AMOS 9

9
’n Visioen van die Here by die altaar
1Ek het die Here langs die altaar sien staan. Hy het gesê:
“Slaan die bopunte van die pilare
so hard
dat die fondamente skud.
Laat die dak van die gebou
neertuimel
op die mense onder.
Die mense wat bly leef,
sal Ek in ’n geveg laat sterf.
Nie een sal kan ontvlug nie!
2Selfs al sou hulle grawe
tot diep in die doderyk,
Ek sal hulle daar uithaal.
Al klim hulle op na die hemel,
Ek sal hulle van daar af bring.
3Al kruip hulle weg
op die kruin van Karmelberg,
Ek sal hulle daar gaan haal
en laat afkom.
Selfs al kruip hulle weg
op die bodem van die see,
Ek sal die seeslang stuur
om hulle te byt.
4Al voer hulle vyande hulle weg
as gevangenes,
Ek sal hulle met ’n swaard
laat sterf.
My ingesteldheid teenoor hulle
is sleg,
nie goed nie.”
5Die Here is die Here,
die Almagtige.
As Hy aan die aarde raak,
smelt dit weg.
Dit laat al die bewoners
op die aarde treur.
Soos die Nyl in Egipte
in vloedtyd
styg alles op en sak weer terug.
6Die Here bou sy bovertrekke
in die hemel
en lê die fondament van die
hemelkoepel
op die aarde.
Hy roep die waters uit die see
en giet die reën oor die aarde.
Sy Naam is: “Die Here!”
7Is julle wat Israeliete is
nie maar net soos die Kussiete nie?
vra die Here.
Het Ek nie vir Israel
uit Egipte laat trek,
maar ook die Filistyne uit Kaftor
en die Arameërs uit Kir nie?
8“Ek, die oppermagtige Here,
hou die sondige koninkryk dop.”
Hy sê:
“Ek sal hulle verwyder
van hulle grond.
Tog sal Ek nie
die nageslag van Jakob
heeltemal uitwis nie.
9Kyk, Ek het beveel dat Israel
rondgeskud moet word
tussen al die nasies
soos koring in ’n sif.
Maar nie een korrel
sal op die grond val nie.
10Al die sondaars van my volk
sal omkom deur die swaard,
hulle wat sê:
‘Rampe sal ons nie inhaal nie.
Niks slegs
sal met ons gebeur nie.’”
’n Belofte van herstel
11“As dié dag aanbreek,
sal Ek
die vervalle huis van Dawid
weer herstel.
Ek sal die stukkende mure
weer opbou,
al lyk dit nou
soos ’n vervalle huis.
Ek sal dit herstel
sodat dit lyk soos voorheen.
12Israel sal heers
oor wat oorgebly het
van Edom.
Hulle sal ook heers
oor al die nasies
wat my Naam dra.”
Dit, sê die Here, sal Hy doen!
13Verder sê Hy:
“’n Dag sal kom
wanneer die graan en die druiwe
vinniger sal groei
as wat hulle kan oes.
Die sap sal afdrup
van die wingerde
teen die berghange,
dit sal teen die skuinstes afvloei.
14Ek sal my volk Israel
uit ballingskap
laat terugkom.
Hulle sal die verwoeste dorpe
weer opbou en bewoon.
Hulle sal wingerde plant
en die wyn daarvan drink.
Hulle sal boorde aanplant
en die vrugte daarvan eet.”
15Die Here hulle God sê:
“Ek sal hulle
in hulle land hervestig.
Ek sal nooit weer toelaat
dat iemand hulle wegneem
uit die land
wat Ek vir hulle
gegee het nie.”

Tans Gekies:

AMOS 9: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid