Handelinge 12

12
Herodes laat die gelowiges swaarkry
1In daardie tyd het koning Herodes party van die gelowiges gevang en hy het slegte dinge aan hulle gedoen. 2Hy het Jakobus, die broer van Johannes, laat doodmaak met 'n swaard. 3Toe Herodes sien dat die Jode dink dit is goed, het hy ook vir Petrus laat vang. Dit alles het gebeur toe dit die tyd van die Fees van die Ongesuurde Brood was. 4Nadat Herodes vir Petrus laat vang het, het Herodes hom in die tronk laat gooi en hy het Petrus vir vier groepe soldate gegee. Daar was vier soldate in elke groep. Die soldate moes vir Petrus oppas. Herodes wou vir Petrus ná die Paasfees voor die volk bring om hom te oordeel. 5Die soldate het toe vir Petrus in die tronk toegesluit. Maar die gemeente het baie ernstig tot God gebid om vir Petrus te help.
'n Engel laat vir Petrus uitgaan uit die tronk
6Die Paasfees was verby, en Herodes wou die volgende dag vir Petrus bring om voor die volk te staan. In die nag voordat Herodes dit wou doen, het hulle vir Petrus met kettings vasgemaak aan twee soldate, en hy moes tussen die soldate slaap. Daar was ook wagte wat die deur van die tronk opgepas het. 7Maar skielik het 'n engel van die Here by Petrus gestaan en 'n lig het in die tronk geskyn. Die engel het aan Petrus se sy geraak en hy het vir Petrus wakker gemaak en vir hom gesê: “Staan gou op!”
Die kettings het afgeval van Petrus se hande. 8Die engel sê toe vir Petrus: “Maak jou belt vas en trek jou skoene aan!”
Petrus het dit gedoen en die engel sê toe vir Petrus: “Trek jou bo-kleed aan en kom saam met my.”
9Petrus het uitgegaan en hy het saam met die engel gegaan. Petrus het nie besef dat dit alles regtig gebeur nie. Hy het gedink hy droom dat die engel dit doen. 10Hulle het verby die eerste en die tweede plek gegaan waar die wagte gestaan het, en toe kom hulle by die ysterhek waardeur 'n mens na die stad gaan. Die hek het self oopgegaan vir hulle. Hulle het uitgegaan en hulle het in 'n smal straatjie geloop, en toe het die engel skielik weggegaan van Petrus. 11Toe het Petrus verstaan wat regtig gebeur het en hy het gesê: “Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur het en dat die engel my gered het van Herodes. Hy het my ook gered van alles wat die hele Joodse volk gedink het sal gebeur.” 12Petrus het toe verstaan wat gebeur het, en daarom het hy na die huis van Maria gegaan. Sy was die ma van Johannes, Johannes se ander naam was Markus. Baie mense het daar bymekaargekom en hulle was besig om te bid. 13Petrus het aan die deur van die huis geklop. 'n Vrou wat daar gewerk het, het kom kyk wie by die deur is. Die vrou se naam was Rodé. 14Toe sy hoor dat dit Petrus is wat praat, was sy so bly dat sy nie die deur oopgemaak het nie. Sy het in die huis ingehardloop en vir die mense vertel dat Petrus voor die deur staan. 15Maar hulle het vir haar gesê: “Jy is mal!”
Sy het aangehou om te sê sy is seker dat dit Petrus is. Hulle sê toe: “Dit is Petrus se engel.”
16Maar Petrus het aangehou om aan die deur te klop. Nadat hulle die deur oopgemaak het, het hulle gesien dit is Petrus en hulle was baie verbaas. 17Petrus het met sy hand vir hulle gewys om stil te bly. Toe vertel hy vir hulle hoe die Here hom uit die tronk gelei het. Hy het ook gesê: “Julle moet hierdie dinge vir Jakobus en die ander gelowiges vertel.”
Toe het hy uit die huis gegaan na 'n ander plek.
18Die volgende dag was die soldate baie geskok en ontsteld oor wat met Petrus gebeur het. 19Herodes het gesê hulle moet vir Petrus gaan soek, maar hulle het hom nie gekry nie. Herodes het toe die wagte baie uitgevra en toe het hy gesê dat mense die wagte moet wegvat en doodmaak. Later het Herodes van die provinsie Judea na die stad Sesarea gegaan en hy het daar 'n tyd lank gebly.
Herodes sterf
20Koning Herodes was baie kwaad vir die mense van die stede Tirus en Sidon. Die mense van Tirus en Sidon het kos gekry van koning Herodes se land, en daarom het hierdie mense toe almal saam na koning Herodes toe gekom. Hulle het eers mooi gepraat met Blastus, 'n amptenaar wat moes sê wie met die koning mag praat. Blastus het geluister na wat hulle sê. Toe het hulle vir Herodes gevra om vrede te maak. 21Op die spesiale dag het Herodes die mooi klere aangetrek wat 'n koning dra. Hy het gaan sit op die regterstoel en toe het hy met die vergadering van die volk gepraat. 22Die mense het toe aangehou om te skree: “Hy praat soos 'n god en nie soos 'n mens nie!”
23Dadelik het 'n engel van die Here vir Herodes siek laat word omdat hy nie vir God geëer het nie. En wurms het begin om hom op te vreet, en hy het gesterf.
24Die gelowiges het die boodskap van God verder en verder gebring, en meer en meer mense het dit geglo. 25Toe Barnabas en Saulus hulle werk in Jerusalem klaargemaak het, het hulle teruggekom na die stad Antiogië. Hulle het vir Johannes saamgeneem, die mense het hom ook “Markus” genoem.

Tans Gekies:

Handelinge 12: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid