2 SAMUEL 24

24
Dawid laat die volk tel
1Die woede van die Here het weer teen Israel ontvlam. Hy het Dawid beïnvloed. “Gaan tel die Israeliete en die Judeërs,” het die Here vir hom gesê.
2Die koning sê toe vir Joab, bevelvoerder van die leër: “Gaan deur die hele land, van Dan in die noorde tot Berseba in die suide, en tel die volk. Ek wil weet hoeveel mense daar is.”
3Maar Joab het die koning geantwoord: “Mag die Here u God in u leeftyd nog die volk honderd maal meer maak as nou! Maar watter bevrediging kan dit u verskaf?”
4Die koning het egter Joab en sy offisiere verplig. Hulle het toe gegaan om die volk Israel te gaan tel. 5Hulle het deur die Jordaanrivier gegaan en begin#24:5 Volgens die Griekse vertaling. Grondteks kamp opgeslaan. by Aroër suid van die dorp by die droë waterloop. Daarvandaan is hulle na Gad en Jaeser toe. 6Hulle het Gilead deurgegaan tot by die land anderkant Kades#24:6 Grondteks Tagtim-Godsi. en Dan, en daarvandaan verby Sidon. 7Daarna het hulle by die vesting van Tirus en al die stede van die Hewiete en Kanaäniete langs gekom. Toe het hulle na die suide van Juda, so ver as Berseba, gegaan.
8Hulle het die hele land deurkruis en hulle opdrag na nege maande en twintig dae voltooi en na Jerusalem toe teruggekeer. 9Joab het aan die koning verslag gedoen oor die sensus. Daar was 800 000 manne van weerbare ouderdom in Israel en 500 000 in Juda.
Die straf op Dawid se oortreding
10Nadat Dawid die sensusopname laat maak het, het sy gewete hom begin pla. Hy bely toe teenoor die Here:
“Ek het swaar gesondig
met wat ek gedoen het.
Vergeef tog my oortreding,
Here,
want ek het ’n baie dwase ding
gedoen.”
11Die volgende oggend, nadat Dawid opgestaan het, het die profeet Gad, die siener van Dawid, na hom toe gekom. Die woord van die Here het na Gad gekom. Dit het gesê: 12“Gaan sê vir Dawid: ‘Dit is wat die Here sê: Ek gee jou drie keuses. Kies een van die volgende strawwe en Ek sal dit laat gebeur.’”
13Gad het toe na Dawid toe gegaan en gevra: “Wat sal jy verkies? Drie#24:13 Volgens die Griekse vertaling en 1 Kron 21:12. Grondteks Sewe jaar. jaar hongersnood in jou land, drie maande vlug voor jou vyande uit terwyl hulle jou agtervolg, of drie dae pes in jou land? Dink hieroor en laat my weet wat om die Here te antwoord.”
14“Ek is in ’n hoek gedryf!” sê Dawid vir Gad. “Laat ek#24:14 Grondteks ons. liewer in die hande van die Here val, want sy genade is groot. Moenie dat ek in die hande van mense val nie.”
15Die Here stuur toe daardie oggend ’n pes oor Israel wat tot op die bestemde tyd geduur het. Oor die hele land, van Dan in die noorde tot Berseba in die suide, het 70 000 mense gesterf. 16Die engel was op die punt om Jerusalem te verwoes, maar die Here het besluit om nie verder te gaan nie. Hy sê vir die engel wat die verwoesting gebring het: “Hou op! Dit is genoeg!” Op daardie oomblik was die engel van die Here by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.
17Toe Dawid die engel sien wat die mense tref, sê hy vir die Here: “Ek is die een wat gesondig het. Dis ek wat oortree het. Maar hierdie arme mense is onskuldig. Wat het hulle gedoen? Laat u hand eerder teen my en my familie wees!”
Dawid bou ’n altaar
18Nog daardie dag kom Gad na Dawid toe en sê vir hom: “Gaan bou ’n altaar vir die Here op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.”
19Dawid het gedoen soos die Here deur Gad beveel het. 20Toe Arauna sien dat die koning en sy amptenare na hom toe kom, het hy hom tegemoetgegaan en diep voor die koning gebuig. 21“Hoekom kom my heer na sy dienaar toe?” vra Arauna.
Dawid het geantwoord: “Ek het gekom om jou dorsvloer te koop om daar ’n altaar vir die Here te bou sodat die Here die plaag kan stop.”
22“Vat dit gerus vir u, my heer die koning. Offer daar wat u wil,” sê Arauna vir Dawid. “Hier is ook osse vir die brandoffer. Die dorsslee en jukke kan u gebruik as brandhout. 23Ek, Arauna, gee dit alles vir die koning. Mag die Here u God u offer aanvaar.”
24Maar die koning het geantwoord: “Nee, Arauna, ek dring daarop aan om dit te koop teen die volle prys. Ek kan nie vir die Here my God brandoffers aanbied wat my niks kos nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die osse vir omtrent 600 gram silwer#24:24 Grondteks 50 sikkels silwer. gekoop. 25Dawid het daar ’n altaar opgerig tot eer van die Here en brandoffers en maaltydoffers gebring. Daarna het die Here die gebede vir die land verhoor, en die plaag in Israel het opgehou.

Tans Gekies:

2 SAMUEL 24: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid