MARKUS 9

9
1Jesus gaan toe voort: “Ek verseker julle, party van julle wat nou hier staan, sal nog voor hulle dood sien hoe die koningsheerskappy van God op ’n magtige manier begin.”
Jesus word verheerlik
2Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes teen ’n hoë berg uit waar hulle heeltemal alleen was. En daar, terwyl hulle na Jesus gekyk het, het sy voorkoms verander. 3Sy klere het helder wit begin skitter – so wit soos geen aardse proses dit kan maak nie. 4Toe verskyn Elia en Moses en hulle het met Jesus gepraat. 5Petrus sê daarop vir Jesus: “Leermeester, dis wonderlik om hier te wees! Kom ons bou drie skuilings: vir U een, vir Moses een en een vir Elia.” 6Eintlik het hy nie geweet wat om te sê nie, want hulle het groot geskrik. 7Daarna het ’n wolk hulle oordek en ’n stem het uit die wolk gesê: “Hý is my Seun, die Een wat Ek liefhet. Doen wat Hy vir julle sê.” 8Skielik, toe hulle begin rondkyk, sien hulle niemand anders meer by hulle nie, net Jesus.
9Toe hulle van die berg af gaan, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het totdat Ek, die Seun van die Mens, uit die dood opgestaan het nie.” 10Hulle het dit toe vir hulleself gehou, maar hulle het onder mekaar bly redekawel oor wat hierdie “opstaan uit die dood” waarvan Jesus praat, beteken.
11Hulle het Hom toe uitgevra: “Waarom hou die skrifkenners vol dat Elia eers moet terugkeer voordat die Messias sal verskyn?”
12Jesus het geantwoord: “Elia kom inderdaad eers om alles weer in orde te kry. Hoe staan daar dan oor My, die Seun van die Mens, geskryf dat Ek baie moet ly en verneder moet word? 13Tog sê Ek vir julle, Elia het reeds gekom en hulle het met hom gemaak net wat hulle wou, presies soos daar van hom in die Skrif geskryf staan.”
’n Seun met ’n bose gees word genees
14Toe hulle weer by die ander dissipels terugkom, sien hulle ’n groot klomp mense om hulle en skrifkenners wat met hulle argumenteer.
15Net toe al die baie mense Jesus sien, het hulle Hom verras tegemoet gehardloop en begroet. 16Hy vra die skrifkenners toe: “Waaroor stry julle met my dissipels?”
17Iemand uit die skare het Hom geantwoord: “Leermeester, ek het my kind na U toe gebring omdat hy ’n bose gees het wat hom stom maak. 18Elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom teen die grond; hy kry skuim om sy mond en hy kners op sy tande; en hy word stokstyf. Ek het vir u dissipels gevra om die gees uit te dryf, maar hulle kon dit nie regkry nie.”
19Jesus sê toe vir hulle: “Julle ongelowige mense! Hoe lank moet Ek nog by julle wees voordat julle glo? Hoe lank moet Ek dit nog uithou met julle? Bring die kind hier.”
20Hulle bring hom toe vir Jesus. Toe die gees Jesus sien, het hy die seun dadelik stuiptrekkings laat kry, en hy het op die grond neergeval en rondgerol met skuim om sy mond. 21Jesus vra toe vir die pa: “Hoe lank gebeur dit nou al met hom?”
“Van kleins af,” was sy antwoord. 22“Die gees het hom al baie keer probeer doodmaak deur hom in die vuur of in die water te laat val. Kry ons tog jammer en help ons as U kan!”
23“As Ek kan, sê jy,” het Jesus hom geantwoord. “As ’n mens glo, is álles moontlik!”
24“Ek glo!” roep die kind se pa dadelik uit. “Help my tog om nie meer te twyfel nie!”
25Toe Jesus sien dat daar ’n massa mense aangehardloop kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Gees, jy wat hierdie kind stom en doof maak, Ek beveel jou, gaan uit hom uit en moet nooit weer terugkom nie.”
26Die gees het toe geskree en die kind hewige stuiptrekkings laat kry voordat hy uit hom uitgegaan het. Die kind het daar vir dood bly lê sodat baie mense gesê het: “Hy ís dood!” 27Jesus het hom egter aan die hand gevat om hom op te help, en hy het opgestaan.
28Later, toe Jesus in die huis was, het sy dissipels Hom persoonlik kom vra: “Waarom kon ons nie daardie onrein gees uitdryf nie?”
29Waarop Hy hulle geantwoord het: “Hierdie soort kan net deur gebed#9:29 Heelwat manuskripte het ook nog en vas. uitgedryf word.”
Jesus kondig weer sy komende dood aan
30Hulle het toe daarvandaan vertrek en deur Galilea gereis. Jesus wou dit egter nie rugbaar laat word nie, 31want Hy wou tyd hê om sy dissipels te onderrig. Sy woorde aan hulle was: “Die Seun van die Mens#9:31 Jesus verwys hiermee na Homself. gaan aan die mag van mense oorgegee word. Hulle sal Hom doodmaak, maar ná drie dae sal Hy opstaan.” 32Hulle het dit nie verstaan nie, maar was te bang om Hom daaroor uit te vra.
Wie die belangrikste in God se koninkryk is
33Hulle het toe in Kapernaum aangekom. In die huis waar hulle sou oorbly, vra Hy sy dissipels: “Waaroor het julle op pad geredeneer?” 34Hulle bly toe stil, want hulle het mekaar langs die pad aangevat oor wie van hulle die belangrikste is. 35Daarop gaan sit Jesus en roep die twaalf na Hom toe. Toe sê Hy vir hulle: “As jy die vernaamste wil wees, moet jy agter almal inval en almal se dienaar wees.”
36Toe laat Hy ’n kindjie tussen hulle staan en slaan sy arms om hom met die woorde: 37“As jy een van hierdie kindertjies in my Naam verwelkom, verwelkom jy vir My. En as jy My verwelkom, verwelkom jy nie net vir My nie; jy verwelkom ook my Vader wat My gestuur het.”
Wie nie teen ons is nie, is vir ons
38Johannes sê toe vir Hom: “Leermeester, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om bose geeste uit te dryf, maar ons het hom probeer keer, want hy is nie een van ons groep nie.”
39“Moenie hom keer nie,” het Jesus gesê, “want niemand wat wonders doen in my Naam sal van My kan kwaadpraat nie.
40“Wie nie teen ons is nie, is vir ons. 41Ek verseker julle, as enigiemand vir julle ’n beker water gee omdat julle van die Messias se mense is, sal God hom beslis daarvoor beloon.”
Waarskuwing teen struikelblokke
42“Maar as enigiemand een van hierdie kleintjies wat in My glo, in sy geloof laat struikel, sal dit vir daardie persoon beter wees om in die see gegooi te word met ’n swaar meulsteen vasgemaak om sy nek. 43En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is vir jou beter om met een hand te lewe as om met twee hande en al in die hel te beland waar die vuur nooit geblus word nie.#9:43 Sommige manuskripte het ook nog ’n vers 44, identies met 9:48. 45En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is vir jou beter om met net een voet te lewe as om met twee voete en al in die hel te beland.#9:45 Sommige manuskripte het ook nog ’n vers 46, identies met 9:48. 47En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is vir jou beter om met een oog in God se koninkryk in te gaan, as om met twee oë en al in die hel te beland 48waar die wurm nooit doodgaan nie en die vuur nooit geblus word nie.#9:48 Jes 66:24.
49“Beproewing sal die soutkarakter van julle lewe versterk.#9:49 Grondteks Elkeen sal met vuur gesout word. Sommige manuskripte het ook nog en elke offer sal met sout gesout word. 50Sout doen goeie werk. Maar as dit sy krag verloor het, hoe sal jy dit weer sout kan maak? Julle lewe moet soutkwaliteit hê, en julle moet in vrede saam met mekaar lewe.”

Tans Gekies:

MARKUS 9: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid