GENESIS 1:24-31

GENESIS 1:24-31 NLV

God het weer beveel: “Laat die aarde allerlei soorte diere oplewer: mak diere, diere wat kruip en wilde diere – almal na eie aard.” Dit het presies so gebeur. So het God allerlei soorte wilde diere gemaak, mak diere en diere wat op die grond kruip. God het gesien dit was goed. God sê toe: “Laat Ons ’n mens maak wat met Ons ooreenstem om te heers oor die visse in die see, oor die voëls in die lug, oor die mak diere, oor die wilde diere, en oor alles wat op die aarde kruip.” God het die mens in ooreenstemming met Homself geskep; volgens sy eie beeld het God hulle geskep; manlik en vroulik het Hy hulle geskep. God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Onderwerp die aarde en heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en oor al die diere op die aarde.” Verder sê God: “Let op, Ek het aan julle al die plante wat saad dra, gegee en al die bome wat vrugte en saad gee. Dit is vir julle om van te eet. Maar die groen gras en plante gee Ek aan al die diere op die aarde, die voëls in die lug en die klein diertjies wat op die aarde kruip.” Dit het so gebeur. God het na sy handewerk gekyk en dit was baie goed. Dit alles het God op die sesde dag gemaak.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid