2 Konings 20

20
Koning Hiskia word siek en die Here laat hom gesond word
(Ook Jes 38:1-6,21-22,7-8. Kyk ook 2 Kron 32:24)
1Koning Hiskia het in daardie tyd baie siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Jy moet vir jou familie sê wat jy wil hê hulle moet doen, want jy sal sterf, jy sal nie gesond word nie.”
2Hiskia het sy gesig na die muur gedraai en hy het tot die Here gebid. 3Hy het gesê: “Ag, Here, dink asseblief daaraan dat ek gehoorsaam was aan U met my hele hart en dat ek altyd gedoen het wat U wil hê.”
Hiskia het hard gehuil. 4Voordat Jesaja verby die oop stuk grond binne-in die stad geloop het, het die Here met hom gepraat. Die Here het vir hom gesê: 5“Jy moet omdraai en jy moet vir Hiskia, die koning van my volk, gaan sê: Ek, die God van jou voorvader Dawid, sê: Ek het jou gebed gehoor en Ek het jou trane gesien. Ek sal jou gesond maak. Jy sal oormôre weer na die tempel kan gaan. 6Ek sal jou nog 15 jaar laat lewe. Ek sal jou en hierdie stad red van die koning van Assirië, Ek sal hierdie stad beskerm vir Myself en vir my dienaar Dawid.”
7Jesaja het toe gesê hulle moet 'n pleister van vye maak en hulle moet dit op die koning se seerplek sit sodat dit gesond kan word. 8Hiskia het gevra hoe hy sal weet dat die Here hom gesond sal maak sodat hy oormôre weer na die tempel kan gaan. 9Jesaja het gesê: “Die Here sal doen wat Hy gesê het, en dit sal vir jou die teken wees: Die son is al klaar laag, en die skaduwee op die trappe wys dat dit laat is. Moet die Here die skaduwee tien trappe vorentoe laat gaan of moet Hy dit tien trappe terug laat gaan?”
10Hiskia het gesê: “Die skaduwee kan maklik tien trappe vorentoe gaan. Nee, die skaduwee moet tien trappe teruggaan.”
11Die profeet Jesaja het tot die Here gebid, en die Here het die skaduwee tien trappe terug laat gaan op die trappe van koning Agas. Dit het gewys dat die son weer hoog in die lug is.
Die soldate van Babel sal alles kom vat
(Ook Jes 39:1-8)
12Merodak-Baladan seun van Baladan was die koning van Babel. Hy het gehoor dat koning Hiskia siek is. Hy het eendag vir Hiskia briewe en presente gestuur. 13Hiskia het geluister na die boodskappers en hy het vir hulle alles gewys wat hy in sy stoorkamers gebêre het: die silwer en die goud, die balsem en die skoon olyf-olie, en ook sy hele wapenkamer, ja, alles wat in sy stoorkamers was. Hiskia het vir die boodskappers alles gewys wat in sy paleis en in sy hele land was.
14Die profeet Jesaja het na koning Hiskia toe gekom en hy het vir die koning gevra: “Wat het daardie manne gesê? Van watter land het hulle gekom?”
Hiskia het vir hom gesê: “Hulle het van 'n ver land na my toe gekom, van die land Babel.”
15Jesaja het gevra: “Wat het hulle in jou paleis gesien?”
Hiskia het gesê: “Hulle het alles gesien wat in my paleis is. Ek het vir hulle alles gewys wat in my stoorkamers is.”
16Jesaja het vir Hiskia gesê: “Jy moet luister na wat die Here sê: 17Die soldate van Babel sal eendag alles kom vat wat in jou paleis is, alles wat jou voorvaders en jy bymekaargemaak het. Daar sal niks oorbly nie. Dit is wat die Here sê. 18En hulle sal party van jou eie seuns vat om in die koning van Babel se paleis te werk.”
19Hiskia het vir Jesaja gesê: “Ek het gehoor wat jy sê. Wat die Here gesê het, is goed.”
Hiskia het ook gesê: “Ek hoop ons sal vrede hê en veilig wees so lank soos ek nog lewe.”
Hiskia sterf
(Kyk ook 2 Kron 32:32-33)
20Al die ander dinge wat Hiskia gedoen het, al die belangrike dinge wat hy gedoen het, en die dam en die watertonnel wat hy laat bou het toe hy die water in die stad gebring het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. 21Hiskia het gesterf, en sy seun Manasse het koning geword ná hom.

Tans Gekies:

2 Konings 20: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid