2 Konings 9

9
'n Profeet salf vir Jehu om koning te wees
1Die profeet Elisa het een van die profete geroep en vir hom gesê: “Jy moet jou klere vasmaak en hierdie kruikie olyf-olie neem en na die stad Ramot in die land Gilead gaan. 2Wanneer jy daar kom en jy sien vir Jehu seun van Josafat seun van Nimsi, dan moet jy vir hom sê hy moet daar uitkom, weg van die ander offisiere, en jy moet hom alleen na 'n kamer neem. 3Dan moet jy die kruikie olyf-olie op sy kop uitgooi en jy moet sê: ‘Die Here sê Hy salf jou om koning te wees van Israel.’ Dan moet jy die deur oopmaak en dadelik weggaan.”
4Die jongman, die profeet, het na Ramot in Gilead gegaan, 5en toe hy daar kom, sien hy die offisiere daar sit. Hy het vir Jehu gesê: “Offisier, ek het 'n boodskap vir jou.”
Jehu vra toe: “Vir wie van ons is die boodskap?”
Die profeet antwoord toe: “Die boodskap is vir jóú, Offisier.”
6Jehu het opgestaan en in die huis ingegaan, en die profeet het die olyf-olie op sy kop uitgegooi en vir hom gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: Ek salf jou om koning te wees van my volk Israel. 7Jy moet die familie van jou koning Agab doodmaak. Ek wil hulle straf omdat Isebel my dienaars die profete en al my ander dienaars vermoor het. 8Die familie van Agab sal almal sterf. Ek sal die mans en die seuns van die familie van Agab almal laat doodmaak, elkeen in die land Israel, almal wat getroud is of wat nie getroud is nie. 9Ek sal met die familie van koning Agab doen soos Ek gedoen het met die familie van koning Jerobeam seun van Nebat en met die familie van koning Baesa seun van Agija. 10Die honde sal vir Isebel opvreet by die stad Jisreël, niemand sal haar begrawe nie.”
Jehu word koning van Israel
Nadat die profeet hierdie boodskap vir Jehu gebring het, het hy die deur oopgemaak en vinnig weggegaan. 11Jehu het uitgegaan na die offisiere van sy koning toe, en een offisier het vir hom gevra: “Is daar 'n probleem? Hoekom het daardie mal man na jou toe gekom?”
Jehu het vir hulle gesê: “Julle weet self hoe daardie man praat.”
12Maar die ander offisiere het gesê: “Nee, jy jok, vertel vir ons wat hy gesê het.”
En toe sê Jehu: “Die profeet het vir my gesê die Here sê Hy salf my om koning te wees van Israel.”
13Toe trek die offisiere dadelik hulle klere uit en hulle gooi dit op die trappe oop voor Jehu en hulle blaas die ramshoring en hulle skree: “Jehu het koning geword!”
Jehu maak vir koning Joram dood
14-15Jehu seun van Nimsi het saam met die offisiere planne gemaak om koning Joram dood te maak. Joram was toe in die stad Jisreël om gesond te word, want die Arameërs het hom raakgeskiet en gewond toe hy die stad Ramot in Gilead wou terugvat. Joram en al die manne van Israel het daar geveg teen koning Gasael van Aram. Jehu het vir die offisiere gesê: “As julle wil hê ek moet koning word, dan moet julle seker maak dat niemand hier uit Ramot wegkom om vir die koning in Jisreël te gaan vertel wat ons wil doen nie.”
16Jehu het na Jisreël gery, want Joram het daar siek gelê, en koning Ahasia van Juda het vir Joram kom besoek. 17Die wag op die toring van Jisreël het die klomp mense van Jehu gesien aankom en hy het geskree: “Ek sien 'n klomp mense!”
Joram het gesê: “Stuur 'n boodskapper op 'n perd na hulle toe en sê hy moet vra of daar 'n probleem is.”
18Die boodskapper het na Jehu toe gegaan en gesê: “Die koning vra of daar 'n probleem is.”
Jehu het gesê: “Hoekom vra jy of daar 'n probleem is? Dit maak nie saak nie, draai om en kom saam met my.”
Die wag het geskree: “Die boodskapper het by die klomp mense gekom, maar hy kom nie terug nie.”
19Die koning het weer 'n boodskapper op 'n perd gestuur, en hy het by die manne gekom en gesê: “Die koning vra of daar 'n probleem is.”
En Jehu het gesê: “Hoekom vra jy of daar 'n probleem is? Dit maak nie saak nie, draai om en kom saam met my.”
20Die wag het geskree: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom ook nie terug nie. Dit lyk of dit Jehu is wat op die oorlogkar ry, want hy jaag soos 'n mal mens.”
21Joram sê toe hulle moet sy oorlogkar inspan. Hulle het dit gedoen, en hy en koning Ahasia van Juda het elkeen op sy eie oorlogkar gery om vir Jehu te gaan ontmoet. Hulle het hom gekry op die grond van Nabot van Jisreël. 22Toe Joram sien dit is Jehu, vra hy: “Jehu, is daar 'n probleem?”
Jehu het geantwoord: “Die probleem is dat jou ma Isebel vir die mense leer om afgode te dien en om te toor.”
23Joram het omgedraai met sy wa en hy het vir Ahasia geskree: “Hulle het ons verraai!”
24Maar Jehu het sy boog se snaar styfgetrek en hy het vir Joram bo in sy rug geskiet. Die pyl het deur Joram se hart gegaan en hy het op die wa dood neergeval. 25Jehu het vir sy offisier Bidkar gesê: “Vat hom en gooi hom op die grond van Nabot van Jisreël. Onthou jy dat ek en jy agter sy pa Agab gery het toe die Here gesê het dit sal gebeur? 26Die Here het gesê: ‘Ek het gisteraand die bloed van Nabot en sy seuns gesien, en Ek belowe Ek sal jou op hierdie selfde grond daaroor straf.’ ”
Jehu sê toe: “Vat hom en gooi hom op die grond, soos die Here gesê het.”
Jehu laat koning Ahasia doodmaak
(Kyk ook 2 Kron 22:7-9)
27Toe koning Ahasia van Juda sien wat gebeur, het hy weggejaag op die pad na die stad Bet-Gan, maar Jehu het hom gevolg en gejaag en gesê: “Hy moet ook sterf.”
Jehu se manne het vir Ahasia geskiet op sy wa toe hy na die stad Gur gery het. Dit is naby die stad Jibleam. Ahasia het na die stad Megiddo gevlug, en hy het daar gesterf. 28Sy amptenare het hom na Jerusalem gebring en hulle het hom begrawe in sy graf by sy voorvaders in die Dawidstad. 29Ahasia het koning van Juda geword in die elfde jaar nadat Joram seun van Agab koning geword het.
Jehu laat vir Isebel doodmaak
30Toe Isebel hoor dat Jehu in die stad Jisreël aangekom het, het sy oogverf aan haar oë gesmeer en sy het haar hare mooi gemaak en voor 'n venster gaan staan. 31Toe Jehu by die poort kom, het Isebel gesê: “Wat is jou probleem? Jy is soos Simri, jy het ook jou koning vermoor.”
32Jehu het opgekyk na die venster en gevra: “Wie wil vir my help? Wie?”
Twee of drie van die paleiswerkers het by vensters afgekyk na Jehu, en hy het gesê: “Gooi Isebel af!”
33Hulle het haar afgegooi. Haar bloed het teen die muur en teen die perde gespat, en die perde het haar doodgetrap. 34Jehu het ingegaan en geëet en gedrink. Daarna het hy gesê: “Julle moet kyk en seker maak dat iemand daardie slegte vrou begrawe, want sy is 'n koning se dogter.”
35Maar toe hulle gaan om haar te begrawe, het hulle net haar kopbeen en voete en hande gekry. 36Hulle het teruggekom en hulle het dit vir Jehu vertel. Jehu het toe gesê: “Dit was die boodskap wat die Here gestuur het saam met sy dienaar Elia van Tisbe. Elia het gesê: ‘Die honde sal Isebel se vleis vreet op die oop stuk grond by Jisreël, 37en dit wat van haar oorbly, sal wees soos kraalmis op die land hier by Jisreël, niemand sal kan sê dit is Isebel nie.’ ”

Tans Gekies:

2 Konings 9: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid