2 SAMUEL 11

11
Dawid maak Batseba swanger
1Die volgende lente, die tyd waarin die konings gewoonlik gaan veg, het Dawid vir Joab en sy manskappe, asook die hele leër van Israel gestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba gaan beleër. Dawid het in Jerusalem agtergebly.
2Een namiddag, nadat hy gerus het, het Dawid opgestaan en op die dak van die paleis rondgeloop. Van die dak af sien hy ’n besonder mooi vrou wat besig was om te bad. 3Hy stuur toe iemand om uit te vind wie sy is. “Dis Batseba, die dogter van Eliam en vrou van Urija die Hetiet,” verneem hy. 4Dawid het haar laat haal. Sy het so pas die reinigingsrituele na haar maandstonde voltooi. Sy het na die paleis toe gekom en hy het by haar geslaap. Daarna het sy teruggegaan na haar huis toe. 5Toe sy later agterkom dat sy verwag, stuur sy vir Dawid ’n boodskap: “Ek is swanger.”
6Dawid het vir Joab laat weet: “Stuur Urija die Hetiet na my toe.” Joab het so gemaak. 7Toe Urija by Dawid kom, vra hy hoe dit met Joab en die leër gaan en hoe die oorlog verloop. 8Toe sê hy vir Urija: “Gaan gerus huis toe en rus ’n bietjie.” Dawid het selfs ’n geskenk agter Urija aan gestuur nadat hy die paleis verlaat het. 9Maar Urija wou nie huis toe gaan nie. Hy het die nag by die ingang van die paleis geslaap by die slawe van die koning.
10Dawid het gehoor dat Urija nie huis toe gegaan het nie. Hy vra toe vir Urija: “Wat is verkeerd met jou? Hoekom het jy nie laas nag huis toe gegaan nadat jy so lank weg was nie?”
11Urija antwoord: “Die ark en die leër van Israel en Juda oornag in tente, en Joab en u manskappe kampeer in die oop veld. Hoe kan ek dan huis toe gaan om te eet en te drink en by my vrou te slaap? So waar as u leef, ek sal nie so iets doen nie.”
12“Bly vannag nog hier,” sê Dawid vir hom. “Môre stuur ek jou terug.” Urija het toe daardie dag en die volgende dag in Jerusalem gebly. 13Dawid nooi hom toe om saam met hom te kom eet en drink. Hy het hom dronk gemaak, maar selfs toe het hy nog nie huis toe gegaan nie, maar weer by die ingang van die paleis by die koning se slawe geslaap.
Dawid reël Urija se dood
14Die volgende oggend skryf Dawid ’n brief aan Joab en stuur dit saam met Urija. 15Die brief het gelui: “Plaas Urija op die voorpunt waar die geveg op sy hewigste is. Val dan terug sodat hy kan sneuwel.” 16Joab was besig om die stad te beleër. Hy het vir Urija op ’n plek gesit waar hy geweet het die stryd is fel. 17Die verdedigers het uitgekom om teen Joab te veg. Verskeie van Dawid se soldate het gesneuwel, ook Urija die Hetiet.
18Joab het ’n verslag van die geveg na Dawid toe gestuur. 19Hy sê vir die boodskapper: “Lewer verslag oor die geveg aan die koning. 20As hy kwaad word en vra: ‘Hoekom het julle so naby aan die stad gekom? Weet julle nie dat daar van die mure af op julle geskiet sal word nie? 21Wie het Abimelek seun van Jerubbeset doodgemaak? Is dit dan nie ’n vrou wat bo van die muur af ’n maalklip op hom gegooi het sodat hy by Tebes gesterf het nie? Hoekom het julle so naby aan die muur gekom?’ Dan moet jy vir hom sê: ‘Urija die Hetiet het ook gesneuwel.’”
22Die boodskapper het toe volledig aan Dawid verslag gedoen. 23“Die vyand het sterk weerstand gebied en teen ons in die oop veld uitgetrek,” sê hy. “Ons het hulle egter tot by die stadspoort teruggedryf. 24Toe het die boogskutters van die muur af op ons begin skiet. Sommige van u soldate is getref, ook Urija die Hetiet is dood.”
25Dawid antwoord: “Sê vir Joab: ‘Moenie jou hieroor ontstel nie. Die swaard tref nou een, dan ’n ander. Veg net nog harder en verower die stad!’ So moet jy hom bemoedig.”
26Toe Batseba hoor dat haar man dood is, het sy oor hom gerou. 27Toe die routyd verby was, het Dawid haar na sy paleis toe laat haal en sy het een van Dawid se vroue geword. Sy het geboorte gegee aan ’n seuntjie. Maar die Here was baie ontevrede met dit wat Dawid gedoen het.

Tans Gekies:

2 SAMUEL 11: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid