JESAJA 6

6
Jesaja se reiniging en roeping
1In die jaar wat koning Ussia dood is, het ek die Here gesien. Sy troon was hoog en verhewe, en die soom van sy kleed het die tempel gevul. 2Rondom Hom was serafs, elkeen met ses vlerke. Met twee het hulle hulle gesig toegemaak, met twee hulle voete bedek en met twee het hulle gevlieg. 3Hulle het mekaar toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid!” 4Die fondamente het geskud van die geluid, en die tempel was vol rook.
5Ek het hard geroep: “Ellende het my getref! Want ek is ’n sondige mens, tussen ander sondige mense. En tog het ek die Koning, die Here, die Almagtige, gesien!”
6Toe het een van die serafs na die altaar toe gevlieg en ’n gloeiende kool met ’n tang opgetel. 7Hy het my lippe daarmee aangeraak en gesê: “Kyk, hierdie kool het jou lippe aangeraak. Nou is jou skuld weg en jou sondes vergewe.”
8Toe het ek die Here hoor vra:
“Wie kan Ek met ’n boodskap
na my volk toe stuur?
Wie sal vir Ons gaan?”
Ek het geantwoord:
Here, ek sal gaan!
Stuur my!”
9Hy het gesê: “Ja, gaan.
Sê vir hierdie mense só:
“‘Julle sal my woorde hoor,
maar dit nie verstaan nie.
Julle sal sien wat Ek doen,
maar nie die betekenis
daarvan snap nie.’
10Verhard hierdie volk se harte.
Maak hulle ore toe
en hulle oë blind.
Andersins sien hulle dalk
en hoor hulle,
en verstaan hulle,
en draai dan na My toe
en word hulle gesond gemaak.”
11Toe vra ek:
“Here, hoe lank moet ek dit doen?”
Hy het geantwoord:
“Totdat hulle stede
heeltemal verwoes is
en niemand meer
daarin bly nie.
Totdat hulle huise leeg staan
en die hele land
’n ruïne geword het.
12Moenie ophou totdat die Here
elkeen na ver lande
weggejaag het
en die hele land Israel
woestynagtig geword het nie.
13Al bly daar net ’n tiende deel oor,
sal die land weer verwoes word.
“Israel sal agterbly
soos die stomp
van ’n terpentynboom
of ’n eikeboom wat afgekap is.
Maar die stomp sal uitloop
en heilige saad word
wat weer groei.”

Tans Gekies:

JESAJA 6: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid