2 Samuel 11

11
Dawid laat vir Urija doodmaak en hy vat Urija se vrou
1Dit was in die lente-tyd, die tyd wanneer konings altyd gaan oorlog maak het. Dawid het vir Joab en sy manne en al die Israeliete gestuur, en hulle het die Ammoniete oorwin. Hulle het hulle tente opgeslaan rondom die stad Rabba. Dawid het in Jerusalem gebly. 2Een aand het hy opgestaan van sy rusbank en hy het op die dak van die paleis gaan loop. Hy sien toe 'n vrou wat bad. Sy was baie mooi. 3Dawid het iemand gestuur om uit te vind wie die vrou is. Dit was Batseba, die dogter van Eliam. Batseba was die vrou van Urija die Hetiet. 4Dawid het boodskappers gestuur om die vrou te gaan haal. Sy het na hom toe gekom, en hy het by haar geslaap. Dit het gebeur ná haar reinigingsbad.
5Batseba het teruggegaan huis toe, en toe sy besef dat sy swanger is, het sy vir Dawid laat weet sy is swanger. 6Dawid het toe vir Joab laat weet hy moet Urija die Hetiet na hom toe stuur. Joab het dit gedoen. 7Toe Urija by Dawid kom, het Dawid vir hom gevra hoe dit gaan met Joab en die manne en die oorlog. 8Daarna het Dawid vir Urija gesê: “Gaan nou huis toe en was jou voete.”
Toe Urija uit die paleis gaan, het die koning vir hom 'n present gestuur. 9Maar Urija het nie huis toe gegaan nie, hy het voor die paleis geslaap by die mense wat vir die koning gewerk het. 10Toe Dawid hoor dat Urija nie huis toe gegaan het nie, het hy vir Urija gesê: “Jy het ver geloop, hoekom gaan jy nie huis toe nie?”
11Maar Urija het vir Dawid gesê: “Die verbondskis en die mense van Israel en Juda bly in hutte, en my meneer Joab en sy manne bly in tente in die veld. Dink jy dit is reg dat ek huis toe gaan en eet en drink en by my vrou slaap? Nee. So seker soos jy lewe, ek sal dit nie doen nie.”
12Toe sê Dawid vir Urija: “Bly nog vandag hier, ek sal jou môre laat gaan.”
Urija het daardie dag en die volgende dag nog in Jerusalem gebly. 13Dawid het hom geroep en Dawid het saam met Urija geëet en gedrink. Dawid het vir Urija dronk gemaak. Maar Urija het die aand op sy bed gaan slaap by die mense wat vir die koning gewerk het, hy het nie huis toe gegaan nie. 14Dawid het toe die volgende oggend vir Joab 'n brief geskryf en hy het dit saam met Urija gestuur. 15In die brief het Dawid geskryf: “Jy moet vir Urija laat veg op die plek waar die vyande die hardste veg, en dan moet julle weggaan agter hom en hom alleen los sodat die vyande hom kan aanval en hy kan sterf.”
16Joab was besig om die stad van al die kante aan te val, en hy het Urija laat veg op 'n plek waar hy geweet het die vyande kan baie goed veg. 17Die vyande het uit die stad gekom en hulle het teen Joab en die manne geveg. Party van Dawid se manne het gesterf, en Urija die Hetiet het ook gesterf. 18Joab het vir Dawid 'n boodskap gestuur en hy het vir Dawid laat weet wat alles in die oorlog gebeur het. 19Joab het vir die boodskapper gesê: “As jy klaar vir die koning vertel het wat alles in die oorlog gebeur het, dan sal hy kwaad word en vir jou sê: 20‘Hoekom het julle so naby die stad gaan veg? Julle weet die vyande is bo-op die muur en hulle skiet van daar af. 21 Wie het vir Abimelek seun van Jerub-Beset raakgegooi? Dit was 'n vrou wat bo-op die muur was en sy het van daar 'n maalklip op hom gegooi. So het Abimelek daar in Tebes gesterf. Hoekom het julle naby die muur gekom?’ Dan moet jy vir koning Dawid sê: ‘Urija die Hetiet is ook dood.’ ”
22Die boodskapper het gegaan en hy het vir Dawid alles kom sê wat Joab vir hom gesê het. 23Die boodskapper het vir Dawid gesê: “Regtig, die manne was baie sterker as ons. Hulle het uitgekom om ons aan te val in die veld, en ons het teruggeveg tot by die poort. 24Die manne wat bo-op die muur was, skiet toe na ons met hulle pyle, en party van die koning se manne het gesterf. Urija die Hetiet is ook dood.”
25Dawid het vir die boodskapper gesê: “Jy moet vir Joab sê: ‘Jy moenie sleg voel oor hierdie ding nie, want hierdie dinge gebeur in oorlog. Jy moet nou hard veg en jy moet die stad verwoes.’ Jy moet vir Joab sê hy moet sterk wees.”
26Toe Urija se vrou hoor dat haar man dood is, het sy gerou oor haar man. 27Toe die routyd verby is, het Dawid vir Batseba laat haal en hy het haar na sy huis gebring. Sy het Dawid se vrou geword en sy het vir hom 'n seun gekry. Die Here het nie gehou van hierdie ding wat Dawid gedoen het nie.

Tans Gekies:

2 Samuel 11: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid