ESEGIËL 19

19
’n Begrafnislied vir Israel se konings
1“Sing hierdie begrafnislied oor die leiers van Israel:
2“‘Wat is jou ma?
’n Leeuwyfie tussen leeus!
Sy lê tussen die jong leeus
en maak haar welpies groot.
3Sy het een van haar welpies
as ’n sterk jong leeu
laat grootword.
Hy het geleer
om prooi te vang.
Toe het hy mense begin vang.
4Die nasies het van hom gehoor.
Hulle het hom
in ’n vanggat gevang.
En hulle het hom in kettings
na Egipte weggelei.
5“‘Toe die leeuwyfie sien
dat al haar hoop vir hom
vernietig is,
het sy ’n ander welpie gevat
en hom ’n sterk jong leeu
gemaak.
6Hy het tussen die leeus
rondgeloop
en ’n sterk leeu geword.
Hy het geleer om prooi te vang
en ook ’n mensvreter geword.
7Hy het vestings van nasies
vernietig#19:7 So in die Griekse weergawe. Grondteks Hy het hulle weduwees gegryp.
en hulle dorpe verwoes.
Die land en almal daarin
was verskrik
wanneer hulle hom hoor brul.
8Toe het die leërs van die nasies
hom aangeval
en van alle kante omsingel.
Hulle het hulle vangnette
uitgegooi
en hom in hulle vanggat
vasgekeer.
9Hulle het hom met kettings
in ’n hok
voor die koning van Babel
gebring.
Hulle het hom gevange gehou
sodat sy stem nie meer
op Israel se berge
gehoor word nie.
10“‘Jou ma
was soos ’n wingerdstok
wat langs die water geplant is.
Dit het druiwe en ranke gehad
omdat daar baie water was.
11Haar takke was sterk,
sterk genoeg vir septers
van konings.
Dit het hoog uitgetoring
bo almal.
Dit het uitgestaan
omdat dit hoog was
en ’n groot klomp welige takke
gehad het.
12Maar dit is in woede
ontwortel
en teen die grond
neergegooi.
Die woestynwind
het dit laat opdroog
en die vrugte gestroop.
Die takke is afgeruk
en deur vuur verbrand.
13Nou is die wingerdstok
in die woestyn geplant
waar die grond hard en droog is.
14’n Vuur het uit sy takke gekom
en die vrugte verbrand.
Van die oorblywende takke
is nie een sterk genoeg
vir ’n koninklike septer nie.’
“Dit is ’n begrafnislied.
Dit is nou tyd
vir die begrafnis.”

Tans Gekies:

ESEGIËL 19: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid