JEREMIA 50

50
’n Boodskap oor Babel
1Die Here het vir die profeet Jeremia ’n boodskap oor Babel en die land van die Babiloniërs gegee:
2Die Here sê:
“Vertel vir die nasies,
maak dit oral bekend.
Hys ’n vlag
sodat almal dit kan sien.
Moet niks wegsteek nie!
Sê: Babel is ingeneem!
Bel is verneder, Marduk is verslae.
Hulle beelde kom in die skande,
hulle afgode is verwoes.
3’n Volk kom uit die noorde
en val die land aan.
Hulle verwoes die land van Babel,
sodat niemand meer daar
woon nie.
Al wat mens en dier is,
het weggevlug.”
Hoop vir Israel en Juda
4Die Here sê:
“In dié tyd sal die mense
van Israel en Juda
weer bymekaarkom.
Hulle sal loop en huil
terwyl hulle na
die Here hulle God soek.
5Hulle sal vra
hoe om by Jerusalem te kom
en dan begin om terug te gaan
huis toe.
Hulle sal hulleself
aan die Here verbind
met ’n ewige verbond
wat hulle nooit sal vergeet nie.
6“My volk
is verdwaalde skape.
Hulle herders het hulle
in ’n verkeerde koers gelei
en agtergelaat
om in die berge
rond te dwaal.
Hulle dwaal rond
van heuwel tot heuwel,
sonder om te onthou
waar hulle rusplek is.
7Almal met wie hulle
paaie gekruis het,
het hulle verslind.
Hulle vyande het gesê:
‘Ons is nie skuldig nie,
want dit is hulle
wat teen die Here sondig,
die Here,
hulle ware rusplek
en die hoop van hulle voorouers.’
8“Vlug weg uit Babel!
Gee pad uit die land
van die Babiloniërs!
Wees julle die voorbokke
wat die koers aandui
vir die trop.
9Want Ek sal uit ’n land
in die noorde
’n klomp nasies se gesamentlike mag
op die been bring.
Ek sal hulle teen Babel
laat optrek
en die stad
van die buitewêreld afsny.
Hulle sal die stad oorneem.
Hulle is soos vaardige
vegters
wat hulle wapens goed gebruik.
Hulle mis nie ’n teiken nie!
10Die aanvallers
sal die Babiloniërs beroof
totdat hulle tevrede voel
dat hulle genoeg gevat het,”
sê die Here.
Babel se ondergang is seker
11“Julle het my mense besteel,
hulle wat Ek vir My
uitgesoek het.
Julle is vrolik en bly daaroor.
Julle spring rond
soos ’n verskalf
wat koring uittrap,
en soos perde wat runnik.
12Maar julle eie land sal
verneder word en
in die skande kom.
Sy sal die geringste onder
al die volke wees,
’n dorre en verlate woestyn.
13Die Here sal sy woede
op Babel uithaal.
Dit sal ’n plek wees
sonder inwoners,
’n algehele woesteny.
Verbygangers sal geskok wees
en fluit van verbasing
oor Babel se toestand.
14“Boogskutters,
omsingel Babel.
Maak julle reg om aan te val!
Moet nie julle pyle spaar nie!
Want die mense van Babel
het teen die Here gesondig.
15Skreeu op hulle
van alle kante.
Babel het oorgegee!
Die mure van die stad
het omgeval.
Die Here wreek Hom op Babel.
Doen aan hulle
soos hulle aan ander mense
gedoen het.
16Neem die boere weg
uit Babel,
ook hulle wat die lande afoes.
As die gevegte aan die gang is,
moet mense
na hulle eie volke terugkeer.
Elkeen moet
na hulle land vlug.”
Hoop vir die Here se volk
17“Die mense van Israel
is soos skape
wat deur leeus
uitmekaargejaag word.
Eers het die koning van Assirië
hulle opgevreet,
en nou het koning Nebukadnesar
van Babel
hulle bene skoongevreet.”
18Die Here, die Almagtige, die God
van Israel, sê:
“Ek gaan die koning van Babel
en sy land nou straf
net soos Ek
die koning van Assirië gestraf het.
19Ek sal die mense van Israel
na hulle eie weivelde
terugbring.
Hulle sal weer wei
op die velde van Karmel
en Basan.
Die heuwelgebiede
van Efraim en Gilead
sal vir hulle genoeg gee
om van te lewe.
20In daardie tyd,”
sê die Here,
“sal mense verniet soek
na Israel en Juda
se oortredings;
hulle sal niks vind nie.
Die mense
wie se lewens Ek gespaar het,
sal Ek vergewe.”
Straf vir Babel
21Die Here sê:
“Trek op teen die land
Meratajim
en teen die inwoners van Pekod.
Agtervolg hulle,
maak hulle dood
en wis hulle heeltemal uit.
Doen alles wat Ek julle
beveel het.
22Oorlogskrete klink op
in die land,
die geraas
van groot verwoesting!
23Hoe sal die nasies skrik
as hulle Babel se toestand sien!
Die hamer wat mense
verpletter het,
lê stukkend geslaan en gebreek!
24Ek het vir jou ’n strik gestel,
Babel.
Jy het daarin getrap
sonder dat jy eers geweet het.
Jy is gevang
omdat jy teen My,
die Here,
in opstand was.
25Die Here het die stoorplek
van sy wapens oopgemaak.
Hy het die wapens van sy woede
uitgehaal.
Die oppermagtige Here,
die Almagtige,
het werk wat Hy in die land
van die Babiloniërs#50:25 Grondteks Galdeërs. wil doen.
26Val hulle van veraf lande aan.
Breek die skure oop.
Stapel hulle op
soos ’n hoop graan.
Vernietig hulle heeltemal.
Laat niks oorbly nie!
27Vat die bulle
na die slagplek toe,
maak hulle almal dood.
’n Slegte tyd breek aan,
’n tyd van straf.
28Luister na die mense
wat uit Babel ontsnap het.
Hulle vertel in Jerusalem
hoe die Here ons God
wraak geneem het
op die mense
wat sy tempel vernietig het.
29“Roep jou boogskutters op
teen Babel.
Laat hulle die stad omsingel
sodat niemand
kan ontsnap nie.
Doen aan die Babiloniërs
wat hulle aan ander mense
en lande gedoen het.
Hulle het die Here,
die Heilige van Israel,
se gesag uitgedaag.
30Die jongmense sal neerval
op die pleine en sterf,
al die Babiloniese soldate
sal daardie dag sterf,”
sê die Here.
31Die oppermagtige Here,
die Almagtige, sê:
“Julle is arrogant.
Daarom word Ek nou julle vyand.
Die tyd het gekom
dat Ek julle gaan straf.
32Verwaande land,
julle sal struikel en val.
En niemand sal julle help
om weer op te staan nie.
Ek sal julle dorpe
aan die brand steek.
Alles wat naby hierdie vuur is,
sal afbrand.”
33Die Here, die Almagtige, sê:
“Die mense van Israel en Juda
is onderdruk.
Die vyand wat hulle gevang het,
weier om hulle vry te laat.
34Maar daar ís Iemand
wat hulle loskoop om vry te kom.
Dit is die Here, die Almagtige.
Hy sal vir hulle intree
en rus bring in die land,
maar onrus
vir die inwoners van Babel.
35“Trek die swaard uit teen
die Babiloniërs.
Tref die inwoners van Babel,
die leiers en wyses daarmee,”
sê die Here.
36“Die swaard
tref die waarsêers
sodat hulle verdwaas staan.
En die swaard tref sy soldate
sodat hulle vreesbevange is.
37As die geweld
die perde, die strydwaens
en huursoldate tref,
sal hulle so swak soos vroue word.
As geweld die skatkis tref,
sal hulle geplunder word.
38Dit tref ook hulle watervoorrade
wat sal opdroog.
Hoekom?
Want die hele land is vol afgode,
en die mense is dol oor hulle.
39Wilde woestyndiere, hiënas
en volstruise
sal Babel hulle blyplek maak.
Mense sal nooit weer
daar bly nie,
ook nie toekomstige geslagte nie.
40Ek sal Babel verwoes
soos Ek Sodom en Gomorra
en die naburige dorpe
destyds vernietig het.
Niemand sal meer daar bly nie,”
sê die Here.
41“Kyk, ’n groot leër uit die noorde
is op pad!
’n Groot nasie en baie konings
uit veraf dele van die aarde
trek teen julle op.
42Hulle is met boog en spies
gewapen.
Hulle is baie wreed
en toon geen genade nie.
Hulle ry op perde
en klink soos die see
wat dreun.
Hulle marsjeer in formasie,
reg om julle aan te val,
mense van Babel#50:42 Grondteks dogter van Babilon.!
43Berigte oor hulle het
die koning van Babel bereik.
Dit het hom
lam van vrees gemaak.
Angs en pyn het hom beetgepak,
soos ’n vrou in kraam.
44Ek sal soos ’n leeu
uit die digte bosse
by die Jordaan kom
en skape bespring
wat besig is om te wei.
Ek sal die mense van Babel
uit hulle land jaag.
Daarna sal Ek ’n leier kies
wat Ek daar sal aanstel.
Wie kan met My vergelyk word?
Wie kan My uitdaag?
Watter koning sal waag
om teen My
in opstand te kom?”
45Luister na die Here se plan
met Babel
en die land van die Babiloniërs.
Selfs klein kindertjies
sal uit hulle land weggevat word.
Hulle huise sal leeg staan.
46Die geluid van Babel se val
sal die aarde laat bewe.
Al die volke van die wêreld
sal hulle wanhoopskrete hoor.

Tans Gekies:

JEREMIA 50: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid