NEHEMIA 8

8
Esra lees die wetboek
1Die mense het toe almal op die plein voor die Waterpoort bymekaargekom. Hulle het die skrywer Esra gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here vir Israel was, te bring.
2Die priester Esra het die wetboek op 8 Oktober na die byeenkoms toe gebring. Daar was mans, vroue en kinders wat reeds kon verstaan, teenwoordig. 3Op die plein voor die Waterpoort het hy daaruit voorgelees vir almal wat kon verstaan. Hy het van vroeg die môre af tot die middag toe daaruit vir hulle voorgelees. Almal het baie aandagtig na die wetboek geluister. 4Esra het op ’n houtverhoog wat vir die geleentheid gemaak is, gestaan. Regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan. Links van hom was Pedaja, Misael, Malija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam. 5Al die mense kon Esra op die verhoog sien staan. Toe hulle sien dat hy die boek oopmaak, het almal opgestaan.
6Esra het die Here, die groot God geprys. Die mense het hierop “Amen! Amen!” gesê terwyl hulle hulle hande na die hemel toe uitstrek. Almal het voor die Here gekniel en met hulle gesigte laag teen die grond neergebuig.
7Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die gebooie uitgelê aan die mense wat daar gestaan het. 8Hulle het uit God se wetboek voorgelees en mooi verduidelik wat dit beteken. Hulle het seker gemaak die mense verstaan wat gelees is. 9Die mense het begin huil toe hulle hoor wat in die boek staan.
Toe het Nehemia, die priester en skrywer Esra en die Leviete wat die gebooie vir die mense verduidelik het, gesê: “Julle moenie treur of huil nie, vandag is ’n spesiale dag wat aan die Here, julle God, gewy is.”
10Hy het ook vir hulle gesê: “Gaan eet ’n lekker maaltyd en drink soet drankies. Deel ook van die kos met mense wat niks voorberei het nie. Hierdie is ’n dag wat aan ons God toegewy is. Moenie terneergedruk wees nie, want die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!”
11Die Leviete het die volk ook getroos en vir hulle gesê: “Wees stil! Moenie huil nie! Hierdie dag is spesiaal, dit is aan die Here toegewy.”
12Die mense het toe weggegaan om ’n feesmaal te eet en te drink en hulle kos met ander mense te deel. Hulle het goed verstaan wat voorgelees is. Dit het hulle baie bly gemaak.
Die Huttefees
13Op 9 Oktober het die familieleiers, die priesters en die Leviete by Esra bymekaargekom om die wetboek verder te bespreek. 14In hulle bestudering van die voorskrifte het hulle ontdek dat die Here deur Moses die Israeliete beveel het om gedurende die fees wat hulle in dié maand vier, in hutte te bly. 15Hy het gesê dat hulle in al die dorpe en veral in Jerusalem die volgende boodskap moet aankondig: “Gaan haal olyftakke, olienhouttakke, mirteboomtakke, palmtakke en vyeboomtakke in die heuwels. Maak hutte daarvan soos vir julle voorgeskryf is.”
16Die mense het toe uitgegaan en die takke gaan sny. Hulle het die takke gebruik om op die platdakke van hulle huise of in die binnehowe van hulle huise hutte te maak. Ander het hutte in die binneplein van die tempel gemaak of op die pleine by die Waterpoort en die Efraimspoort.
17Almal wat uit gevangenskap teruggekeer het, het vir die sewe dae van die fees in hierdie hutte gebly. Hulle het laas in die tyd van Josua die seun van Nun so feesgevier. Daar was groot blydskap onder hulle!
18Esra het elke dag, vir sewe dae lank, uit die Wetboek van God voorgelees. Sewe dae lank het hulle so feesgevier. Op 15 Oktober, die agtste dag van die fees, het hulle, soos voorgeskryf, ’n plegtige byeenkoms gehou.

Tans Gekies:

NEHEMIA 8: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid