ESEGIËL 5

5
’n Teken van die oordeel wat op pad is
1“Mensekind, vat ’n skerp swaard en gebruik dit as ’n skeermes om jou hare en jou baard af te skeer. Gebruik dan ’n skaal om jou hare in gelyke dele te verdeel.
2“Wanneer die beleëringsdae verby is, verbrand ’n derde daarvan in die middel van jou kaart van Jerusalem. Gooi nog ’n derde daarvan rondom die stad en kap dit stukkend met ’n swaard. Gooi die laaste derde in die wind, want Ek sal my volk met die swaard verstrooi. 3Hou net ’n bietjie van die hare en knoop dit vas in jou klere. 4Vat dan ’n bietjie van dié hare en gooi dit in die vuur en verbrand dit. Dan sal ’n vuur daarvandaan uitgaan en die hele Israel vernietig.
5“So sê die oppermagtige Here: Hierdie is ’n demonstrasie van wat met Jerusalem gaan gebeur. Ek het haar in die middel van die nasies geplaas. 6Maar sy het in opstand teen my bepalings gekom en was boser as die nasies in die omgewing.#5:6 Grondteks Sy het my oordele in boosheid verander, meer as die nasies. Sy het geweier om die wette te gehoorsaam wat Ek vir haar gegee het.
7“Dis wat die oppermagtige Here sê: Omdat jy geweier het om die wette en bepalings te gehoorsaam en slegter opgetree het as jou bure, 8het Ek, die oppermagtige Here, nou self jou vyand geword. Ek sal jou in die openbaar straf terwyl al die nasies toekyk. 9Oor al die afskuwelike dinge wat jy gedoen het, sal Ek met jou doen wat Ek nog nooit gedoen het nie, en wat Ek ook nooit weer sal doen nie. 10Ouers sal hulle eie kinders eet, en kinders sal hulle ouers eet. En Ek sal julle straf deur die enkeles wat oorleef tot by die uithoeke van die aarde te verstrooi.
11“So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, sal Ek jou volledig afsny. Ek sal jou nie jammer kry nie omdat jy my tempel verontreinig het met walglikhede en afskuwelikhede. 12’n Derde van jou volk sal in die stad van hongersnood en siekte omkom. ’n Derde sal deur die vyand buite die stadsmure doodgemaak word. En ’n derde sal Ek in die wind verstrooi en hulle met my swaard agtervolg. 13Dan sal my woede afgekoel wees, en Ek sal tevrede wees. En wanneer my woede teen hulle bedaar het, sal die hele Israel weet dat Ek, die Here, met hulle in my jaloerse ywer gepraat het.
14“En so verander Ek jou in ’n puinhoop, en die omringende nasies en elkeen wat verbygaan, sal met jou spot. 15Hulle sal jou spot en jou uitlag en beledig. Jy sal ’n waarskuwing en afskrikmiddel wees vir die volke rondom jou. Hulle sal sien wat gebeur wanneer die Here teen ’n volk draai as Hy kwaad is.
“Dit is Ek, die Here, wat praat!
16“Ek sal dodelike pyle van hongersnood op julle afskiet om julle te vernietig. Die hongersnood sal al erger word totdat elke krummeltjie kos op is. 17Saam met die hongersnood sal wilde diere julle aanval en julle van julle kinders beroof. Siekte en oorlog sal deur julle land woed, en Ek sal die vyand se swaard teen julle bring. Dit is Ek, die Here, wat praat!”

Tans Gekies:

ESEGIËL 5: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid