NEHEMIA 1

1
1Hier is die gedenkskrif van Nehemia, die seun van Gakalja.
Nehemia se kommer oor Jerusalem
In die twintigste jaar van Artasasta se koningskap, in November, was ek by sy vestingstad Susan. 2Ganani, een van my broers, het my saam met ander persone uit Juda kom besoek. Ek het hulle uitgevra oor die Jode wat die ballingskap oorleef het en oor die omstandighede in Jerusalem.
3Hulle antwoord was: “Dit gaan nie goed met die mense wat uit die ballingskap teruggekeer het en daar oorgebly het nie. In die provinsie Juda is daar groot ellende en bespotting. Jerusalem se muur lê om en die stadspoorte is deur vuur vernietig.”
4Toe ek dit hoor, het ek gaan sit en huil. Vir dae aaneen het ek getreur, gevas en tot die God van die hemel gebid.
5Ek het gesê: “Here, God van die hemel, U is die groot en vreesaanjaende God. U hou by u verbondsbelofte. U is getrou in u liefde teenoor dié wat u gebooie liefhet en gehoorsaam. 6Hoor my gebed!
“Kyk, en U sal sien dat ek dag en nag vir die mense van Israel, u dienaars, intree in gebed. Ek bely dat ons teen U gesondig het. Selfs ook ek en my familie het sonde gedoen! 7Ons het verkeerd opgetree deur nie die opdragte, voorskrifte en bepalings wat U vir u kneg Moses beveel het, te gehoorsaam nie.
8“Hou tog in gedagte wat U vir u kneg Moses gesê het: ‘As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi. 9As julle egter na My toe terugkeer en my bevele gehoorsaam, sal Ek julle terugbring na die plek waar Ek verkies dat julle My moet aanbid, al is julle oor die uithoeke van die aarde versprei.’
10“Hulle is u diensknegte, u volk wat U deur u groot mag en oorweldigende krag verlos het. 11Here, hoor asseblief my gebed! Luister na ons gebede, ons wat U graag wil eer. Laat my tog vandag suksesvol wees wanneer ek die koning ’n groot guns vra. Laat hy my goedgesind wees.”
In dié stadium was ek die koning se wynkelner.

Tans Gekies:

NEHEMIA 1: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid