2 Kronieke 8

8
Salomo bou stede
(Kyk ook 1 Kon 9:10-23)
1Salomo het 20 jaar lank gebou om die tempel en sy paleis klaar te maak. Daarna 2het hy die stede reggemaak wat Hiram vir hom gegee het. Hy het Israeliete daar laat woon. 3Salomo het na die stad Hamat-Soba gegaan en hy het die mense van die stad oorwin. 4Hy het die stad Tadmor in die woestyn gebou en al die stede in die land Hamat. Hy het sy goed daar gebêre. 5Hy het die stede Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder gebou. Dit was stede wat sterk mure gehad het en poort-deure en sluitbalke. 6Hy het die stad Baälat gebou en ook al die stede waar hy sy goed gebêre het en die stede waar sy oorlogkarre en sy ryperde was. Salomo het alles gebou wat hy wou bou in Jerusalem en op die Libanon-berg en in die hele land waar hy koning was. 7In die land was daar mense wat nie Israeliete was nie, dit was die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete. 8Hulle was die nageslag van die mense wat oorgebly het in die land, die Israeliete het hulle nie doodgemaak nie. Salomo het hulle almal baie hard laat werk, hulle doen dit nou nog. 9Maar Salomo het gesê die Israeliete mag nie slawe word nie. Hulle was sy soldate en die offisiere van die soldate op die oorlogkarre en die perde. 10Salomo het 250 belangrike amptenare gehad wat moes kyk dat die mense hulle werk doen.
Salomo bou 'n huis vir sy Egiptiese vrou
(Kyk ook 1 Kon 9:24)
11Salomo het die dogter van die farao uit die Dawidstad gebring na die huis wat hy vir haar gebou het. Hy het gesê: “'n Vrou van my mag nie woon in die paleis van koning Dawid van Israel nie, want die plekke is gewyd waar die kis van die Here gekom het.”
Salomo offer en kies priesters en Leviete
(Kyk ook 1 Kon 9:25)
12Daarna het Salomo brand-offers vir die Here gebring op die altaar van die Here. Salomo het die altaar voor die voorportaal van die tempel laat bou. 13Hy het ge-offer soos dit elke dag nodig was, en soos Moses gesê het. Hy het ge-offer op die Sabbatdae, op die Nuwemaan-feeste, en op die drie groot feeste wat hulle elke jaar gevier het: die Fees van die Ongesuurde Brood, die Fees van die Weke en die Hutte-fees. 14Salomo het groepe priesters gekies en aangestel vir hulle werk en hy het Leviete aangestel om die Here te prys en die priesters te help. Hy het gedoen soos sy pa Dawid gesê het. Hy het ook poortwagte aangestel om elke dag by al die poorte te werk, want so het Dawid, die man van God, gesê. 15Hulle het alles gedoen wat die koning gesê het oor die priesters en die Leviete en oor die stoorkamers. 16So het Salomo alles gedoen van die dag toe hy die fondamente van die tempel gebou het totdat hy die tempel heeltemal klaar gebou het.
Salomo kry goud uit die land Ofir
(Kyk ook 1 Kon 9:26-28)
17Daarna het Salomo na die stad Esjon-Geber en na die stad Elot gegaan. Dit was by die strand langs die see in die land Edom. 18Hiram het party van sy amptenare na Salomo toe gestuur en hulle het skepe gebring en mense wat die see ken. Hulle het saam met Salomo se mense na die land Ofir gegaan en hulle het 450 talente goud vir koning Salomo gebring.

Tans Gekies:

2 Kronieke 8: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid