DEUTERONOMIUM 23

23
Mense wat uitgesluit is uit die byeenkomste
1“’n Man wie se geslagsorgane vermink is of wat ontman is, mag nie deel wees van die vergadering van die Here nie. 2Dié wat uit ’n ontoelaatbare verhouding gebore is, asook hulle nageslag tot in die tiende generasie, mag nie ingesluit word in die vergadering van die Here nie.
3“Geen Ammoniet of Moabiet of enige van hulle nageslag tot in die tiende generasie mag ingesluit word in die vergadering van die Here nie. 4Hierdie nasies het jou nie met kos en water verwelkom toe jy uit Egipte gekom het nie. Inteendeel, hulle het probeer om vir Bileam, die seun van Beor van Petor in Aram-Naharajim, te huur om jou te vervloek. 5Die Here jou God het nie na Bileam geluister nie. Hy het die vloek in ’n seën verander omdat die Here jou God jou liefhet. 6Jy mag nooit, vir so lank as wat jy leef, op enige manier die Ammoniete of die Moabiete help nie.
7“Moenie die Edomiete of die Egiptenaars verag nie. Die Edomiete is familie van jou en jy het as vreemdeling onder die Egiptenaars gewoon. 8Die derde geslag Egiptenaars mag ingesluit word in die vergadering van die Here.”
Verskillende reëls
9“As jy gaan oorlog maak teen jou vyande, bly weg van enigiets wat onrein is.
10“’n Man wat seremonieel onrein word as gevolg van ’n nagtelike uitskeiding, moet die kamp verlaat en die hele dag wegbly. 11Teen die aand moet hy homself was en teen sononder mag hy weer na die kamp toe terugkeer.
12“Merk ’n gebied aan die buitekant van die kamp af as ’n toilet. 13Elkeen van julle moet ’n graaf as deel van julle toerusting hê. Wanneer jy ontlas, grawe ’n gat met die graaf en maak jou ontlasting toe met grond. 14Die kamp moet heilig wees, want die Here jou God is daar saam met jou in die kamp om jou te beskerm en om jou vyande te verslaan. Hy mag niks skandeliks onder julle sien nie sodat Hy nie van julle wegdraai nie.
15“As slawe dit regkry om van hulle eienaars te ontsnap en hulle kom soek skuiling by jou, mag jy hulle nie uitlewer aan hulle eienaars nie. 16Laat hulle tussen julle leef in watter dorp hulle ook al kies en moet hulle nie onderdruk nie.
17“Geen Israelitiese man of vrou mag ooit ’n tempelprostituut word nie. 18Jy mag geen offer uit die inkomste van ’n manlike of vroulike prostituut na die huis van die Here jou God toe bring nie, want die Here verag albei.
19“Moenie rente hef op lenings wat jy aan ’n mede-Israeliet maak nie, of dit nou geld, kos of wat ook al is waarvoor daar teen rente geleen mag word. 20Jy mag rente hef van vreemdelinge, maar nie van mede-Israeliete nie sodat die Here jou God jou mag seën in die land wat jy nou gaan binnetrek en in besit gaan neem.
21“As jy ’n gelofte teenoor die Here jou God maak, moenie uitstel om na te kom wat jy Hom belowe het nie. Die Here jou God vereis dat jy jou geloftes sal nakom. As jy dit nie doen nie, is jy skuldig aan sonde. 22Maar om jou te weerhou van ’n gelofte, is geen sonde nie. 23As jy egter vrywillig ’n gelofte gemaak het, wees versigtig en kom dit na, want dit is ’n gelofte wat jy aan die Here jou God gemaak het.
24“Jy mag genoeg druiwe eet wanneer jy in jou naaste se wingerd kom, maar moenie iets in ’n mandjie wegvat nie. 25Jy mag ook ’n paar are van jou naaste se koring met die hand pluk, maar jy mag dit nie met ’n sekel oes nie.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid