LUKAS 24:13-35

LUKAS 24:13-35 NLV

En kyk, op dieselfde dag was twee uit hulle geledere op pad na ’n dorpie met die naam Emmaus, elf kilometer vanaf Jerusalem. Hulle was druk in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle nog so loop en gesels en dinge probeer ontrafel, het Jesus self nadergekom en saam met hulle verder geloop. Hulle oë is egter verhinder om Hom te herken. Hy sê toe vir hulle: “Oor watter sake loop julle só ernstig en redeneer?” Met somber gesigte het hulle gaan stilstaan. Een van hulle wat Kleopas genoem word, antwoord Jesus toe: “U is seker die enigste buitelander in Jerusalem wat nie kennis dra van al die dinge wat gedurende hierdie dae in die stad gebeur het nie.” Jesus reageer en vra hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Dié dinge wat gaan oor Jesus van Nasaret. Hy was ’n profeet, kragtig in woord en daad voor God en die hele volk. Maar die priesterhoofde en ons volksleiers het Hom uitgelewer om tot die dood veroordeel en gekruisig te word. Ons het bly hoop dat dit Hy is wat Israel gaan verlos. Maar dit is ook al vandag die derde dag vandat al hierdie dinge gebeur het. Sommige vroue uit ons geledere het ons nog boonop heeltemal verwar. Hulle was vanoggend baie vroeg by die graf, maar kon nie sy liggaam daar kry nie. Hulle het kom berig dat hulle ’n visioen van engele gesien het wat gesê het dat Hy lewe. Sommige van ons het na die graf toe gegaan en dit net so aangetref soos die vroue vertel het. Maar vir Hóm het hulle nie gesien nie.” Toe sê Jesus vir hulle: “O, hoe sonder begrip en traag van hart is julle om alles wat die profete gesê het, te glo! Moes die Messias nie hierdie dinge ly om sy heerlikheid in te gaan nie?” Hierna het Jesus begin om vanaf Moses en al die profete al die Skrifgedeeltes wat oor Hom handel, vir hulle te interpreteer. Toe hulle naderkom aan die dorpie waarheen hulle op pad was, het Jesus voorgegee dat Hy verder wil reis. Maar hulle het by Hom aangedring: “Bly by ons oor. Die son trek al water en die dag is verby.” Toe het Jesus by hulle ingedraai om saam met hulle oor te bly. Terwyl hulle saam met Hom aan tafel was, het Jesus brood geneem, gedank, dit gebreek en aan hulle gegee. Toe het hulle oë oopgegaan en hulle het Hom herken. Daarop het Hy voor hulle oë verdwyn. Hulle sê toe vir mekaar: “Was ons harte nie vuur en vlam in ons toe Hy met ons op pad gepraat en die Skrif vir ons geïnterpreteer het nie?” Hulle het daar en dan opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan en die elf aangetref en die ander saam met hulle, wat die nuus vertel: “Die Here is regtig opgewek, en Hy het aan Simon verskyn!” Toe vertel hulle wat op pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breek van die brood.

Gratis leesplanne en oordenkings oor LUKAS 24:13-35

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid