JEREMIA 3

3
1Die Here vra:
“As ’n man van sy vrou skei
en sy trou met ’n ander man,
mag hy haar dan weer terugvat?
Sal dit nie die land
besoedel nie?
Israel, jy het by baie minnaars
geslaap.
Tog roep Ek jou;
wil jy nou terugkom na My toe?”
sê die Here.
2“Kyk ’n bietjie om jou
na die heuwels.
Is daar enige plek
waar jy nie losbandig
was nie?
Jy sit langs die pad soos ’n prostituut
en wag vir ’n minnaar.
Jy sit soos ’n swerwer
in die woestyn.
Jy het die land besmet
met jou ontrou en boosheid!
3Dit is hoekom dit nie
in die lente gereën het nie.
Jy is net so uitdagend soos
’n prostituut.
Jy skaam jou nie eers
oor wat jy gedoen het nie.
4En nou skielik sê jy vir My:
‘U is my Vader,
my Vriend van kleins af.
5U sal sekerlik nie vir altyd
kwaad wees
oor so ’n klein dingetjie nie?’
Dit is die soort praatjies
wat julle maak,
maar julle hou net aan
om verkeerd te doen.”
Juda volg Israel se voorbeeld
6In die tyd toe Josia koning was, het die Here vir my gesê: “Het jy gesien wat Israel gedoen het? Soos ’n sedelose vrou het Israel op elke hoogte en onder elke groen boom ander gode aanbid. 7Ek het gedink dat as Israel klaar rondgeloop het, sy weer na My toe sou terugkom, maar dit het nie gebeur nie.
“Israel se ontroue suster Juda het alles sien gebeur. 8Sy het gesien dat Ek vir Israel, wat so ontrou was, geskei het. Maar dit het Juda nie banggemaak nie. Israel het soos ’n onsedelike vrou ander gode begin dien. 9Sy was ongeërg oor haar onsedelikheid. Sy het die land met haar owerspel besmet, want sy het afgode van hout en klip gedien. 10Maar ten spyte van alles het die ontroue suster Juda net halfhartig na My toe teruggekom. Sy het gemaak of sy jammer is,” sê die Here.
Hoop vir Israel
11Toe sê die Here vir my: “Selfs die ontroue Israel is minder skuldig as die verraderlike Juda! 12Gaan maar uit, kyk in die rigting van Israel en roep uit:
“O, Israel, sê die Here,
julle was ontrou,
maar kom terug na My toe.
Ek sal nie vir altyd kwaad bly nie,
want Ek is genadig,
sê die Here.
13Erken net dat julle skuldig is.
Erken dat julle teen
die Here julle God
in opstand gekom het.
Julle was ontrou aan Hom
deur onder elke groen boom
afgode te aanbid.
Bely dat julle My
nie gehoorsaam het nie,
sê die Here!
14“Kom terug na My toe, ontroue kinders, want Ek is julle man. Ek sal hier een uit ’n stad en daar twee uit ’n familie vat en na Sion toe terugbring. 15Dan sal Ek vir julle nuwe leiers gee volgens my keuse. Hulle sal julle met kennis en insig lei.”
16Die Here sê: “Wanneer daar weer baie mense in die land is, sal hulle nie meer oor die verbondsark van die Here praat nie. Trouens, dit sal nie eers in hulle gedagtes opkom nie. Hulle sal dit nie eers onthou of mis nie, wat nog te sê ’n nuwe een maak! 17In dié tyd sal Jerusalem bekend staan as die troon van die Here. Al die nasies sal hierheen kom om eer aan die Here te bring. Hulle sal nie langer soos domastrante mense slegte dinge doen nie. 18In hierdie tyd sal die mense van Juda en Israel by mekaar aansluit. Hulle sal saam uit die noorde terugkom na die land wat die Here vir hulle voorouers as erfenis gegee het.
19“Ek het by Myself gedink:
‘Ek sou julle graag
soos my eie kinders
wou behandel!
En Ek sou graag hierdie mooi
land vir julle wou gee.
Nie een van die nasies
se grondgebied
is naastenby so mooi nie.’
Ek het gedink julle sou
My ‘Vader’ noem
en nooit weer julle rug
op My draai nie.
20Maar Israel
het soos ’n ontroue vrou
wat haar man verlaat,
My verraai,”
sê die Here.
21“Op die heuweltoppe hoor
’n mens uitroepe.
Dit is die gehuil en gesoebat
van Israel se mense.
Hulle het afgedwaal
en van die Here hulle God
vergeet.”
22Die Here sê:
“Ontroue kinders,
kom terug na My toe.
Ek sal julle van julle ontrouheid
genees.”
Hulle het geantwoord:
“Ja, ons wil terugkom,
want U is die Here ons God!
23Ons aanbidding van gode
op die heuwels
is heeltemal vals.
Dit is net die Here ons God
wat Israel kan red.
24Van ons kinderjare af
het ons die skande gesien,
hoe alles verteer word
waarvoor ons voorouers
gewerk het:
hulle beeste, skape
en selfs ook hulle kinders.
25Van skaamte sink ons weg
in die aarde,
oordek met skande.
Ons en ons voorouers
het oor die jare heen
teen die Here ons God
gesondig.
Ons was van jongs af
nie gehoorsaam
aan die Here ons God nie.”

Tans Gekies:

JEREMIA 3: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid