Here het gesê:
“Daar sal 'n tyd kom
wanneer die Israeliete hulle koring
moet afsny dadelik nadat
hulle geploeg het.
Hulle sal wyn moet maak
dadelik nadat hulle
die wingerde geplant het.
Die wyn sal so baie wees
dat dit teen die berge
en die heuwels sal afloop.
14Ek sal dit weer goed laat gaan
met my volk, die Israeliete.
Ek sal die stede
wat die vyande afgebreek het,
weer bou
sodat die Israeliete daar kan woon.
Hulle sal wingerde plant
en die wyn drink.
Hulle sal tuine maak
en die vrugte eet.
15Ek sal hulle help,
en hulle sal in hulle eie land woon.
Niemand sal hulle wegvat
uit die land
wat Ek vir hulle gegee het nie.”
Dit sê jou God die Here.

Tans Gekies:

Amos 9: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid