SAGARIA 10

10
Die Here sal sy volk herstel
1Vra die Here
vir reën in die lente
en Hy sal dit gee.
Hy maak onweerswolke
wat stortreën laat val
sodat elke veld lowergroen word.
2Wat die huisgode sê,
is valse raad,
waarsêers
voorspel net leuens,
die uitlêers van drome
verkondig net leë troos.
My volk dwaal
soos verlore skape
sonder ’n herder
wat hulle beskerm en lei.
3“My woede brand
teen julle herders
en Ek sal hierdie leiers#10:3 Of voorbokke. straf.
Die Here, die Almagtige,
het aangekom
om sy kudde te versorg.
Hy gaan hulle sterk maak
soos ’n trotse oorlogsperd.
4Uit Juda sal die hoeksteen,
die tentpen, die oorlogsboog
en al die heersers kom.
5Hulle sal in ’n geveg
soos dapper soldate wees
wat hulle vyande
met hulle voete
in die modder sal vertrap.
Omdat die Here by hulle is
in die geveg
sal hulle die perderuiters
van die vyand oorwin.
6“Ek sal Juda sterk maak
en Israel#10:6 Grondteks die huis van Josef. red.
Ek sal hulle herstel
omdat Ek hulle liefhet.
Dit sal wees
asof Ek hulle nooit
verwerp het nie,
want Ek is die Here hulle God
wat hulle gebede verhoor.
7Israel#10:7 Grondteks Efraim. sal soos dapper helde wees,
hulle harte sal gelukkig wees
asof hulle wyn gedrink het.
Hulle kinders sal alles sien
en ook bly wees;
hulle harte sal juig in die Here.
8Wanneer Ek vir hulle fluit,
sal hulle aangehardloop kom
omdat Ek hulle verlos het.
Uit die min wat oorgebly het,
sal hulle bevolking groei
soos wat dit vroeër was.
9Hoewel Ek hulle verstrooi het
soos saad tussen die nasies,
sal hulle My bly onthou
in veraf lande.
Met hulle kinders
sal hulle oorleef
en weer terugkom huis toe,
na Israel toe.
10Ek sal hulle terugbring
uit Egipte en uit Assirië
en hulle hervestig in Gilead
en Libanon.
Daar sal nie genoeg plek
vir almal wees nie!
11Hulle sal veilig trek
deur die see van nood
omdat die golwe van die see
teruggehou sal word.
Die water van die Nylrivier
sal droog word.
Die trots van Assirië
sal vernietig word
en die heerskappy van Egipte
sal tot ’n einde kom.
12Ek sal my volk sterk maak
in my krag
en hulle sal in my Naam lewe,
sê die Here.”

Tans Gekies:

SAGARIA 10: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid