LEVITIKUS 10:1-7

LEVITIKUS 10:1-7 NLV

Aäron se seuns Nadab en Abihu het gloeiende kole in hulle vuurpanne gesit en wierook daaroor gesprinkel. Op dié manier was hulle ongehoorsaam aan die HERE omdat hulle ’n ander soort vuur voor Hom gebrand het as wat die HERE beveel het. Vuur het van die HERE afgekom en hulle verbrand en hulle is daar voor die HERE dood. Moses sê toe vir Aäron: “Dit is wat die HERE bedoel het toe Hy gesê het: Wie tot My nader, moet besef Ek is heilig. Ek word geëer voor die hele volk.” Aäron het net stilgebly. Moses het toe vir Misael en Elisafan, twee neefs van Aäron, die seuns van Aäron se oom Ussiël, geroep en gesê: “Kom en dra die liggame van julle familielede weg van die heiligdom na ’n plek buite die kamp.” Hulle het na vore gekom en hulle in hulle priesterklere weggedra na ’n plek buite die kamp soos Moses beveel het. Moses sê toe vir Aäron en sy seuns Eleasar en Itamar: “Moenie rou deur julle hare los te laat hang of deur julle klere te skeur nie. As julle dit doen, sal julle sterf en sal die HERE kwaad word vir die hele gemeenskap van Israel. Die res van die Israeliete, julle familielede, mag egter rou oor Nadab en Abihu wat die HERE met vuur verteer het. Maar julle mag glad nie die ingang van die tent van ontmoeting verlaat nie. Julle sal met die dood gestraf word as julle dit doen, want die HERE se salfolie is op julle.” Hulle het gemaak soos Moses gesê het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid