DEUTERONOMIUM 20

20
Reëls in verband met oorlog
1“Wanneer jy uittrek om teen jou vyande te gaan veg en jy sien hulle perde en strydwaens en ’n leër groter as joune, moet jy nie bang wees nie. Die Here jou God wat jou uit Egipte laat optrek het, is by jou! 2Voordat jy ’n geveg begin, moet ’n priester kom om met die troepe te praat. 3Hy sal sê: ‘Luister na my, manskappe van Israel! Moenie bang wees as julle vandag uittrek om te gaan veg nie! Moenie bang of verskrik wees nie, 4want die Here julle God gaan saam met julle! Hy sal vir julle teen julle vyande veg en Hy sal aan julle die oorwinning gee!’
5“Dan sal die offisiere van die leër die troepe toespreek en sê: ‘Het iemand pas ’n nuwe huis gebou, maar nog nie ingetrek nie? Jy kan dalk omkom in die geveg en dan moet iemand anders in jou huis bly. 6Het iemand ’n wingerd geplant en nog nie van die vrugte daarvan geëet nie? In so ’n geval, gaan huis toe! Jy kan dalk omkom in die geveg en dan is daar iemand anders wat jou druiwe gaan eet! 7Het iemand pas verloof geraak? Gaan huis toe en gaan trou! Jy kan dalk in die geveg omkom en dan is daar iemand anders wat met jou verloofde trou.’ 8Dan sal die offisiere ook vra: ‘Is daar een van julle wat bang is? As dit so is, gaan dan huis toe voordat jy ook ander bang maak.’
9“Wanneer die offisiere klaar met die troepe gepraat het, sal hulle die name van die eenheidsbevelvoerders aankondig.
10“As jy ’n stad nader om dit aan te val, maak eers ’n vredesaanbod. 11As hulle jou vredesvoorwaardes aanvaar en die poorte vir jou oopmaak, sal al die mense van die stad jou in dwangarbeid dien. 12As hulle weier om die vredesaanbod te aanvaar en hulleself vir ’n geveg regmaak, moet jy die stad aanval. 13As die Here jou God dit in jou hand gee, moet jy elke man in die stad doodmaak. 14Die vroue, kinders, diere en ander buit mag jy vir jouself hou. Die buit van jou vyande wat die Here jou God vir jou gee, mag jy geniet. 15Hierdie bepalings geld net vir die stede wat ver van jou af is en nie vir die stede van jou bure nie.
16“Wat betref die stede van die nasies wat die Here jou God vir jou as ’n erfenis gee: Jy moet alles wat daarin lewe, doodmaak. 17Jy moet die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en die Jebusiete heeltemal uitroei soos wat die Here jou God jou beveel het. 18Dit sal verhoed dat hulle julle leer om al die afskuwelike gode te maak wat hulle vir hulleself as gode gemaak het, en so teen die Here julle God sondig.
19“Wanneer julle ’n stad vir ’n lang tyd beleër, moenie die bome afkap nie. Eet die vrugte daarvan, maar moenie die bome afkap nie. Die bome is mos nie die vyand wat jy moet aanval nie! 20Jy mag egter bome afkap wat jy weet nie vir kos gebruik kan word nie. Gebruik dit om daarvan toerusting te maak wat jy nodig het om die stad te beleër totdat dit in jou hande val.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid