JEREMIA 24

24
Twee mandjies met vye
1Koning Jojagin van Juda was die seun van Jojakim. Koning Nebukadnesar van Babel het hom in ballingskap weggevoer. Hy het saam met Jojagin ook die leiers van Juda, die ambagsmense en ander opgeleide persone uit Jerusalem na Babel toe gebring. Nadat dit gebeur het, het die Here my ’n visioen laat sien van twee mandjies met vye wat voor die tempel van die Here staan. 2In een van die mandjies was daar vars, ryp vye. Die vye in die ander mandjie was sleg, so sleg dat geen mens dit kon eet nie.
3Die Here het toe vir my gevra: “Wat sien jy, Jeremia?”
Ek het geantwoord: “Ek sien vye. Sommige van die vye is baie goed terwyl ander so sleg is dat ’n mens dit nie kan eet nie.”
4Die Here het toe vir my hierdie boodskap gegee:
5“Die Here, die God van Israel sê: Die goeie vye verteenwoordig die ballinge wat Ek uit Juda na die land van die Babiloniërs#24:5 Grondteks die land van die Galdeërs; dit is Babilonië. gestuur het. 6Ek sal ’n oog oor hulle hou en kyk dat dit met hulle goed gaan. Ek sal hulle weer na hierdie land toe laat terugkom. Ek sal hulle herstel en nie weer afbreek nie. Ek sal hulle nie ontwortel nie, maar hulle plant. 7Ek sal hulle ’n ingesteldheid gee om My weer as die Here te ag. Hulle sal weer soos my eie mense wees en Ek sal hulle God wees. Hulle sal My weer heelhartig dien.
8“Soos die slegte vye wat so sleg is dat niemand dit kan eet nie,” sê die Here, “só is koning Sedekia van Juda en sy leiers, die res van die mense van Jerusalem wat in die land agtergebly het en dié wat in Egipte woon. Ek behandel hulle soos vye wat te vrot is om te eet. 9Ek sal hulle ’n verskrikking en ’n onheil maak vir al die volke van die wêreld. In al die lande waarheen Ek hulle sal versprei, sal mense hulle verag en met hulle spot. Hulle sal grappe oor hulle maak en sê: So lyk mense wat vervloek is.
10“Ek sal sorg dat geweld, hongersnood en pes hulle tref. Dit sal aanhou totdat daar niemand oor is in die land wat Ek aan hulle en hulle voorouers gegee het nie.”

Tans Gekies:

JEREMIA 24: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid