OPENBARING 21

21
Die nuwe hemel en die nuwe aarde
1Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien; want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan en die see het nie meer bestaan nie. 2Ek het ook die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerkom. Die nuwe Jerusalem was soos ’n bruid wat vir haar eggenoot mooigemaak is.
3Ek het toe ’n kragtige stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die tentwoning van God is nou onder die mense opgeslaan. Hy sal by hulle bly, en hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God. 4Hy sal elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie. Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie. Die ou dinge het verbygegaan.”
5Hy wat op die troon sit, het toe gesê: “Kyk, Ek maak alle dinge nuut.” En Hy sê verder: “Teken dit aan, want hierdie woorde is geloofwaardig en betroubaar.” 6Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Iemand wat dors het, sal Ek verniet laat drink uit die fontein met lewegewende water#21:6 Grondteks met die water van die lewe.. 7Die een wat aanhou oorwin, sal hierdie dinge erf, en Ek sal vir hom God wees en hy sal vir My ’n kind wees.
8“Maar vir die oneerlikes, onbetroubares, korruptes, moordenaars, persone wat seksuele sondes doen, towenaars, afgodsdienaars en al die leuenaars wag die poel wat met vuur en swael brand. Dit is die tweede dood.”
9Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke vashou wat vol was met die laaste sewe plae, nadergestaan en aan my gesê: “Kom, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.”
10Hy het my toe in die Gees#21:10 Of in die gees. na ’n groot en hoë berg geneem en die heilige stad Jerusalem, wat van God af uit die hemel afgekom het, aan my gewys. 11Die stad was gevul met die heerlikheid van God. Dit het gestraal, net soos ’n baie kosbare steen, soos ’n kristalhelder jaspis.
12Die stad het ook ’n groot en hoë muur gehad waarin twaalf poorte was. By die poorte is daar twaalf engele, met twaalf name op die poorte gegraveer; dit is die name van die twaalf stamme van Israel. 13Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie. 14Die stadsmuur het twaalf fondamentstene waarop die twaalf name van die twaalf apostels van die Lam geskryf staan.
15Die engel wat met my in gesprek was, het ’n goue liniaal vasgehou. Die doel was om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet. 16Die stad is vierkantig uitgelê, sy lengte dieselfde as sy breedte. Hy het toe die stad met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en ook die hoogte daarvan is dieselfde – 12 000 stadia#21:16 Meer as 2 200 kilometer.. 17Hy het ook die muur van die stad gemeet. Dit is 144 el#21:17a Ongeveer 65 meter. hoog#21:17b Of dik.. (Die engel het volgens ’n aardse maat gemeet.)
18Die boumateriaal van die muur is jaspis en dié van die stad self suiwer goud, so helder soos skoon glas.
19Die fondamentstene van die stadsmuur is met elke soort edelsteen versier: die eerste fondamentsteen met jaspis, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag, 20die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agtste met berilsteen, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint, en die twaalfde met ametis.
21Die twaalf poorte is van twaalf pêrels gemaak. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate van die stad is van suiwer goud, so helder soos deurskynende glas.
22Ek het nie ’n tempel in die stad gesien nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is sy tempel. 23Die stad het ook nie die son en die maan nodig om dit te verlig nie, want die heerlikheid van God het dit verlig, en die Lam is sy kandelaar. 24Die nasies sal in die stad se lig lewe en die konings van die aarde bring hulle glorie daarheen. 25Die poorte van die stad sal bedags nooit gesluit word nie, en daar sal nie meer nag wees nie.
26Die nasies sal hulle glorie en eerbetoon na die stad toe bring. 27Niks wat besoedel is en niemand wat gruwelik en vals optree, sal ooit hulle voete in die stad sit nie, slegs dié wat opgeskryf is in die Boekrol van die Lewe, dit is die Boekrol van die Lam.

Tans Gekies:

OPENBARING 21: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid